Ek het ook Perdebytjie se brief oor haar hond met deernis vir die hond gelees. Dit is ook wat Swaeltjie genoop het om haar gewraakte brief te skryf sonder om verder te dink. Sy het later mooi om verskoning gevra en ek hoop sy is vergewe. Ek weet uit jare se lees dat Swaeltjie intens lief is vir diere en het haar gewraakte brief in die lig hiervan gesien. Oor die algemeen het ek self meer deernis met diere as met mense. Ek kyk graag programme oor die twee wêreldoorloë op History Channel en die arme soldate in die loopgrawe wat in die modder vir die dood wag roer my nie soveel as die toestand van die perde wat die kanonne moet trek nie. Die perde is maer met gesigte van hoop gestroop en hulle lyding is te veel om na te kyk.
Johan vertel my hoe hy en sy vrou uit Zimbabwe moes padgee van hulle plaas met net hulle trok en sleepwa vol goed. Die laaste ding wat hy moes doen was om sy leeu dood te skiet. Hulle het haar as welpie aangeneem en dit is blykbaar onmoontlik om ’n volwasse leeuwyfie by ’n wilde trop in te skakel want die ander wyfies in die trop sal haar doodmaak. Sy is reggemaak deur ’n veearts en het vir sewe jaar hulle huis gedeel en in die oggende tussen hom en sy vrou by die bed kom inkruip. Hierdie keer het ek deernis met Johan en sy vrou gehad alhoewel ek weet dat Swaeltjie aan twintig redes sal dink hoekom Johan die verkeerde besluit namens die leeu geneem het.
Deernis is aanvoelbaar en ek kon Swaeltjie se deernis nie miskyk nie.
Sonder deernis het SêNet ook nie gewerk nie.
Lafras du Toit


