Bokomo-brekfisbrief; 05/04/2010: Gielie se kar

  • 0

Om student te kon wees destyds in Pretoria het veel meer behels as om net agter die boeke te sit. Daar was mos vele gate waar jy kon deurnag en plekke waar jy , wel kon ontspan. En Sunnyside was so 'n plek gewees wat nie gevra het wie jy is of wat jou skakering is nie. Veilig vir selfs die joligste kunsstudent in die vroeë oggendure. Dis die tyd lank voor die Nigeriërs met hul blink karre en krotwoonstelle. Hoekom blink hulle karre altyd maar hul blyplekke lyk slegter as varkhokke?

Troyestraat was en is mos een van die hoofroetes. Baie verkeer met logies baie ongelukke. So het ons aand vir aand geluister hoe die motors met skreeuende bande erg rem ... en dan doeffff!

Gielie het vars in die stad aangekom. Polieskollege klaar gemaak en by die barakke ingeboek. Gebore 'n poliesman en sal verseker poliesman doodgaan eendag. Gelukkig genoeg om ook een of ander minister en dikwels die Prez homself op te pas. En synde ons mos maar die oppaswerk in gemeen gehad het, het ons soort van gekliek. Buiten sy mooi suster het ons darem ook die polieswerk in gemeen gehad en synde Oester so bietjie "ondervinding" gehad het het die blote kuiery tot 'n vriendskap ontwikkel. Af tye het Gielie dus in A kom sit en tyd verwyl. Kom "koffie" drink soort van.

Eerste ding wat Gielie gedoen het toe hy sy eerste briefie gekry het was om 'n redelik nuwe karretjie te koop: 'n Pulsar. Versigtig gery met die ding en niemand mog sy Pulsar se stuur vat nie, selfs al het hy dikwels uit Jacks uitgeslinger. En jy kon vergeet om 'n bottel bier in daardie Pulsar oop te maak, laat staan nog jou Savers-burger in sy motortjie probeer eet. Elke dag gewas, wel, so het dit gelyk, lank gespaar vir nuwe, beter wiele. Wou ons Naidoo's (jy onthou nog vir Naidoo's en die ladies bar, nè, Steve?) of Bell-hotel toe moes ons loop, want die manne was rof daar en sê nou hulle slinger teen sy kar vas?

As Gielie by A gestop het het hy dit versigtig gedoen. Want Troyestraat is gevaarlike terrein.

En so gebeur dit een aand na die hoeveelste "koffie" dat ons weer die skreeuende bande hoor ... en wag vir die doeffff. Jip, daar het nog twee manne bietjie verf uitgeruil, hehehehe. Gobey beduie nog dat dit netsowel Gielie se pragstuk kon wees wat getref is, en ons kyk buitentoe waar die oranje en blou ligte die gepak opruim.

Nanag beduie Gielie dat die 'Sarge nie tevrede gaan wees as hy elke nag so instrompel nie. Tyd vir koers kry baracks toe. Skaars is Gielie weg of hy weer terug. "My kar is in haar moer!"

Jip. Daardie doeffff was inderdaad Gielie se kar gewees. Maar die man (hy is "weg" tot vandag toe synde hy nooit 'n sent betaal het nie) wat die stampwerk gedoen het moes sommer baie vinnig gery het, want nie net is die Pulsartjie se agterkant opgefrommel nie, maar die voorkant staan mooi om 'n Jakaranda gevou.

Ons moes letterlik al ons kontakte gebruik om die stamper op te spoor om uit te vind dat einste outjie nie gaan betaal nie want hy is toe self redelik gekontak ....

Jare later stop hier in Oesterland so 'n wit Pulsartjie met 'n GP registrasie nommer. HNN ... GP. Die Pulsartjie het toe sommer drie passasiers. Gielie het nie net gevorder deur 'n mooi vrou te vat nie, hy't sommer 'n klong aangeneem ook.

So kort voor April sit ek en wonder wat van daardie Pulsar geword het. Ek weet Gielie is steeds 'n poeliesman. Sommige dinge verander nie sommer nie.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top