Bokomo-brekfisbrief; 06/01/2011: Arm man se huis en arm man se kos

  • 0

So ’n ruk gelede staan en gesels ons eendag en sonder dat ek kan onthou hoe dit gekom het, praat ons van arm mense. Hier word bedoel arm en nie sukkelaars, slonskouse en slordige mense nie. Net mense wat arm is en ordentlik daarby. En net daar kom ’n soort herinnering by my op en sê ek dat ek na ’n arm man se huis en arm man se kos verlang.

Toe moes ek verduidelik, maar ek kon nie. Hoe lyk en proe ’n arm man se kos en waaruit bestaan die kos. Dit lyk seker maar soos enigeen se kos. Behalwe dat dit nou nie veel meer as die basiese is nie. Rys, vleis, aartappels, pampoen en vleissous. Of so iets. En toe begin die herinneringe sterker word en onthou ek dat dit veral die reuk is. Die reuk van die kombuis, want etes is in die kombuis om ’n groot tafel geëet en die reuk van die kos wat op die koolstoof gaar gemaak is. Die skottels met kos op die tafel en elkeen skep in ’n bord van alles. Net ’n bord en mes en vurk. Niks ander eetgerei nie. Dalk het die kos lekker geproe omdat mens honger was van werk en daar nie tyd en plek was vir fiemies nie.
Nou onthou ek ook. In die koshuis was die kos eenvoudig. Nie dat arm man se kos eenvoudig is nie, dis net nie so grênd nie. Die koshuis se kool het meestal nie so lekker geruik nie, maar as gevolg van honger, is alles geëet. Die stampmielies of soos ons dit genoem het, ghoeboes met so ’n titseltjie, sou ek graag meer van wou gehad het. Die vleissous was nogal lekker. Selfs vandag nog.

’n Arm man se huis het ook ’n ander atmosfeer. Die ryk man se huis is vol mooi meubels, skilderye – wat bewonder word deur mense wat voorgee hulle weet iets daarvan en dan ter wille van snobisme klomp snert kwytraak – mooi duur ornamente en matte. Alles baie mooi, maar dit kort iets. Soms karakter, maar meestal warmte. Daardie duur, dik matte gee nie die warmte van die arm man se huis nie. In sy huis lê soms en soms nie eens ’n twee by drie matjie nie. Die meubels is eenvoudig – meestal betaal – geen skildery(e) nie sommer net prente in ’n gewone swart raam. Die stoel en bank se sitplekke is nie meer so styf nie, maar mens sit lekker. Die atmosfeer is hartlik.

In die seuns se slaapkamer staan daar ’n bed of twee drie of is twee beddens vervang met die ouers se ou dubbelbed en dalk nog een bedjie ingedruk. Dit is ysterkatels met ’n klapperhaar matras wat nie meer so dik is nie. Al so bietjie hol gelê. En net hoogstens twee komberse met een kopkussing en een laken wat van gebleikte meelsakkies gemaak is. Hulle het mos so ’n effense growwe struktuur wat net anders voel as die winkel-lakens. Dalk soms nog ‘n hang- en laaikas met ’n spieël en miskien ’n stoel. Op die beddens is gesit-lê en gestoei. Selfs ’n kussinggeveg met ’n skoen wat vinnig in die sloop gesit is om darem ’n behoorlike hou in te kry. In die kamers is daar geleef.

Ek weet nie of mens vandag nog sulke mense en sulke huise kry nie. Alles het so plastiek en blink geword. So sonder karakter. Die leef in die huis is vervang met woon in die huis.

Sal nogal graag weer in so ’n huis wil kuier, oorslaap en daar eet. En ek eet enigiets behalwe gif.

Jakkie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top