Bokomo-brekfisbrief; 05/09/2010: Petrus Lager, en die vloek van erfsonde

  • 0

Jy weet, dat daar ‘n lyn loop. So deur die geslagte heen. Nie noodwendig ‘n reguit ene nie want die ding slaan soms ‘n geslag oor. En vat soms ‘n draai. Amper soos Brink se ‘Sempré Deritto’ … reguit met ‘n draai.

Petrus Lager se familie het ‘n donker geskiedenis. Van voor die oorlog af. Hulle Van was nie altyd 'Lager' nie. Lagermeister. Van ‘n Hamburgse Jode-familie wat net-net die oorlog oorleef het.  Sommige van hulle.

Oorlewing. Dit was hulle vaardigheid. En vloek. Die Oupa Lagermeister was in Dachau in ‘n Dodekamp. Hoe hy dit oorleef het moet mens miskien liewers nie weet nie. Te oordeel aan hoe hy ander mense behandel het, moes dit wreed gewees het. Vir hom was alle mense ‘vyand’. Ludwig Lager, Petrus se pa was ook, nes syse pa,  ‘n bedonderde mens. Daar was geen buig in hom nie.  My pa het dikwels gesê dat die spul Lagers die lewe onnodig hard maak vir hulleselwers. Maar dan, so maak onse eie mense ook maar dikwels.

Ludwig Lager land op die delwerye in Kimberley. Daar werk hy syse gat lam vir ‘n delwer vir omtrent niks. Steel hy ‘n paar diamante uit die gruis uit en laat spaander Johannesburg toe. Mens sou dink dat hy met die gelukkie die lewe effens sagter sou vat maar nee, hy koop ‘n transportwa en tog tussen Johannesburg en Kimberley. Dom. Hy word gevang en spandeer twee jaar in ‘n tronk. Word ontslaan en steel sy pad terug Johannesburg toe. Myne toe. Met sy bietjie spaargeld koop hy ‘n plot neffens my Oupa HJ se plaas.

Trou met ‘n verwese meisie uit die agterstrate van Johannesburg en wring vyf kinders uit haar uit. Petrus was een van hulle. Ludwig bliksem sy kinners deur tot standerd Ses en reken dis genoeg. Hulle moet op die plot kom werk. Nugter weet wat hulle veronderstel was om te doen want die klipperige vyf hektaar plot was kwalik in staat om hulle in die lewe te hou. Petrus spandeer sy dae met vee oppas. So ‘n tiental bokke en vier koeie wat hulle skelm op die “Grootplaas” langsaan laat wei. In die heuwels. As Petrus effe laat is so teen skemer gryp Ludwig die ou Leemetford en skiet skote in die heuwels in. Nie ‘n maklike mens nie. Vele maal het my Oupa klein Petrus se wonde verpleeg. Sambokhale wat diep kepe vleis uitgehaal het. Wa-ghries opgesit en verbind. Dan dreig Oupa HJ om Ludwig van die aarde af te haal en my Ouma moet net keer.

Kuier ons op die plaas en ek vaar die veld in. Bemerk ek ‘n paar losloperbeeste en besef dat Ludwig weer veld steel. Nie dat ons omgee nie. Die skelm wei was onnodig. Kon maar net gevra het en Oupa HJ sou hom sy paar maergat beeste en bokke laat wei het. Vra sal hy nie. Skelm was sy manier. Petrus moet daar iewers wees en ek reken ons kan ‘n paar potte marabba-rabba speel op van die plat klip wat orals in die veld uitpeul.

Kry ek hom waar hy opgekrul lê. Sy voddehemp swart van die bloed. Ludwig het weer vir Petrus bygekom. Sukkel ek met hom huis toe. Die kind kon beswaarlik loop. Huil nie. Hy het jare gelede klaar gehuil. Nie meer huil in hom nie.

“Here mens, Ludwig gaan die kind nog doodslaan!” sê my Ouma. Oupa HJ seg niks en maak die hemp sag want dit sit vas aan die bloed en losvleis. My Pa kyk die spulletjie so en ek sien hy is wit in die gesig. Oupa HJ kyk so onderlangs na myse Pa en reken dat my Pa miskien met Ludwig moet gaan praat. Die ding kan nie so aangaan nie.

Dis laatskemer toe my Pa HJ die kombuis instap. Niemand seg iets nie. Kan ek dit nie hou nie en ek vra; “Het pa met Oom Ludwig gepraat?” “Ja,” sê hy. “Ons het gepraat.” Ek los maar want ek kon sien ek moet los.

Gaan ons dorp toe die Saterdag. Vendusie en banksake. Ek ry saam. Saam die Bank in. Die bankbestuurder gesels oor dit en dat en vertel dat dit darem ‘n wille ding is met Ludwig Lager saam.

“Watse ding?” vra my pa.
“Die ding met die bees. ‘n Bees het hom glo so gestamp dat hy in die hospitaal is. Intensief. Maar hulle reken hy kan dit maak.”

“Ja,” sê my Pa. “‘n Bees kan ‘n bliksem wees.”

HJ

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top