Bokomo-brekfisbrief; 04/05/2010: Hein

  • 0

Klein mannetjie. Skraal met dik brilglase. Die lyne van die lewe hard en duidelik op sy gesig afgeteken. Want as die lewe nou eenmaal iemand harde houe toegedien het was dit vir hierdie man.

Ek wil nie te veel persoonlike dinge praat nie, maar kom ek beduie dit sonder om te veel weg te gee.

Van jongs af het hy letterlik die pot goud aan die einde van die reënboog in sy skoot ontvang. Groot erfporsie, blink loopbaan en, ingetrou in een van ons designer-families. Met sy gat in die spreekwoordelike pot botter geval.

Groot gronde doer in die Wes-Transvaal en duskant die Molopo en nog 'n paar plekke geërf. Maar hy was nie 'n boer nie. En ons weet mos maar hoe werk dit met erfgoed. Tog het hy 'n designer-huis in een van die gegoede voorstede kon koop en sy vroutjie met al die nodige geriewe oorlaai. Maar vroutjie was nie sommer enige vroutjie nie.

Advokaat. Op die Balie nogal. Nee, die properste Balie. Later regter. Later nog bietjie meer as regter. En dinge het mos maar 'n natuurlike manier om soort van in 'n rigting te beweeg selfs al wil mens dit nie so hê nie. En soos dinge gaan is geld en status en al die goete net eenvoudig nie meer goed genoeg nie. En hier gaan ek nie verder vertel nie, want dit begin nou publieke inligting te word.

Om die lang storie kort te maak: Die mannetjie het in 'n karavaan opgeëindig op 'n duin. Iewers waar niemand sy naam en beslis nie sy van sal herken nie. Volgens die advokaat wat hom jammer gekry het was hierdie man 17 keer in polisieselle. En op al die aanklagte onskuldig gevind. Hulle sê die dag toe hulle hom die laaste keer vrygespreek het het die regter hom om verskoning gevra en beduie dat hy basies baie onnosel sal wees as hy nie die staat en feitlik almal wat leef of beef dagvaar vir skadevergoeding nie.

Vanmiddag beduie die man my dat hy nou vir die eerste keer in sy lewe gelukkig en vry is. Hy kry swaar want hy moet water aanry in 25 liter kanne. Sy stort is iewers hier aan die kus onder die sterrehemel. Sy kos is droë brood en die konfyte wat ek kook. Hy sê vir my dat hy dikwels terugverlang na dit wat hy gehad het, maar dat dinge nou tog, in 'n bisarre sin veel voller is as voorheen.

Ek moes my kop skud want ek is nie in sy skoene nie. Ek bekyk sy hanne en daar is nie harde eelte nie. Maar as ek na sy gesig kyk dan kan ek sien dat hy tog eelte het. En die ironie wat vir my die verstommendste van alles is: Hy het nie "grudges" nie, al het hy meer as genoeg rede om te hê.

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top