Bokomo-brekfisbrief; 05/08/2010: Mampoer se moer ...

  • 0

Jaap en ek ken mekaar al sedert die laat Tagtigers toe ek die eerste keer by hom gaan jag het. Hy is, sal ek maar sê, 'n soort van PH. Hy het sy eie plaas, maar reël ook jagtogte op naburige en ander plase vir biltongjagters soos ek. Jy kan, as jy lekker daarin sit, trofeejagte by hom kry teen dollar pryse bedoel vir die oorsese manne (bv as die bok R1000 kos betaal jy $1000).

Ek was al sedert Woensdag daar en teen Vrydag het my koedoe, 'n bles- en twee springbokke aan die ysterhake in die koelkamer gehang. Die ander manne sou Vrydagmiddag laat ry, want die nagte is lekker koud en dit dien om die karkasse koud te hou. Ons almal sny mos maar die biltonge by die huis.

Jaap het, omdat ek die omgewing ken en volgens hom 'n bekwame jagter met goeie ondervinding is, en ek sy vriend is en hy my vertrou, my gevra om oor te bly omdat hy Vrydag 'n groep van agt naweekmanne verwag wat Saterdag vir hul koedoe-jag bespreek het, en hy wou hê dat ek hom moes help. 

Die ander manne het pas begin om hul karkasse op die bakkie en treiler te laai toe die VW Kombi Exclusive met treilertjie voor die koelkamer woes ankers uitgooi. Soveel so dat die stofwolk wat dit saamgesleep het, van agter af oorgekom en dit bedek het.

Binne-in die geelbruin waas is daar 'n rumoer en gaan dit jolig daaraan toe. Die skuifdeur skiet oop en twee glasies elkeen met 'n hand daaraan, kom te voorskyn, gevolg deur die lywe waaraan hulle vas is en wat byna letterlik van die kombi se sitplek af-en uitval.

Daar is vreugde, genoegdoening en jolyt. Hulle is daar!

Uitbundig word daar gegroet en blad geskud. Daar is 'n ou met nog 'n kleiner glasie, die dubbel-tot soort en "mampoer se moer, weet jy watsit dié?" word gulhartig en vrygewig aan almal aangebied. Dit was eintlik futiel om te weier, en ek vat toe maar 'n ou glasie en neef, die rosyntjie-reuk en druif-smaak het by jou geen illusies gelaat nie. En weet het jy geweet, want jy het dertig sekondes later, terwyl hy nog jou keel gesond skroei, ontdek hy draai hier by die 93% proef om.

Hulle is manne der manne, uit die Boland uit, plesierig, opgewek, joviaal en reg vir alles … dit beduie, klets en gaan aan. Hulle gewaar die karkasse en in 'n oogwink is almal by. Die geesdrif vir die komende jag skiet die hoogte in. Wie het? Waar is dit? Is daar baie? Hoe ver? Waarmee skiet jy? Die string vrae rek en die antwoorde word geesdriftig en vol afwagting verwerk.

Die uitsigte vir môre is pure sielsgenot.

Hul leë treilertjie word met vonkel in die oog betrag. Gou egter maak die vonkel plek vir ernstige kommer. Is hy groot genoeg? Daar sal mooi uitgewerk moet word, want hier gaan hy te klein raak.

Dit is lekker warm in die jagtershart ... in die lyf ook.

Die son het al agter die koppie wat oor die opstal wag hou ingesak. Dis al skemer en effens koel toe iemand wou weet of almal se gewere ingestel is. Jaap en ek kyk vir mekaar ... ek skud my kop, ... hy trek sy skouers op, hulle is immers sy kliënte. 

Almal skarrel Kombi toe en diep hul magnums, trippels en soveel mils onder die bagasie uit, gaan staan by die draadheining wat die opstal omring en laai hul gewere en oefen hul aanlê sommer so staan-staan, pluk die geweer erg windmakerig, vol vertonerige bravade en rumoer in die skouer in. Pas, pas hom so, draai hom skuins en loer al langs die teleskoop en loop af.

Vir 'n paar is dinge alreeds anders, want hy kan nie lekker staan en korrel nie. Hy wil al vorentoe en sywaarts neuk. Sy sneller vinger .... en hulle staan so in 'n bondel saamgekoek!

Jaap het intussen teikens gekry, vyf en twintig tree afgestap en terwyl die jagters probeer om dit in hul teleskope op te spoor, een vir een bo op molshope, miershope, afgebrande en afgekapte boomstompe en leivoorwalle opgestapel. My lam gevoel verdwyn so 'n bietjie toe hy terug is by die skuts.

Hulle druk teen mekaar aan, stry en skerts. Kniel voor 'n maat wat definitief nie weet dat hy daar is nie, en nog minder weet die knielende ou van sy maat wat bo-oor hom staan en korrel. Gelaaide lope wys maaghoogte in alle rigtings. Die deugde van die geweer word wyd en luid verkondig. Die liefde en voorkeur vir sy hartsgeweer word uitbasuin, die ander ou s'n egter, word gruwelik beledig. Daar bestaan niks beter nie, hy slaap as't ware met die geweer tussen hom en sy vrou.

Versigtig druk ek 'n loop af grond toe en terwyl die eienaar daarvan die glasie “mampoer se moer, weet jy watsit dié”  lig, besluit ek dat ek definitief nie meer wil weet wat de moer dit is nie en draai om daar pad te gee.

In my omdraai ontplof die 'homeload'  (9,3 x 64 - nospar + S232 x25g x 10g kordiet x 15g nitrogliserien = 18,550 vps, 9833vtpd @ 500m ) hier neffe agter my (sy geweer moet mos doder skiet as die ander ou s'n).

My hartslag val tot op my pens en lê daar en tril. Dis nag, ek is lam, ek staan versteen, vasgevang in vriesreën. My vel span hoendervleis, of kan jy dalk sê volstruisvleis, soos die senuweepunte soek na waar die gat op my liggaam is. Die skielike hewige drang om te vlug vervaag en ek draai nonchalant, met waardigheid maar tog met 'n beklemming weer terug. Niemand lê op die grond nie, daar's nie bloed nie!

Die vroeë skemeraand val aan stukke. Die rook draai, die stof dwarrel, dit verwens, dit vloek, dit skel. Die kluite spat, hoog in die lug op vlieg groot torre weg. Die bierblikke staan en die kartonbokse is sonder gaatjies. Hulle staan roekeloos op, stamp aan mekaar en mik sommer so oorkruis na die groter teikens. Die geweerslotte word oopgepluk en toe gestamp, woes word die geweer in die skouer ingepluk. Daar is 'n haas en angstigheid onder hulle want elkeen wil die teiken eerste tref. Erg moerig word die sneller getrek, daar’s niks want die patroon lê feitlik dwars in die kamer en magasyn.

Met die normale uitroepe soos: (1) "Fokken baastit, (2) donnerse fokken moer, (3) moenie nou jou fokken kak maak nie, (4) fok jou man kak"! word die skuld vir die heel teikens op die hartsgeweer van 'n rukkie gelede geplaas. Waar is die groot liefde van vaneffe dan nou?

Oop is die slot, 'n patroon spat uit dat hy daar trek, weer toe gemoer ... klik...? Uiteindelik lê die patroon reg in die kamer, die skoot klap voortydig en die teleskoop vat die vel op die neusbrug en rol dit op tot tussen die oë.

In die jagterskwartier brand die braaivleisvuur al.

Vroeg die oggend, vieruur, is almal weer op en oordadig lewendig. Ywerig ... en dit hou aan koffie suip. Steek mos nou die moerse babbelas weg, jy sien. Tot laataand en diepoggend het die Groot Jagters gekuier. Ken Mullen en die boeremusiekhelde is uit die kombi gaan haal, en natuurlik, ruimhartige skeute "mampoer se moer".

Groot oomblikke, pragskote, groot bekruip en jagvernuf is uit die geheue opgediep, uitgestal en gedeel. Daar was meningsverskille, liegterye en liegstories wat almal nie geglo het nie, weinig wil hê dat die ander sy vermoë geringskat, die gevolg was uitnodigings na buite ... veral deur een, later gehoor hy is 'n gerespekteerde mediese dokter.

Sesuur in die veld het ek twee met die spoorsnyer en die ander twee se plek, grense en skietvlakke aangewys en die koedoe-jag het in alle erns begin. Soos die noodlot dit wou hê was dit 'n warm en droë oggend wat met geen opwinding nie, lank geraak het. Inteendeel, dit was besonder stil. Behalwe vir die stemme van die spoorsnyers sou 'n mens nie sê dat daar gejag word nie.

Eenuur se kant het ek laat vuur maak. Dis toe dat die spoorsnyer my vertel hoe daar heeloggend deur na water gesoek was, hoe hy baie goed belowe was vir tog net 'n bietjie water en dinge soos "moenie nou worry oor koedoe nie". Dit was moeilik, sê hy, om na koedoes te soek terwyl daar so na water gesoek, gesoebat en gesmeek was. Maar hy wat spoorsnyer is, kon mos nie anders nie want die ander manne het mos ver gekom om te jag. Hy sê voor almal hy lieg nie, "maar sowaar, die manne lê en slaap terwyl die koedoes verby hulle loop". "Ja,"  sê hy weer en met nadruk, "die koedoes het verby die manne geloop terwyl hulle lê en slaap, daardie manne daar" en hy wys!

Daar hang 'n swaar stilte om die middagvuur. Een steek 'n stokkie in die vuur en bring die vlammetjie na sy sigaret toe. 'n Ander krap die rand assies met 'n takkie uit die vuur uit, maak dit in 'n hopie bymekaar en klits-klits dit weer uitmekaar. Sy knieë klap toe hy opstaan en oor die veld en heuwels heen tuur. Die watersoekers het so 'n bietjie bloed in die bleek kiewe teruggekry. Die verleentheid moet groot wees om so deur die babbelas te breek. Die bossie-slapers het probeer, maar kon nie hul pad oop verduidelik nie, het nie geslaap nie, maar net gelê ... nou hoekom lê jy dan?

Ek het vir middagete elkeen sy wors en tjops gegee om te braai en met "Mampoer se moer, weet jy watsit dié?"  lekker sterk swart koffie uit 'n groot swartverbrande kan (my ou grappie was nie gewaardeer nie).

Die ander deel van die groep het net so gehawend en ook met niks om twee-uur by ons aangesluit en daar is besluit om, al is die tyd min, weer te probeer, maar helaas sonder sukses.

Jaap het rondgebel en kon ander ouens opspoor wat onopgeëiste flenters bles- en springbokke in hul koelkamers het. Dit is toe aan die manne uit die Boland beskikbaar gestel teen afslagpryse. Nodeloos om te sê ... dis opgeraap.

Ek wonder net wat vroulief by weersiens sou sê? Miskien iets soos "Back is the hunter, home from the hills"  of  "en toe my skat, hoe was jou jag?”

Groetnis,

Raed-na-Gael

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top