Bokomo-brekfisbrief; 05/02/2010: Vet(koek) pret skuins voor Valentynsdag

  • 0

Wat gebeur as jy hartlik sat is vir jou eie skete en smag na 'n bietjie toorkuns vir die smaakkliere? En as jy nie by 'n winkel kan uitkom om Valentyns-hartjies en sjokolade vir die familie te gaan koop nie? Jy besluit op 'n oefenlopie om hulle te trakteer op nig Audrey se resep vir vetkoek (een woord, nie twee nie, gehoor?)

Dan sukkel jy per kruk kombuis toe - Persiese mat-vervoer & genie uit 'n bottel is ongelukkig nie byderhand nie - en jy plak jouself gerieflik op 'n hoë kroegstoeltjie voor die stoof neer.

Spring soos 'n wafferse Boeretannie sit-sit so aan die werk, met alle bestanddele gerieflik rondom jou gerangskik. 'n Bietjie meel en 'n hele paar ander goeters word gemors op die stoof, oor die vloer en so aan, maar so what, dit word met 'n lied in die hart vir 'n liefdevolle doel gedoen .

Die olie raak ongelukkig effens te warm . Die swart dingetjie hier regs op die kiek is toe nie 'n verskroeide paddavissie uit 'n vuurwarm modderpoel nie, dis net 'n taamlik onsuksesvolle tweede poging. Heel onder op die foto begin dit beter lyk - dis nou daai dingetjie wat soos 'n baster geel blaasoppie met losserige tone daar lê.

 

Seunskind Joe kom tot die redding. Hy vertel dat hulle BAIE keer in hulle Rhodes-dae vetkoek gebak het, en bied vrywillig aan om hand by te sit. Die resep is verkeerd sê hy, die deeg moet heelwat stywer wees en anyway in diep olie gedompel word. Hy sit nog een helske lot ekstra meel by en begin roer dat die deeg in sulke klonte teen alles spat en vassit - dis totaal onmoontlik om eers te probeer klits. Die groot vlak pan waarin ek sommer vier kleintjies op 'n slag gebraai het, word vervang deur 'n piepklein diep kastrolletjie ... en die piepklein lepeltjies vetkoekdeeg van netnou is skielik soplepel-grootte. Hiervoor gebruik hy ongeveer een en 'n half bottel Sunflower olie.

Intussen het my ou darling solank begin eet aan een van my mini-vetkoekies en vreeslik vinnig met 'n appel en twee pere sitkamer toe verdwyn.
Hieronder is Joe se pogings wat heelwat beter lyk, amper soos brulpaddas na botox. Hy's so trots daarop dat 'n naby-skoot geneem word:

Toe ons dit egter probeer oopsny, klou die rou deeg binne-in teen die mes vas en dis so swaar dat mens dit skaars kan optel, wat nog van eet. Dit sou miskien in die boubedryf vir barste aan mure ens. gebruik kon word, laat hoor my liewe seun.

Tog is daar in hierdie geval geluk by die mislukking:

a) Met druk van sy kale hande kon Joe so-te-sê al die olie uit die vetkoeke aftap en herwin.
b) My ou darling het wyslik besluit dat hy in elke geval nie 'n besondere liefde vir vetkoeke het nie. (een woord, nie twee nie, gehoor?!)
Stigtelike groete,

Ellen B

Bron van foto's: Joe se selfoon.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top