Sonder dat sy ooit 'n ongeluk veroorsaak het, was ou tant Marié Brand die waagmoedigste bestuurder op Senekal. In hierdie klein gemeenskap het almal haar bestuursvernuf geken. Sy was al so kromgetrek deur die ouderdom dat sy ónder die stuurwiel deur geloer het na wat voor haar in die pad aangaan.
Reg rondom die kerkplein was daar skuins parkering vir motors. Omdat tant Marié in elk geval nie haar kop kon draai om te sien of enige voertuie in aantog was nie, het sy doodeenvoudig drie keer hard op haar toeter gedruk en onmiddellik daarna in tru-rat weggetrek. So het almal geweet wanneer dit raadsaam was om uit haar pad te bly.
Toe Senekal by die besigste kruising in die middedorp uiteindelik sy eerste verkeerslig kry, het die meeste mense vir meer as 'n jaar daarna nog steeds stilgehou waar die stopstraat voorheen was, al was die lig ook groen. Maar Reza de Wet se ma, Tawtie, was 'n perdjie van 'n ander kleur. Hulle het gereeld uit die groot stad Bloemfontein by familie kom kuier en was gewoond aan verkeersligte.
Op 'n dag ry Tawtie doodluiters oor die rooi verkeerslig terwyl Senekal se enigste spietkop die spulletjie só staan en bekyk. Hy sit haar op sy motorfiets agterna en keer haar voor. Tawtie was nie verniet die beroemde dramaturg se ma nie. Sy bars in krokodiltrane uit en snik dat sy regtig gedog het die lig is nog groen, toe's dit al die tyd "BLOEDROOI". Met 'n streng waarskuwing van die spietkop - en 'n selfvoldane glimlag op Tawtie se gesig - het sy verder gery.
'n Vriendin en eks-woonstelmaat, Julie, het feitlik elke oggend verslaap toe ons albei in die onderwys was. Dit het my later so moerig gehad dat ek gedreig het om alleen te ry. Wanneer ons dan deur die strate moes jaag om betyds te wees, het sy haar grimering probeer aansit. Veral as daar (opsetlik) vinnige draaie gegooi is, het haar oogpotlood gewoonlik 'n krom lyn tot anderkant haar oor getrek. Haar lipstiffie het gereeld 'n wang besmeer en enkele kere het 'n blerts blou eye-shadow haar voorkop versier. Toe blameer sy my dat haar bynaam onder die kinders Ou Voëlverskrikker was.
Hier op SêNet het ons ook uiters versigtige vrouebestuurders. Wanneer Douwleen nie seker van 'n roete is nie, hou sy die padkaart op haar skoot en bestudeer dit noukeurig terwyl sy bestuur. Dis tog te verstane dat sy wil weet of sy op die regte pad is?
Wini, weer, kruie só versigtig aan dat sy al geleer het om 'n lekkerleesboek saam te karwei. Dis vir wanneer sy keer op keer s-t-a-d-i-g in slote op die verlate vlaktes beland. Dan trek sy die boek nader en lees heerlik totdat daar redding opdaag.
Die manne wat soos mal hoenders rondjaag, kan rêrig maar dink wat hulle wil van ons vrouebestuurders. Ons kan ten minste planne maak!
Ellen B


