Bokomo-brekfisbrief; 03/12/09: Geskenke

  • 0

Dis amper weer Kersfees.

Vir die meeste kinders is dit 'n tyd van opgewondenheid en afwagting om te sien of Kersvader tog asseblief hierdie jaar die geskenke wat hulle gevra het, sal bring.

Vir ons grootmense?

Rondhardloop van winkel tot winkel om presentjies te soek vir familie en vriende. Om tuis te kom en te besef jy't vergeet om geskenkpapier en plakkertjies te koop. Om die volgende dag die tog winkels toe taamlik moerig te herhaal. Gefrustreerd met die malende massas oral waar jy gaan, kom jy doodmoeg tuis - en terwyl jy pakkies opmaak, wens jy amper dat jy soos Pa en Oupa kon gemaak het. Dié twee het in die jaar toet vir mekaar net een geskenk gegee met 'n onderlinge ooreenkoms: Pa het vir Oupa 'n das gekoop en Oupa se present aan Pa was 'n boksie katoensakdoeke. Elke Kersfees, solank as wat hulle geleef het, is dié twee geskenke omgeruil - een Kersfees kry Oupa sy das, die volgende jaar die sakdoeke - en op dié manier het hulle die res van die familie tevrede gehou.

'n Paar jaar gelede beland ek vir tien dae in die Karl Bremer Hospitaal. Dit was 'n donker tyd in my lewe, met 'n oorweldigende vrees dat ek nie lewendig daar sou uitkom nie. Boonop het die grys winterweer nie juis gehelp om verligting vir die gees te bring nie, maar die dokters en verpleegpersoneel het elkeen van ons pasiënte op die hande gedra. En met behulp van medikasie, gebed, simpatie en grappies kon ek teruggaan huis toe.
Net daar is die besluit geneem om die komende Kersdag vir die personeel iets te gee as blyk van waardering vir hulle opofferende liefdeswerk. Maar wat?

Kerstyd nader. Daar's nie geld om vir elkeen by die hospitaal 'n geskenkie te koop nie. Een van my vriendinne kom met 'n oplossing. Waarom gaan speel ek nie harp by die hospitaal nie? Sy sou sorg dat die nodige vervoer gereël word. Die harp is 'n groot en uiters sensitiewe instrument wat nie in 'n gewone motor vervoer kan word nie, en sy kommandeer 'n ander vriendin op om hulle Kombi tot ons beskikking te stel.

Kersoggend is daar plek vir net die drie van ons saam met die harp in die Kombi. Ons kom by die hospitaal aan. Die plek is amper leeg, omdat pasiënte liewer Kersdag by hul eie mense wil deurbring. In 'n paar sale lê daar ernstig-siek mense, of dié wie se familie te ver woon om hulle te kom haal of te besoek.

Ek stem eers die harp goed in en speel dan in elke saal 'n paar stukkies. Die uitdrukking van verrassing en vreugde op die gesigte van die siekes wanneer hulle na die harpspel luister, is vir hulle - sowel as vir ons drie - 'n baie spesiale Kersgeskenk.

By die laaste semi-privaatsaal waar ons aandoen, waarsku die verpleegster dat die een ou dame reeds op sterwe lê. Ons dra die harp tot baie naby, tussen die twee beddens in. Ek begin saggies speel, eers Stille Nag en daarna Amazing Grace. Dit is doodstil in die kamer. Die sterwende maak haar oë oop, kyk na ons en vra met verwondering: "Is ek al die hemel?"

En daar, op die vreugdevolle geboortedag van Christus - en die stil sterfdag van die ou dame, kry ek ook my geskenk: my angs en vrees vir die dood was nie meer daar nie.

Met die terugrit is elkeen van ons met ons eie gedagtes besig.
Ek dink aan die sterwende dame. Sy't nie gevra of sy nou in die hemel is nie, maar of sy al in die hemel is. Wat 'n wêreldse verskil maak dié laaste paar woorde van 'n gelowige sterwende nie aan lewende gelowiges nie!

'n Geseënde Kersfees vir die LitNet-span en al die SêNetters toegewens

Ellen B

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top