Ek moet twee dames se geslypte uitdrukkingswyse en keuse van woorde tog felisiteer. Hulle is so reg ingestel op die gemoduleerde golflengte van uiters gekultiveerde Afrikaners.
Dame Willa is sekerlik vernoem na die beroemde Hollandse koningin Wilhelmina, wat haar so te sê laat skuur aan adellikheid. Daarom koester sy soveel begrip vir die Afrikaner se ou klein swakheidjies soos Spaanse boogvillas.
Al wat nog kort is the Trechikov-skilderye – dié met die biddende hande om die Calviniste vir hulle uitgesproke sondige geldgierigheid te vergewe. Dis mos die Protestante se alternatief tot die Katolieke se bieghokkies ... die vroom, biddende hande. En as hulle regtig baie vroom is, sal jy so skuins bo die biddende hande die waterglas met die roos en die dou druppeltjie ook kry. Van sy ou skilderytjies was só pragtig. Ek “lief eenvoudig” (so ’n pragtige uitdrukkinkie van jou liewe Wilhelmina!) daardie enetjie oor “Onthou Bloedrivier” – jy weet met die vaandel van “ex unitate vires” om die doringrosie-hart. Ai, as ek darem net destyds die geld gehad het ... Ek hou egter nie so baie van sy Gogherige skilderye nie, maar ek moet toegee dat dié met ‘n Frida Kahlo-inslag werklik my siel in ‘n verhewe toestand voer.
Voor ek ’n paar woorde tot tante Kakebania wend, moet ek eers die sweetdruppeltjies van kulturele inspanning saggies met my kantsakdoekie wegdruk en my bietjie koel waai met my pouveer-waaiertjie. Die tante het my skoon na my asem laat snak met haar asembenemende voorstelle om die biskop en die enfant terrible te verewig. Laasgenoemde is mos totaal verslaaf aan die paparazzi-kick van voorblaaie haal met die ongure dinge wat hy kwytraak. Ek het my skoon vererg vir die jong man nou die dag toe hy so afvallig gelaster het oor Lady Helen se botox. Ek dink sy lyk deesdae só ewigdurend jeugdig – amper soos Joan Collins eens.
Nou dan liewe dames, madame Pouveria het ’n dinnertjie wat sy stage vandag en sy moet kyk dat alles reg loop in die kombuis en dat die tafelsilwer gepoets word. Julle weet mos, vir grênd gaste haal ek altyd my Boheems-gesnyde kristalglase en Engelse silwer uit. Dit moet natuurlik onopsigtelik so gedek word dat elke gas wat iets van silwer af weet die stempeltjies wat op elke stukkie eetgerei wat oor die eeue in die silwerbrigade van Chancery Lane se werkswinkeltjies ingegraveer is ook goed waargeneem kan word.
Ek het ’n wonderlike menu beplan om my gaste te bederf, glo my ... En net om so bietjie te wys waartoe ons grênd Afrikaners se sin van estetiek en fynproewery in staat is, deel ek die menu met julle.
botterskorsie sop met ’n silwerlepel van 1815
---
geroosterde polenta met swart sampioene en gorgonzola,
serveer op ‘n eerste uitgawe van Emil Zola se Nana
---
rump steak met aartappel-gratin en geroosterde lengte skywe
van prei met suurlemoen-mosterdsaad sous
met beenhef-eetgerei uit Kwien Vicci se tyd
---
pere in rooiwyn gebeur met steranys-en-casia
en ’n mousse van donker sjokolade
Haai, Madame het nie tyd om hier te sit en ginnegaap nie!
Madame Palominé Pouveria


