Bokomo-brekfisbrief; 06/01/09: Vermaak vir die gode en ander wesens

  • 0

Ook ’n limerickskrywer (en Lucas Maree)

Lucas skryf (oor die Nagwag in die Rijksmuseum): Ek dink ek sou ’n hele dag net daar wou sit in die saal waar dit hang. Net om te keer dat ek nie dalk iets vergeet nie.

Jy vra: Hoe beskryf mens die gevoelens wat deur jou spoel ten aanskoue van sulke briljantheid, daar waar sy aura en teenwoordigheid eintlik tasbaar hang?

Ek dink ons praat aldrie van daardie vlymskerp lem van werklike briljantheid wat ’n mens deurboor wanneer jy jou eerste “close encounter” daarmee het. Ek loop soek gewoonlik nie na die verrukking nie - ek loop my gewoonlik teen ’n 100 mpu op onverwagte plekke daarin vas terwyl ek my besige lewe lei.

Soos die keer toe ek immer laat op Heathrow parfuum wou koop en teen daai 100 mpu spuit-spuit, ruik-ruik van die een na die ander toetsbotteltjie draf en inderhaas op Gucci besluit. En weke later eers oplet het dit “Gucci for Men” lees. Die beste parfuum; wonderlike kaneelgeur. Sal nooit weer iets anders dra nie.

Of ’n ander keer op Heathrow toe ek Yann Martel se The Life of Pi vir die lang sit gryp omdat ek gedink het dit handel oor die wiskundige konstante 3. 3.14159265ensovreelikevoorts. ’n Fantastiese boek. Met ’n boodskap wat die hart deurboor. (Ek het net nog geen leser raakgeloop wat die boodskap regtig gesnap het nie. Halloooo, is daar iemand daar buite?)

Nee, ek jok as ek sê dat ek nie soms doelbewus na daardie ‘stab of joy’ soek nie. Ek het byvoorbeeld in Cambridge se Waterstones met sterk koffie en JM Coetzee gaan sit om myself daaraan oor te gee - maar dit het nie gekom nie. Ek het in St Petersburg se asemrowende Hermitage tussen die ses miljoen plus kunsskatte daarna gesoek. Niks. Maar dit gevoel op ’n bootrit op die Nevarivier toe ’n passasier - ’n Rus met ruwe werksershande - hardop uit Chekhov voorlees. Ek het gedink die Mona Lisa in die Louvre sou dit vir my doen, maar dit was die Louvre self wat dit reggekry het: die marmers, die beskilderde plafonne, die Dan Brown misterie van die plek.

En dan is daar plekke waar jy jou nie kan draai nie, of jy loop jou in daardie vlymskerp briljantheid vas. So ’n plek (vir my) is New York se Fifth Avenue. Museum na museum na museum het dit vir my gedoen. ’n Uitstalling van Broadwaykostuums. ’n Adam Ansel-uitstalling. Die Peggy Guggenheim, 1071 Fifth Avenue, se meesters.

Maar die grootste oomblik van almal, die diepste wat ek nog gebloei het, was in die Peggy Guggenheim in Venesië. Elke hoek en draai van Venesië (van Italië!) ooze dit, maar niks het my voorberei op ’n skildery by die uitgang van die museum nie. Dit was ’n reuse kubistiese werk van oneindige komplekse skoonheid. Intens persoonlik aardskuddend briljant. My knieë het letterlik week onder my geword en daar het ek vir ure op ’n bankie gesit en gepyn van plesier totdat die museum toegemaak het. Op ’n manier sit ek nog steeds daar, vasgevang.

Ek het die naam van die werk en sy meester neergeskryf, maar natuurlik verloor. Ek hou nie styf genoeg aan party dinge vas nie. Maar al het ek die skildery oor die jare bietjie-bietjie begin vergeet, onthou ek die gevoel. ’n Mens het so ’n ervaring nodig om jou ware kapasiteit vir VOEL te ontdek.

Ek voel saam met jou: dankbaar vir die voorreg om mens te kan wees.

(Wat natuurlik ’n ander onderwerp van bespreking is: menswees. Ek vermoed ons heelal is ’n rekenaarprogram wat geskryf is om die skepper(s) daarvan te vermaak. Eindeloos te vermaak. Daar iewers, buite ons tyd en ruimte, luister hulle na Lucas se musiek (en mag hulle hom beloon) en kwyl hulle oor Michelangelo en Vermeer en Ouma Dolla se waatlemoenkonfyt. Ons beter vasklou aan ons menswees.)

Katrien Deneuve

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top