Gistermiddag het ek vir die soveelste keer Dr Zhivago op TCM gekyk. Dit is een van die rolprente wat ek as tjokker met my ouma by 'n fliek in die sestigs in Marabastad gekyk het ... en dit was ingeprent, veral die temaliedjie.
Gister het ek egter met nuwe oë na die rolprent gekyk. Een van die dinge wat my belangstelling geprikkel het, was die geweldadigheid (boosheid) waartoe mense in staat is om politieke mag te verkry (of te behou).
Dan is daar een toneel wat meesleurend is. Die karakters Lara en Komarovski bespreek (sê-vra) aan mekaar oor die moontlikheid dat Zhivago dalk Rusland sou verlaat. Komaroski maak dan die opmerking: "Nee, hy sal nie. Hy is te lief vir poësie. En niemand is so lief vir poësie soos 'n Rus nie."
Dit is eintlik verbysterend dan om daaraan te dink. Hoe 'n nasie wat van dig en skryfkuns hou, soveel van sy voorste skrywers ingeperk het omdat hulle andersdenkend was. Hoeveel van hulle het nie in strafkampe beland nie?
En hoe 'n soortgelyke benadering in Suid-Afrika gevolg is. Inperkings, arrestasies, boeke wat verbied word ...
Pasternak se boek is gebaseer op die karakter Yuri en sy stryd tydens die Eerste Wêreldoorlog, die Revolusie (1917) en die Burgeroorlog (1918-1920). Dit is roerend, en myns insiens steeds een van die grootste werke van die 20ste eeu.
Vanoggend noem ek aan iemand dat die boek beslis op 'n manier dalk 'n indruk op André P Brink gemaak het. Want daar is 'n sterk verband tussen Dr Zhivago en 'n Droë Wit Seisoen.
Waar Yuri met die elemente, die Russiese leër, bolsjewiste en magsugtige karakters te doen kry, word Ben du Toit in 'n stryd van sy eie gevind.
Onwillig word hy by die apartheidstryd betrek weens Gordon Ngubene se seun se betrokkenheid in die vryheidstryd. Dié keer is die magsugtiges veiligheidspolisielede en veral die karakter Stolz.
Vir diegene wat in die tagtigerjare die Mediaraad-verhoor tussen The Star en Allan Boesak bygewoon het oor klankbande van 'n vermeende seksverhouding met 'n wit SARK-werkgewer, sou Stolz bykans 'n realiteit geword het.
In die verhoor het die SAP en sy veiligheidshoof alles verteenwoordig wat Stolz se karakter uitbeeld. Mag, 'n onwilligheid om daaraan te dink dat dié mag verloor kan word en arrogansie.
Terug by die boek, het Ben, net soos Yuri, 'n vrou en minnares gehad. Susan en Melanie teenoor Zhivago se Tonya en Lara. Albei mans verloor hul liefdes. En ondanks tekens dat die stryd wat hulle stry verlore is, oorwin hul standpunte in werklike lewe jare daarna.
In Ben se geval toe FW de Klerk sy dramatiese aankondiging in 1990 gemaak het, die ANC ontban het en Nelson Mandela vrygelaat het. In Yuri se geval in 1989 toe die Berlynse Muur geval het.
Albei boeke is vol geweld, passie en liefde/lojaliteit teenoor die land wat so vergryp.
Yuri


