Bokomo-brekfisbrief; 05/05/2010: As almal ver is …

  • 0

My pa druk laas week die boek onder my neus …"jy al gelees mys (kort vir meisiekind)?" Ek blaai so bietjie deur, sien bekende name van gunsteling skrywers en beloof om bietjie daarna te kyk. Die naweek van reën en alleen dryf my boeke toe, en met koffie klim ek in die kooi. As almal ver is … dis depressing. Dis soos koue water in jou gesig … almal se intense verlange. Dis ‘n fisieke pyn om landgenote se bittere lyding in die vreemde deur te worstel. Elke storie onderstreep my voorneme. Ek bly net hier! 

In London reën dit pal, soos nou hier in Pretoria – my vel soek nou al dae lank son, ek kan nie meer fotosinteer nie, weke se sonloosheid sal my einde beteken, my siellose siel sal verwelk en sterf. Selfs my (deesdae medies verdunde) bloed sal in daardie tweesyfer-minus-winters vries!

Dinge wat my bygebly het, is hoe die Suid-Afrikaners nooit annerland se mens kan word nie – hulle hart is te verknog aan Afrika, sy laat jou nie gaan nie…en dit is vasgevang in die refrein van daai song …"you can check out any time you like, but you can never leave …"  Julle ken dit almal. 

Ek het gehuil oor die lang ry mense wat kamp-oornag-wag om kaartjies te koop vir Wimbledon … en elke iedere een wat ‘n vleisie gebraai het (en daar was baie) was ‘n Suid-Afrikaner. Ek het gehuil oor die swart man wat gevlug het uit sy vernederende Afrika, net om nog meer ongewens in Amerika te moet voortbestaan – sonder die keuse van terugkom. Ek was verlig-bly dat ek nie soos ‘n stormram hoef koppe te stamp met die burokratiese (vreemdtalige) Europeërs nie, nie myself hoef te begrawe onder kilogramme papierwerk sodat ek ‘n liksens kan kry om twee keer per jaar ‘n vuurtjie te maak nie … vir ‘n vleisie … nee, magtag! Toe ek onlangs in Griekeland was, het ek, elke keer as die mense mekaar so uitbundig groet met “Jassas!!”, ineengekrimp, goddeloos of te not … dit val swaar op my Afrikaneroortjies.  En oe, daai paddaboudeters wat jou en jou beste matriek-engels so ooglopend ignoreer…ons wynkultuur het dalk sy oorsprong hier, maar ons het dit vervolmaak – gaan proe bietjie Morkel se Petit Verdot 🙂

Vreemdemansland kan nooit hartsgoed word nie.  Ja, jou kinders het (dalk?) ‘n beter toekoms, maar hoe gemaak met JOU binnegoed? Wanneer word jou kinders se toekoms belangriker as joune? Ek weet, ek weet, ek praat so half met ‘n gesplete tong, want het ek nie net nou die dag mense aangeraai om hul lappies te pak nie? Gaan lees die boek, dan praat ons weer … die agterdeur oophou bly egter nie ‘n sleg idee nie … al is dit net met een toon …

Karin

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top