Namib, ou pel , ou maat, mý landgenoot. Jy laat my vandag verlang na vergange se dae. Die dae van egte Oosweer, dik mis en ’n dosyn 5kg kabeljoue voor ontbyt.
Ek onthou Swakopmund met snotgladde soutpaaie, Bonusmark en sy Sondagmiddag-hoenders en natuurlik dik sappig gebraaide galjoene van myl 4. Ek onthou Swakop sonder Venetia, sonder vierwielspore in die duine. Die ou Woerman & Brock en grafte in die Swakoprivier.
Ek onthou springbokjag agter die Rössingberge en oom Hannes Gagiano se gat by myl 110. Café Anton se Black Forest koek op ’n eensame driedag pas vanaf die grens. Ek onthou my skelm trane agter die soutpanne oor ’n nooientjie wat my afgesê het weens ’n pa wat geglo het ’n polisieman en die pa se skelmjag-eskapades in een familie sal nie werk nie.
Ek onthou om Roelf Gossouw en sy trokke vol blikkiesvleis tussen Swakop en Oshakati, my gereelde wiele tussen grens en huis.
Ja Namib, dit was die dae, die dae van die witmosselriel op Langstrand, kreefduik by Vierkantklip, woestynrose grou by myl 4, die staalwrak by myl 14 en ou boilers in die sand, oorblyfsels van die Dunedin Star by Möwebaai.
Nou is daar net stof en spore. Die Republikeine val soos klokslag, vier maal per jaar, ons land en sy woestyn binne. Dit wat hulle nie met viertrekvoertuie of vierwielfietse kan vernietig nie word teruggedra na die Republiek as oorlogsbuit. Daar vergader dit stof in ’n eensame beknopte kas. Net om te wys – ek was daar!
Soms wonder ek of ons herinneringe nie ouer as ‘hulle’ s’n is nie en of ons nie moet vassteek en die Republikeine terugjaag oor die grens. Sal dít nie iets wees om te onthou!
Prost-prost, kameraad.
Swerwer


