Dit raak nou reeds vroegoggend lig. Hier so van kort na vyf in die oggend is daar al beweging in die straat. Ek is nie ’n vroegopstaner nie, maar was nuuskierig. Klim toe een oggend op my fiets en ry so paar strate op en af om te sien wat in die straat aangaan.
Hier kom ’n man vinnig by ’n hek uit. Lyk vir my na ’n sluipslaper. Hy kyk nie links of regs nie en is reguit oor die straat. Stap vinnig en verdwyn om die hoek. Toe wonder ek. Werk sy vrou by die huis of huur hy ’n kamer daar of dalk slaap hy by sy “ander” vrou sonder die wete van die huiseienaar. Ek dink dis dalk so, die dat hy vroeg wikkel en vinnig maak dat hy wegkom.
Van voor kom ’n paar fietsryers. My groet het geen effek op hulle nie. Suurgatte. Hulle ry ’n breë deel van die straat vol en gesels kliphard. Die wind waai seker hul stemme weg. Nie ver agter hulle nie kom nog ’n fietsryer. Hierdie een is besonders professioneel aangetrek. Kyk ook net voor hom. Nog ’n suurgat. En na ’n rukkie nog een. Maar dit lyk my hy’s al ouerig. En sowaar hy groet eerste. Hy ry ook soos ’n beskaafde. Aan die kant van die straat. Ek dink hy’s ’n goeie man by die huis en waar hy hom ook al bevind. Want hy is vriendelik.
Hier kom twee dames aangestap. Nee, eintlik wandel hulle. Lekker rustig en gesels-gesels. Dalk praat hulle oor die kleinkinders. Ek dink so want hulle lyk nie ernstig nie. Op my groet, kry ek ’n glimlaggende groet. As ek na hul figure kyk dink ek nie hulle stel in enigiets meer as vars lug belang nie.
Verder af in die straat kom sy met die hond. Met so ’n pragdier aan my sy sal ek ook veilig voel. Die hond trek haar behoorlik al draf hulle reeds. As dit my dogter was sou ek haar ook nie sonder die chaperone, o nee eerder oppasser, op straat laat gaan het nie. Maar sy kan darem maar vriendeliker wees. Ek wil nie die hond hê nie.
Ag tog en hier kom die drie anties ook aangestap. Eintlik lyk dit of hulle drentel. Die een het ’n hond, so ’n gewone hond wat te veel kos kry, aan ’n leiband. Die ander twee dra waterbottels. En die een het ook ’n stok of lat in haar hand. Hulle kyk na my en ek groet vriendelik. Geen reaksie. Goeiste ek sal nie saam met een van julle wil inry toe gaan nie. Dalk stap hulle vir gesondheid hoewel ek twyfel, want die lywe sê hulle woon in die land van melk en heuning waar baie waters van rus is.
En sowaar, oom Piet, ek noem hom sommer so, kom ook op sy kenmerkende draffie aangestap. Wonder hoe oud sou hy al wees. Hy konsentreer so op sy ritme en asemhaling dat hy skaars hoorbaar “môre” uitkry. Sy treetjies is al te kort om die Comrades aan te durf. Die stamina en gedetermineerdheid sal beslis nie ontbreek nie.
O vrek en hier kom die twee dames. Wonder waar koop hulle daardie uitrustings? Dalk is dit nie ontwerpte sweetpakke en ander goed nie. Hulle gesels gemoedelik al stap hulle teen ’n stywe pas. Hulle is vriendelik en het ’n mooi glimlag. Ek kan sien hoekom hulle oefen. Daai lywe.
Het ook by ’n hele paar gewone tuinwerkers en huisbediendes verby gegaan. Bykans almal het teruggegroet. Ek moet eerste groet. ’n Paar het selfs iets vriendelik bygesê. Toe wonder ek waar het hulle geslaap en waar kom hulle nou vandaan. Hier is nie ’n busstop en taxi staanplek naby nie.
En kan ek nou vergeet van die manne met die gesteelde winkeltrollies waarvan sommige omgebou is. Party het ’n klomp kartonne en papier op. Ander het sakke goed wat mens nie kan sien wat dit is nie. Die man agter die trollie? Nouja sommige lyk gehawend. Ander lyk heel aanvaarbaar. Ek waag toe om by een met ’n splinternuwe trollie te stop en trek sommer los met beskuldiging dat hy die trollie gesteel het. Wou sy reaksie sien. Nee sê hy, hy het die trollie by sy maat wat by die winkel werk geleen. Nou hoe kan jy ’n trollie by jou vriend leen as dit die winkel se trollie is? Hy bly by sy storie en ek sê ek gaan die Polisie bel. Dis reg sê hy, maar ek moet hom nou laat gaan want hy het nog klomp plekke, seker maar asblikke wat hy nog na moet kyk.
By ’n plek waar ’n sloot oor die pad reggemaak is kry ek twee mans. Ek stop, groet en knoop ’n geselsie aan. Die ouer man seker so kort in sy sestigs begin sommer kla toe ek verwys na die mooi dag. Hy het ondergronds in ’n myn gewerk. Nou sukkel hy met sy gesondheid, veral die rug. Nee oom kyk hoe goed lyk jy, netjies aangetrek, jy eet goed, het dak oor jou kop en is beskut, hoekom kla jy? “Jy weet nie hoe dit is om ’n handvol pille elke dag te drink nie.” sê hy. Dan moet jy die pille weggooi en begin lewe. Toe loop hy sommer weg. Ek skud my kop. Saam met so iemand wil ek nie ’n minuut spandeer nie.
Anderdag vertel ek dalk van die praatjies wat mens so op straat maak. Interessante mense wat hier by en om ons woon. Ons moet hulle net met vriendelikheid begroet.
Kyk hoe mooi is die dag.
Jakkie


