Bokomo-brekfisbrief; 03/11/08: Die swart Steinway

  • 0

 

 

Julle sal merk dat ek relatief minder mooi goed oor die manne sê. Sien, my pad het net eenkeer "romanties" met ʼn man gekruis, en vergun my ʼn kort verduideliking.

Jare gelede, voordat ek myself in die selibaat-na-buite-staat van heilige eg verbind het, het ek gereeld in die Mmabatho Sun oornag. Daar het die allermooiste blonde meisie saans in die eetsaal klavier gespeel, en ek het gereeld vir haar requests op ʼn servet geskryf, met ʼn gepaste pennevruggie onderaan, en dit via die waiter aangestuur.

Langtermynbelegging, so het ek gedink, en kort voor lank het goeie vibes oor my kinderlike gebaar sigbaar geword. Sy het my versoeke meesterlik vertolk en bepaalde aspirasies by my aangewakker. Ek was aan die aansterk na ʼn massiewe liefdesteleurstelling tydens die 1976-onluste en enige aandag van die skoner geslag het my siel deur die donker moeras getrek. Een aand, toe ek reken die tyd is nou more or less reg, het ek eers die versie sorgvuldig in my kamer geskryf voordat ek gaan eet het, en ook eers so ietsie ligs in die lounge langsaan gedrink.

Tussen die lounge en die eetkamer is ʼn mooi room divider - jy sien nie veel wat anderkant aangaan nie, maar jy hoor die pragtigste suiwer klaviermusiek bo die versperring uitstyg wat selfs siellose mense ontnugter. Die einde van die boodskap op die servet was meer duidelik dié keer, iets soos:

"Thy magic fingers touch a lonely heart at loom
so tender, gentle as the first touch of the groom

..... I invite thee ...
to have a drink with me ...

Trust thou the motive of a humble man ...
Cometh as swiftly as thy can"

"Rustle of spring" se verruklike soet doudruppels het die soel aandlug gevul, en ek het solank die mooi toegevoude servet met die boodskap aangestuur met ʼn versoek vir my gunsteling song, "Remembrance", gevolg deur die skepping hierbo.

Maak haar hart week voordat sy my rysige gestalte na ʼn week van kinderlike verlange weer sien. Anyway, "Rustle of Spring" se aangrypende slot-oktawe word in overdrive gesit en vorm saam met "Remembrance" se soet opening ʼn orgasmiese eenheid, en sonder komma of punt, of enige beduidenis van ʼn aarseling word die soetste gekombineerde melodie opgetower.

Die grand finale is aangrypend mooi met ʼn ondefinieerbare, half dwingende sensuele ondertoon. Hel, sy dink dieselfde ... haar song sê dit! Ek hoor hoe die swart Steinway se deksel grasieus toegemaak word.

Interval.

Die meisie met die siel en lae hals kom die beloofde drink saam met die maplotter wat sy lyf Cassanova hou, geniet ... Ek memoriseer die mees eksotiese cocktails se name: Marguerita, Harvey Wallbanger, ek dink aan die reuse palms buite langs die swembad.

Bliksem, ouboet, vanaand is die aand van welverdiende rentmeesterskap, maar die best-fit scenario wat ek ʼn week lank in my gedagtes vertroetel het, het toe so ietwat anders geëindig.

ʼn Statige fyn mannetjie in ʼn aandpak se swaaiende pinkie en blink gesig verskyn bo die room divider tussen die lounge en die eetsaal, soos wat hy paraat opstaan vir sy missie, en vir ʼn oomblik lyk dit asof hy die swart Steinway wil soen.

Ek ontwikkel blitssnel ʼn taktiese pis, en verwyl die res van aand dankbaar voor die TV, met ʼn room service hamburger en ʼn paar doubles.

Groete,

Ryperd

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top