Bokomo-brekfisbrief; 06/05/2010: Skoolnurses

  • 0

Kyk, vir iemand wat nooit lief was vir skool nie (te veel aangejaag en logies daarna te veel pak gekry - my heel laaste dag op skool het Bal my ses gegee. Weeeel, ek het dalk gesoek daarvoor) is daardie besoeke een van die goete wat ek verpes het. Ek kon nog verstaan dat hulle hier op laerskooldae mens wil bekyk van bo tot onder, maar later begin mens mos dinge ontwikkel waar 'n nurse mos eintlik net veronderstel is om te kyk as jy nie lekker by is nie. Soos in die hospitaal as jy in 'n koma of iets lê.

Siek wees het nie gehelp nie want in daardie tou moes jy een of ander tyd loop staan kom wat wil. Ek onthou die laaste so 'n episode was in ons bib. Tussen die boekrakke moes ons ontklee tot in jou onderbroek en dan geduldig in die tou loop staan. Die spesifieke twee nurses was 'n ouerige dame en so 'n jong (ek kan sweer sy het nog geleer) meisie. Die keel en ore en dergelike plekke se bekyk kon nog afgaan, maar was dit nou regtig nodig dat sy jou broek so afgetrek het en jou gevra het om te hoes?

Ek meen, dis mos nou nie nodig dat mens daar oop koejawel vir die hele wêreld moes staan nie? Of dalk was dit, ek wetie. Ek het baie gewonder wat die twee nurses of die departement nou met hul inligting wou maak? Selfs die army se ondersoeke kon nog gaan al was die betrokke mediese beampte ook 'n nie te onaardige dame nie. Maar dis tog anders, want mens is al deur 'n paar dinge en het al iets of wat geleer.

Ek onthou soos gister hoe ons na ons ondersoek in die bib op 'n hoop moes loop sit (in ons onderbroeke) sodat die nurse met ons kon praat. En hier haak M af sommer so met die sitslag: "Ekskuus Suster, mag ek 'n paar vrae vra?" Waarop sy bevestigend geantwoord het.

"Suster, is D...trek sonde en kan mens iets oorkom van te veel?"

Klasjuffrou (waarom sy moes bysit kan ek tot vandag toe nie verstaan nie) het haarself in 'n hoesbui verskoon uit die vertrek en mooi nursie het ongemaklik rondgeskuif. Ek kan sweer sy het gebloos, maar ek kan my misgis. Suster het koel en kalm geantwoord: "Nee, jong man, dit is nie sonde nie en wat bedoel jy met 'te veel?'. Morné het rondgekyk vir aanmoediging by jong manne wat kop onderstebo gesit het.

Suster het seker sy penarie en vae poging ingesien en toe vervolg: "Ek sal nie aanbeveel dat jy dit oordoen nie, hou maar matigheid voor oë." Sy het rustig en kalm voortgegaan om goete te beduie maar ek het laaaankal nie meer opgelet nie. Sy het later vir hom probeer vra na die ander dinge waaroor hy wonder maar hy het weggeraak tussen die boekrakke.

M het vir lank daarna nog onregverdiglik bekend gestaan as die ou wat, wel iets anders verkies het bo jy weet wat.

En van daardie dag af het ek 'n geweldige respek vir susters gehad.

Groete uit Oesterland,

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top