Bokomo-brekfisbrief; 06/03/09: Vinnige vroue en motors

  • 0

 

 

'n Broer wat grootkop is by een van Suid-Afrika se vooraanstaande motormaatskappye het sy voordele: Soos om te reël dat jy 'n Chevrolet Lumina SS Ute vir 'n toetsrit mag neem by een van sy handelaars. En by toetsrit bedoel ek dat ons behoorlik die leersitplekke aan die brand gery het in hierdie bakkie. Rapport se Egmont Sippel het dit ook gedoen, en soos ek was hy in vervoering daaroor.

Wat is dit met mans en spierpaleismotors - 6 Liter, V8. Is dit die kragtige grom in die uitlaat wat die tier in jou wakker maak of is dit om jou hande aan 'n monster te slaan wat nie maklik getem gaan word nie? 180 km/h deur 'n draai (‘skuus, oom Spietkop, maar jy was hopeloos te stadig) en die petrolpedaal plat teen die bakwerk in die reguit stroke, met ʼn naald (elektronies), wat jou teen 230 km/h laat voel asof jy deur die klankgrens bars - dit terwyl Queen se "Another one bites the dust" kliphard deur die 6-CD se luidsprekers bulder.

Ja, ja, oukei! Ek weet dit is onverantwoordelik, teen die wet, gevaarlik en sommer bloot gek. Maar hel, dit was hope pret!

Ek het van kleintyd af 'n weerbarstige aantrekking vir kragtige motors gehad: Dis nou na ek oorle Pa se Chevrolet Malibu een Sondagmiddag stil-stil uit die waenhuis "geleen" het om 'n oulike girl op die buurplaas te gaan beïndruk. Ek was in st 8, 'n verveelde koshuisbrak in 'n verveelde vakansie, en was darem vanaf st 1 toegelaat om met Pa se Massey Ferguson te ploeg. Ek bedoel, Pa het my toegelaat om met 'n R2 300.00 trekker te ploeg, hoekom kon ek nie sy motor van R1 250.00 "leen" nie? (Moeilik om te glo dat dit die pryse van 'n trekker en motor in 1973 was.)

Daardie middag het ek die verskil in Pa se denke oor ploeg en motorbestuur agtergekom. Dis nou nadat ek die nooientjie-hulle se plaashek, haar Pa se Opel Rekord, en die Tante se nuwe visdam met 'n seuntjie-beeld wat daarin gestaan en piepie het (uit Italië ingevoer), alles platgery en gestamp het.

Soos ek later die ding vir myself uitgemaak het - 50 myl per uur is hopeloos te vinnig as jy op 'n plaashek afstorm, die briek soek waar hy nie is nie en dat die flikkerlig-hefboompie jou nie vinniger of stadiger laat ry nie, soos by 'n Massey Ferguson trekker nie - maar ook dat die Chevrolet Malibu hard was, baie hard - nog van plaat gebou gewees en nie soos vandag se motors nie; as jy die verf afkrap, dan staan daar "Golden Syrup" in sierskrif geskryf. Die oom se opgefrommelde Opel en slegs ʼn duik of ses in die Malibu se voorste modderskerm het daarvan getuig.

Vier vakansies by oom Swart Koos as ystersmidhulp, ses houe met ʼn spanriem en 'n nooientjie se pa wat my met elke kuier die leviete voorgelees het, kon nie my liefde vir kragtige enjins blus nie; alhoewel dit my en nooientjie se verhouding op die rotse gehelp het in st 9.

Nie omdat ek nie spoed kon optel nie, juis omdat ek sy dogter met 'n warm enjin (volgens die oom, en nie ons nie) agter die kraalmuur aangevat het - met hom wat ons (onbewus van die dreigende gevaar) vanuit die waenhuis dopgehou het. In my haastige vertrek het ek weer die tannie se seuntjie-beeld (uit Italië ingevoer - die tweede) wat in die visdam gestaan en piepie het, 'n meisietjie gemaak. Die draai was skerp en sy uitsteekseltjie was die enigste ankerpunt in my 90 grade draai op volspoed - dit terwyl ek 'n haelgeweer se oorhaal agter my gehoor het. Die het ook vir verdere probleme gesorg: Niemand het dit gesien gebeur nie en die volgende middag het dominee huisbesoek by die oom-hulle gedoen - ek vermoed vandag nog dit was gedwonge berading vir nooientjie -, toe dominee die tannie loop staat en vertel dat sy die skuld vir haar dogter se onsedelikheid voor haar eie deur moet neerlê. Hoe kon hulle ʼn dogtertjie-beeld in die tuin staanmaak, nakend, en veral een wat soos ʼn seuntjie gestaan en piepie het?

My aandele het 'n rekordlaagtepunt bereik toe Pa my die Saterdag na die gebeure na die oom-hulle geneem het om verskoning te vra, en ek met die uitsteekseltjie in my hand verduidelik wat gebeur het en ewe gedienstig aangebied het om dit terug te plak.

Gelukkig was Pa 'n man wat 'n seun se behoeftes verstaan het. Terwyl die tannie met 'n wilde gil woes op my afgestorm het en die oom sy haelgeweer in die studeerkamer loop soek het, het hy my en homself deur 'n sydeur vrygelaat.

Later, as eerstejaartjies, het ons na 'n herontmoeting weer een aand probeer om die verbode vrugte te proe wat haar pa ons so wreed ontsê het in die ‘warm' sommer van '74. Agter in my Ford Capri - V6. Ongemaklik beknop, maar met 'n grom in die enjin. Hierdie keer het 'n Ford Capri se rathefboomknop die verkeerde klokke, wat wydsbeen daaroor probeer spook het, laat luier, en twee maande se skade aangerig aan my toe nog (wel, ek het so gedink) belowende rugbyloopbaan.

In my derde jaar, na ek Pa se swaarverdiende geld op goedkoop drank en duur vrouens spandeer het, is ek terug plaas toe. Klaarblyklik kon ek op skool met disleksie saamleef, maar toe my Engelse prof vir my gevra het of ons Spaans is, nadat ek vier dae en nagte spandeer het aan 'n taak oor Verbode Liefde, het ek besef dis nie disleksie wat my terughou nie, dit was die lied van 'n landbouer se oggendroep deur 'n tarentaal en 'n woedende pa wat my twee uur in die oggend in sy dogter se bed betrap het, wat saak gemaak het. Op 'n koue winteroggend, terwyl die woedende pa my op kampus loop soek het, het ek my Capri, met 'n kort afgesaagde rathefboom, gepak, en die langpad my woning gemaak. Terug Tsumeb toe, terug plaas toe.

Vinnig ook.

Pa het my na my terugkeer tot die plaaslewe en ná ek die trekker se enjin die tweede keer laat "bearings" slaan het met 'n petrol-en-diesel mengsel, vasgeteken as polisieman. 'n Goeie generaal-vriend van hom was daarmee behulpsaam.

"Gaan donner eerder die staat se motors op as myne," was sy gewaagde woorde.

En het ek nie probeer nie!

Te arm om die Capri in te ruil op 'n nuwe Dodge Colt, my droommotor, het ek 'n Ford Mustang tweedehands by 'n vriend gekoop. Die Capri is terug plaas toe waar jonger boetie hom op permanente pensioen geplaas het deur met hom in die plaasdam in te jaag. Ook deurmekaar geraak met die flikkerlig-hefboom en die petrolpedaal - dis elk geval wat hy vir my in 'n jammer-vra brief geskryf het. Die sonde van 'n jonger broer besoek altyd die ouer broer. Mos. Lewenslank.

Die blitspatrollie se Datsun SSS'e (tripel esse) het deur my are gebruis.

My lewe het opwaarts gekerwe na 'n hoogtepunt. Totdat ek met die Kolonel se dogter op my skoot in sy stilstaande ampsvoertuig betrap is. Deur hom. Terwyl ek aan diens was. Wat ís dit met pa's en hul dogters?

Na 'n 24 uur verplasing terug Suidwes toe en 'n volle R 81.00 armer vir petrol (Johannesburg tot in Lüderitz met die Mustang) het ek die liefde van my lewe ontmoet. Dit was onmiddellike liefde, in my hart, deur my siel.

Sy was die mooiste ding waarop ek nog my oë laat rus het. Grasieus, manjifiek en gebou om te hou.

Ongelukkig was sy reeds geneem; sy het aan 'n ander behoort! Maar dit het ons nie verhoed om gesteelde oomblikke saam te beleef nie. Ons het die duine om Lüderitz en die Spergebied saam verken, uitbundig op Agate-strand deur die water geplas en stil stormagtige nagte op die strandfront deurgebring. Sy was die volmaakte skepping vir my.

Myne, en die stasie se enigste kortas Landrover.

Saam met haar en die stasiebevelvoerder, Karate Jonker, se dogter het ek herinneringe verewig wat my vandag nog bystaan in moeilike tye. Die skeiding het gekom toe Karate Jonker se dogter begin praat het van trou.

Dit was te vinnig, sy het die snelheidsgrens oorskry! My bearing het ʼn knock opgetel wat aangehelp is deurdat sy haar Pa van "ons" vertel het. ʼn Interne sirkulasie wat vrywilligers gesoek het om grensdiens te verrig is deur Karate Jonker namens my ingevul en onder dwang het ek vrywillig afskeid geneem van my geliefde kortgat Landrover en het ek en die Mustang die langpad aangedurf Oshakati toe.

Klaarblyklik het my berugte verlede my vooruitgeloop en is ek onmiddellik ingedeel by 'n seksie wat 21 uit 30 dae voetpatrollies moes doen. Dit was te veel stres vir die Mustang en om hom verdere vereensaming te spaar, het ek hom ingeruil op 'n Chevrolet Firenza - gehelp deur 'n pragtige nooientjie by die Volkskasbanktak. Die geweldige hoë prys van brandstof, 22 sent per liter, en die Firenza se kort rathefboom, was verdere aansporings gewees. Eers het ek seker gemaak die nooientjie se Pa was nie 'n offisier nie en dat hulle ver, baie ver daarvandaan gewoon het.

Sy het egter nagelaat om te noem dat haar verloofde verbonde was aan 32 Bataljon.

Of miskien het sy dit terloops genoem terwyl ons mekaar beter leer ken het in Tsumeb, in 'n kamer van die Minen Hotel. Wat sy nie genoem het nie, ek is amper seker daarvan, was dat hy haar op die betrokke dag by die Minen sou ontmoet na 'n drie maande ekskursie diep in Angola. Die resies terug Oshakati toe, tussen 'n Buffel en my Firenza, is loshande deur die Firenza gewen. Ek vermoed egter dit was vyf woedende 32 Bataljon-lede en ek, net geklee in 'n onderbroek, skuilend agter die kolonel in die Ops-kamer, wat my in Swakopmund laat opeindig het. Gelukkig nie in die hospitaal nie.

Daar sou my lewe onherroeplik verander. Maar dis 'n storie vir 'n volgende keer.

Terug by die Chevrolet Lumina SS. Indien jy haar nog nie toetsbestuur het nie, maak eers doodseker die handelaar se dogter is nie getroud met die werkswinkelbestuurder nie. Dit het sy voordele; veral indien jy ná jou "toetsrit" 'n Chevrolet Lumina SS wil aanskaf ...

Spoedgroete

Swerwer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top