Bokomo-brekfisbrief; 04/06/09: As Afrikaans ʼn vrou was

  • 0

 

 

As Afrikaans 'n vrou was en ek haar man, het ek die tafel ongedek gelos.

Sy staan by die ruit, haar deursigtige wit bloes balsem haar ferm kontoere in die vrugtige herfslug. Sy kyk nie na my nie, sy kyk hoe die lewe buite haar koninkryk verfraai.

Ek stap na haar toe en ruik liggies aan die norra van haar nek. Sy ruik soos omgeploegde landerye wat wag vir sonneblomkroonblare en lang, swaar koringgerwe. Sy ruik soos die sweet van 'n stad op 'n warm polsende nag.

Ek vat aan haar middel, sy voel soos kwepers, klei en die verbeeldingsvlugte van 'n duisend dromers wat hulle toekoms en verlede vir haar opgeoffer het.

Ek druk my hand onder haar bloes, haar tepels is orent en soepel onder my palm. Ek kan hoor hoe sy saggies 'n ligte asemsproei teen die helder glas laat. Ek vryf oor haar maag en omring haar naeltjie met myne. Sy druk haar heupe liggies en gewillig na agter en draai haar mond na my toe.

As Afrikaans 'n vrou was, en ek haar man, sou ek haar hand vat en haar na die eetkamer lei en die tafel met haar dek.

Chris Wait

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top