Bokomo-brekfisbrief; 04/05/08: Ra Mavenster

  • 0

Dit is hoe die "gewone" mense hierdie man gegroet het. Omdat hy deur vensters gekyk het. Want sien, Mavenster het brille gedra (hy kyk deur vensters). Swartraam. Outyds. Ek onthou hoe Die Sir hom kom koebaai sê het toe Mavenster die paradys van Botswana gegroet het. "No, sir, I must go back." En Sir Seretse het verstaan. Mens moet mos maar teruggaan na jou wortels, al is die afskeid ook hoe hard. Ek onthou die breek in sy stem toe hy vir hierdie klong vertel: "Nee, die beeste kan nie saamgaan nie." Ek onthou daardie besonderse kyk in sy oë toe hy by die kraal omdraai. Ek onthou die trane toe hy vir Polina moes groet. Polina wat ʼn moeder vir my was. Ek onthou hoe hy verduidelik het dat dit nie anders kan nie. En ek wat eenvoudig net nie kon verstaan nie. Polina het die beeste gekry. Ek het later gehoor dat sy tog daarmee gewoeker het. En sy rus nou.

Ek onthou hoe Mavenster nagte deur moes swoeg om die pot aan die kook te hou en hoe "Mrs Oppenheimer" hom telkemale huis toe gebring het. Laatnag. Sy kon eenvoudig niemand anders met haar finansies vertrou nie. En hoe hy nooit gekla het nie. Hy het geweet: Die kinders moet eet, die kinders moet geleerdheid kry. Niks, geen ander edel doel is hoër as dit nie. Ek onthou soos gister toe Mavenster gebel het. Toe ons in Sunnyside gekrepeer het van ellende: Julle moet kom, Dr Chris (Barnard) het sy konsessies verkoop. Kom. Kom ons bewerk dit. Saar het my een kyk gegee en gesê: "Dit is goed. As ‘Mavenster’ gesê het dit is OK, dan is ek in!"

Ek het gesien hoe Mavenster die Blou Dam trotseer het. Hoe hy, toe ander gedink het "die ou man het verdrink", opgekom het en ons uitgeskel het omdat ons nie asem het nie. "Hompies, hierdie klogoed kan nie by ons hou nie!" hoor ek hom al. Ek het gesien hoe hierdie groot man die mooiste stene maak vir treurende wewenaars. “ʼn Grafsteen is jou laaste woorde op aarde. Maak dit mooi, want hiervandaan is jy niks!" Ek het gesien hoe groot manne voor hierdie eenvoudige man klein raak. Ek het gesien hoe die armlastiges, die uitgeworpenes, soos konings gevoel het as Mavenster met hulle gepraat het. Want sien, hy het nie klas, ras of status gesien nie. Hy het ʼn mens gesien. Ek onthou hoe hy vir "Tandjies" soos ʼn kwien laat voel het as sy by "***** se winkel" uitgestap het. Bloot omdat niemand gedink het "Tandjies" is ʼn mens nie. Want soos Mavenster gesê het: Sy is ʼn moeder, en sy verdien respek, al werk sy vir R100 ʼn week!” En tog het hy my geleer om nie die boer te haat wat sy arbeiders (Tandjies, in hierdie geval) uitbuit ten koste van eie gewin nie. "Hy sal sy loon kry, die een of ander tyd." En so sterf die betrokke man ʼn baie nare dood, en ek wonder of ***** sy loon gekry het? En so kan ons aanhou oor Mavenster, maar woorde dien geen doel as dit nie gelees word nie.

Tog wens ek, terwyl jy op jou laaste is, Mavenster, dat net een SêNet-leser jou kon ontmoet. Ek wens soms ek het woorde om my respek te kan betoon. Dok Terrie het dit egter baie mooi opgesom: "Los jou pa, hy het ʼn vol lewe gelei. Hy kan nie meer nie."

Hoe vertel ek aan iemand dat die verlies van hierdie groot MENS, Ra Mavenster, ʼn verlies nie net vir my en die menigte wat hom innig liefhet, is nie, maar ook ʼn verlies is vir hierdie land? Hoe groet ʼn mens jou grootste HERO? Hoe groet mens jou PA?

Dalk groet ʼn mens nie so iemand nie, jy probeer in sy onmeetbaar groot voetspore volg? Is die nalatenskap hoegenaamd ʼn troos?

Hoekom is mens se hart so seer? Hoekom? Hoekom lê die trane so vlak? Fok, dis seer!

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top