Nee, dalk het ons musiekgewys meer in gemeen as wat op die oog af so mag blyk.
Die 50’s se musiek is bepaald ook vir my ʼn mylpaal, want dit is ook die tyd van die bop, twist en rock-n-roll. Die musiek van daardie era is meestal vrolik, lewendig, soos ook die lirieke en die legendariese love songs (“liefdesliedjies” gaan net nie op vir dáái musiek nie) en laat mens selde in ʼn slegte bui.
Wat jou plateversameling aanbetref, het jy ʼn baie kosbare besitting daar. Ek is só spyt dat ek myne nou kwyt is. Ek het gehad plate van my ouers se 78-spoed bakeliet Caruso, Nelson Eddie & Jeanette McDonald, die 33 1/3 plate van die Ventures, ens, solus sewe-treffers, regdeur tot die treffers van ons jonger dae.
Ek dink jy sal wys wees om na jou kinders se raad te luister om dit om te skakel na CD’s, want dit word baie suksesvol gedoen. Jy verloor nie jou versameling nie, maar gee dit weer nuwe lewe en ʼn welverdiende ruskans. Jy kan jou Phillips dan ook ʼn ruskans gee, en tog weer dit gebruik as jy die keer lus het. Intussen gebruik jy die CD’s om te luister. Hulle kan tot die plate se omslae reproduseer as CD inserts.
Uiteraard het Elvis baie deure opgemaak vir die generasies wat na hom gevolg het. Nes jy met latere musiek ervaar, ervaar ek dit met die musiek van die 50’s. Destyds had ek min behae daarin, maar deesdae is dit vir my opbeurend en geniet ek dit baie. Soos ʼn mens meer volwasse word, dink ek, is mens beter in staat om musiekdinge te waardeer vir wat dit werklik is.
Ek is nogal verbaas dat jou kinders nie meer na Led Zeppelin wil luister nie – bravo vir jou wat dit wél doen! Wat betref AC/DC en Osborne se geskrei en waansinnige manewales, had ek nog nooit waardering daarvoor kon ontwikkel nie. Maar Led Zeppelin? Man, dié ouens was bepaald meesters in hul genre. Page was ʼn perfeksionis en uiters kreatief met klankhantering in die studio. Sy voorkeurkeuse van kitaar (Gibson Les Paul) met die Vox AC 30-versterker, het superieure kwaliteit verleen aan hulle produksies. Hulle musiek was gevarieerd, en uiters kreatief. Plant se stem se unieke tonale kwaliteite, het soos ʼn handskoen gepas by die musiek wat hulle self geskryf het, en natuurlik ook sy vermoë om aus vollem halse te sing, sonder inhibisies. Jones se baskitaarspel was meesterlik en altyd op plek. Bonham se tromwerk, ook so. Briljant. Dié kêrels se vermoë om ʼn geweldige verskeidenheid van snaarinstrumente, regdeur van hurdy gurdy tot by die elektriese kitaar, soos kenners te kon aanwend, het net die musikale prentjie vir hulle verbeter. Weereens aangeleerde smaak, maar eens aangeleer, dan bly hulle ou musiek onder die vel, vandag nog. Die ander interessante verwikkeling is dat Led Zeppelin se musiek weer begin gewild word.
O ja. Pink Floyd ... meesters in eie reg. Hulle was die baanbrekers wat met verskillende klanke geëksperimenteer het en dit kunstig by hulle musiek geïnkorporeer het – "Money", "Time" en vele ander.
Jethro Tull. Musikale meesters wie se Ian Anderson die Sjinese fluit met wilde danspassies passievol en indringend-oorheersend kan aanwend, dat jy agterna verstom staan.
Dan is daar natuurlik die legendariese 69 Woodstock Music & Arts Festival – sekerlik die grootste musiekgebeurtenis van die afgelope eeue, en waarskynlik nie weer te herhaal, wat sukses op alle vlakke aanbetref, nie. Die konsertkonsep was “Love Peace & Music”, en hierdie drie begrippe is uitgeleef oor die bestek van 3 dae totdat die ganse wêreld daarvan kennis geneem het. Die brûe is gebou, en die berugte “generation gap” is afgebreek deur die onverdunde liefde, vrede en musikale virtuositeit wat uit daardie fees gegroei het. Daar is vooroordele vernietig, verdraagsaamheid beoefen en ope gemoedere het die dae gedra. Van Joan Baez se Country die klaende eentonigheid van “The Night They Drove Old Dixie Down”, verby Joe Cocker se briljante “With a Little Help from My Friends”, Janis Joplin en Jimmi Hendrix se radikale weergawe van “Summertime”, regdeur die genres tot by Ten Years After al die pad uit Engeland, se laatnag polsende woeste maar heerlike “Goin’ Home” – alles is ingedrink en waardeer, en almal deur die bank, is met applous begroet.
Sal nóg so ʼn musiekfees ooit weer kan plaasvind? Sal mense wat deesdae so radikaal van mekaar verskil en van mekaar vervreemd raak, ook weer deur musiek herenig word?
Wie weet, dalk weer …
En ja, die klasieke musiek –wanneer alles weer rustig word. Die kersie op die koek.
Groete
Kobus de Klerk

