Sommige van julle sal seker onthou van Beleefd. Dis nou my tuinier. Die een wat deur die Tante platgewetter was.
Beleefd is soos die aanhef van die tien gebooie. Hy saai waar hy nie gemaai het nie. Hy is jaloers en ken nie sy mate nie. Jy sê vir hom maak so en hy maak anders. Wat jy haaks wil hê maak hy skeef. En wat jy in hobbels wil maak hy glad. Net hy ken sy kop.
Sy enkele onderskeidende vaardigheid is dat hy nie luister nie. Maar met die dat ek nie belangstel om die geruigte wat ander ’n tuin noem, te bewerk nie, moet ek hom verduur. Hy glo hy is my maatjie.
My buurman is vreeslik gesteld op sy grassies op die sypaadjie. Hy wil te vertelle dat sekere honde op sy gras kak. Hy gaan hulle iets vreesliks aandoen. Met die voel ek effens onrustig want die bulhonde kak waar hulle wil en hulle ken ook nie hulle mate nie.
Sy tuinier is iewers heen. So vra hy my of hy vir Beleefd kan “leen”. Hy sal hom betaal. (Gmf.)
“Ja. As jy hom aan’t werke kan kry.” Myse buurman reken hy weet hoe om met “hulle” te werk.
Ek vra vir Beleefd of hy sal omgee. Hy reken hy sal omgee want die bliksem betaal min. “Nee” sê ek, “ek sal opmaak”. Maar help tog die man. Ter wille van buurmanskap.
Ek: “Beleefd, en tel tog die honnekak op daar op die sypaadjie. En sny sommer die buurman se kante mooi gelyk.”
Beleefd: “Dis daai buurman van jou se kante!”
Ek: “Ja ek weet maar die honde ... ”
Beleefd: “Ek maak nie sy honnekak bymekaar nie. Ek is ’n gardener!”
En so duisel die gesprek voort en hy mergel ’n ekstra twintig rand uit my uit. Net om die honnekak op te tel. Ek besef eers later my honde nie kan uit nie en dus ... aag wat ...
So laatmiddag inspekteer ek sy vordering. Die honnekak lê nog hopies rond die rante is nog ongesny. En Beleefd is nergens te sien nie.
Met die dat ek daar op die sypaadjie rondstaan stoom my buurman nader.
Buurman: “Ek het laat arresteer!”
Ek: “Dis nou Beleefd. Jy het hom laat arresteer.”
Buurman: “Ja. En mag hy in die tronk vrot!”
Nou, julle sal reken dat ek my op die plek moet vererg want die man oortree nou met een van my manne. Maar ek ken vir Beleefd en weet dat hy die neiging het om die wille moorddadigheid in mense wakker te maak. Ek behou dus my kalmte en vra wat Beleefd aangevang het.
Buurman: “Hy het my randsnyer gesteel en gaan verkwansel! Ek het die Polisie gebel en hulle het hom kom haal. Hulle sê hulle ken die bliksem!”
Die stasie is net so ’n straat of wat van my af en ek suiker oor. Ek verneem na Beleefd. Hulle het te vertelle dat hy in die selle is. Sal daar bly tot sy verhoor of tensy daar iets anders gebeur. Hulle ken glo die emmer.
Ek: “Iets anders kan gebeur?”
Konstabel: “Ja.”
Ek: “Soos wat iets anders?”
Konstabel: “Hy kan ’n skulderkenning betaal of daai buurman van jou kan die saak terugtrek.”
Ek: “Wat kos ’n skulderkenning?”
Konstabel: “Tweehonderd Rand.”
Ek: “Magtag!”
Konstabel: “Ja.”
Om ’n ellelange gestryerasie kort te knip. Ek betaal die “skulderkenning” en terwyl Beleefd en ek terugry vra ek hom wat hom besiel het om die buurman se randsnyer te gaan staan en verkwansel.
Beleefd: “Die “cutter” is gefok”. (Skuus Webvoet, maar dis binne konteks?)
Ek: “Maar hoekom verkoop? Magtag.”
Beleefd: “Dis nie sy “cutter” nie. Dis joune. Jy het dit voor laaste maand vir hom geleen. Die ding is stukkend en ek het gedog ons kan ’n nuwe ene koop. Ek het genoeg vir die ‘deposit’ gekry.”
Ek keer omtrent die Landy om.
Ek: Buurman!”
Buurman: “Ja HJ?”
Ek: “Daai randsnyer.”
Buurman: “Ek sien jy het vir my ’n nuwe ene gekoop. Ek sou daai wetter in die tronk laat bly het!”
Ek: “Dis myne. Jy het daai ou ene by my geleen. Onthou jy?! Jy skuld my driehonderd rand.” (Ek reken so ’n honderd by vir moeite.)
Ek sien my buurman skrik hom uit sy plakkies uit.
Buurman: “HJ, ag sorrie man. Kan ek vir jou ’n dop gooi?”
Ek: “Ja. Solank jy betaal en Beleefd drink saam.”
Beleefd staan eenkant en lag ’n papbek lag. Bliksem!
HJ


