Bokomo-brekfisbrief; 06/04/09: Ouderdom

  • 0

 

 

'n Mens is so oud soos die dametjie wat jy bevoel, het iemand eendag gesê.

Arthur is my hande. Hy is die ene wat presies weet waar ek nie my tang of hamer of grinder gebere het nie. "Waar is die nuwe bar wat ons eergister vir die 038 gekoop het?"

"Hy was bo-op die saag."

"Nee, ek willie weet waar hy was nie, ek wil weet waar hy nou is." En Arthur is die ene wat die goed opspoor wat iewers ongeërg neergesit is. 'n Klein mannetjie met 'n baie groot hart. Die ene wat weggehardloop het toe ons vir Mavenster moes uitdra. Hulle vertel my later dat hy nie vir sy aanneempa so wou sien nie. Hy verseg steeds om in die huis te kom.

Erg hardhorend as jy hom roep as die kliënte rusteloos rondstaan vir hul bestelling. En tog kan jy soms baie sag praat en hy antwoord jou van ver af: "Ek hoor wat julle se!" Dis die ouderdom, sien. Want die ouderdom maak mens selektief doof. Nie dat Oubaas Apie so oud is nie. Hy hou hom net oud.

Al die jare 'n oujongkêrel gewees. Nooit erg gehad aan vrouegeselskap nie. Nee, hy het glad nie belang gestel nie. Punt. Sure, hy het al wat 'n rok dra so van 'n kant af bekyk en stilweg die hof gemaak. Ek vermoed egter hulle was meer agter sy uintjies aan as agter hom, want hy is nooit sonder rookgoed nie.

Tot die groot liefde hom tref: 'n Ander man se vrou. Wel, die "ander" man sit in Buffeljags vir twee moorde, so ek dink Arthur sal vir nog ʼn paar jaar lekker kan vry. Vra ek hom die annerdag: "Arthur, hoe gaan julle maak as daardie klong uitkom? Hy gaan nie baie tevrede wees om te sien jy het nou sy vrou nie, en veral nie as hy sien julle het reeds huis opgesit nie. Jy sien die man is nie bang om ʼn mes uit te pluk nie."

"Ons sal maar sien wat kom as hy eendag uitkom".

'n Mens kry baie soorte van liefdes, en ek dink die twee wat absoluut uitstaan, is die eerste liefde en die liefde op 'n hoër ouderdom. Arthur het nou albei, so hy't die skoot redelik hoog deur. Babs verduidelik annerdag hoe dit werk as 'n ouer man die dag daardie ding eers agtergekom het: Hy maak op vir verlore jare.

J het gister verjaar, en Dinsdag kom Arthur so half onderlangs vertel dat hy nie die volgende dag sal opdaag nie. 'n Mens maak mos maar asof jy baie dom is as jy sien iemand is effens skamerig oor die rede.

"Nee, jy sien, ek het haar mos nou, en ek wil dorp toe om vir haar 'n paar mooi goedjies te gaan koop. 'n Mens moet nou kyk agter haar," verduidelik hy na 'n intense uitvra-sessie. Ons sit dik van die lag maar hou ons ‘pose':

"Watse goed koop 'n ou man dan nou vir 'n vrou wat sy kleindogter kon wees?" Roep Duifie hier van die kant af. "Jy is skoon stuitig soos 'n hond wat tien tewe op hitte rondom hom het, man!"

Vanoggend met oopmaak toe ons so alleen die koerante en die goete inbring vra ek hom toe of J darem tevrede was met die goedjies. (Ek kon nie anders as om op te let dat hy so 'n ekstra huppel in sy stap het nie) Hy lag so half verleë: "Die panties het sy baie van gehou. Maar toe ek haar die G-string-goete wys, het sy hulle sommer dadelik aangetrek ...."

"En jy? Hou jy van die goed?"

"Heretjie, maar daardie goed laat 'n vrou skoon anders lyk! 'n Mens het amper nie eens meer die donker nodig nie!"

Jip. Hy het reg gekoop. Jip, ouderdom is iets baie baie relatief. Vra maar vir 'n ou man met 'n jong dingetjie die helfte van sy jare. Veral as hy die moeite doen om in 'n dameswinkel die skaam moet trotseer om klein stukkies lap te gaan uitsoek. Ek wens tog ek was 'n vlieg teen die muur toe die verkoopsdametjie vir Arthur gevra het watter grootte hy soek en hoe hy beduie het, want hy't nie die vaagste benul van 30's of 34's of 42's nie ......

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top