Bokomo-brekfisbrief; 06/06/2010: Malan

  • 0

Jy praat van kroeë leeg drink Webvoet, en toe wonder ek, nie dat ek weet van nie, maar bloot omdat ek al gesien het wat in kroeë kan gebeur. Nie dat ek veel gesien het nie, bygesê.

So het elke kroeg mos maar sy eie legendes. En het legendes hul eie kroeë. Hier naby my is sommer al twee in een. Mens kry mos kroeë en dan kry jy die Ladies' bars. Dis nog toe daar onderskeid was. Ladies bars was mos plekke wat sulke lae beligting gehad het. Dowwe ligte met sagte rusbanke waar die mammies in gemak kon sit en bitch oor die manne wat al dronker raak by die toonbanke en gereeld beduie: "Ons is amper klaar, gee net kans!" Destyds kon die klogoete selfs nog op 'n streep op die volvloermatte aan die slaap raak om later aangehelp te word kar toe. Nou is dinge anders. Dalk beter so, ek wetie.

Dan het jy ook jou "harde bars" gekry waar net sekere vrouens en dapper manne dit gewaag het en waar die harde manne hulle so onderlangs aangekyk het en iets onderlangs gebrom het. Regop stoele en harde melamien vloere. Dartboard iewers teen die muur en langsaan 'n pooltafel of twee. Net een toilet met deure wat oopstaan en jy sommer op die krip kan kyk. Nie dat ordentlike dames ooit dit sou waag om hier in te kom nie, want waar gaan hulle dan nou sit?

En so sit ons een aand in ... en Nita gooi maar as jy jou vinger lig. Ekke bloot op uitnodiging daar, hehehe. Langs my sit 'n ou kroeglegende. Oom Malan. Harde donner met harde hande. Hande so groot soos hamme. Die manne beduie dat hy in sy jong dae vele kroeë op sy alleenselwers leeggemaak het. Met einste twee hande. Ek onthou hy het aan 'n Chesterfield gesuig toe die mannetjie met die klein skouertjies en sagte hande en groot hairdo vir hom kom vra het vir 'n twee rand om te las vir 'n dop. En jy weet mos maar hoe dinge gaan in so 'n kroeg: Almal is jou pel solank daar nie politiek of godsdiens gepraat word nie. En so gee oom Malan vir Pietie met die gejelde hare die twee rand.

En Pietie met die Jelhare verdwyn langsaan.

Later, dit kon 'n uur wees of korter, ek wetie, maar later kom Pietie met die klein skouers en blink hare weer hier teen Oom Malan skuur vir 'n tweerand.

Malan het die kleingeld voor hom so stadig bekyk en toe ek sy oog vang toe sien ek hier kom sommer groot bollie vanaand en ek sal dalk moet help bontstaan. Malan het omgedraai en die klong vierkant in die oe gekyk (wel, Malan kyk jou nooit anders nie):

"Jou klein bliksem, ek gee vir jou geld vir 'n dop en jy loop dobbel my geld waarvoor ek so hard werk uit op 'n donnerse tafel?"

Ek lieg nie as ek vir jou sê dat die volgende wat ek gesien het die blinkhaar was wat so half skeef gele het teen die oorkantste muur nie. Oom Malan was toe al klaar sterk op pad na die beter jare maar ek vermoed dat die verband tussen spoed en krag en ouderdom inderdaad nog vasgestel moet word. Daai blinkhaar mannetjie is uitgedra en ek weet tot vandag toe nie wat van hom geword het nie.

Ek sien soms vir Oom Malan op sy wye stoep met sy Stuyvesant (dis ligter as Chesterfield aldus hom) met lang oe kyk doer na die kroeg se rigting. Ek wonder wat deur sy kop gaan.

Die nuwe generasie verstaan nie die praatjies om so 'n toonbank nie. Sodra die musiek hard speel en die dop trek soek hulle vrouens of altans, so beduie hulle. Of dalk het die ou nou bloot kalm geraak so in sy laaste tye.

Annerdag sit ek rustig my 50/50 (dubbel Spiced Gold en dubbel Malibu met daai swart koeldrank) en sluk ver van ... af toe ek hoor hoe die manne praat van die ou wat soveel kroeë eiehandig leeggemaak het. Hulle praat van hierdie oom met die groot hanne wat nie baie geklap het nie. Ek kon maar net glimlag.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top