Nouja, ons het geweet dis op pad en uiteindelik is die lang wag verby. Vir die afgelope paar maande sien jy gereeld sulke "teasers" in die flieks oor die veelbesproke Hansie-fliek. Dit het uiteindelik Vrydag amptelik hier geopen en nie een van die resensies wat ek hier in die Kaap gelees het, gee dit meer as twee sterre uit vyf uit nie.
Ek moet erken dat ek nie 'n krieketondersteuner is nie en dat my kennis van die spel en van Hansie Cronjé beperk is tot dit wat ons in die koerante oor die man kon lees. Die fliek handel egter nie slegs oor die spel of oor die korrupsieskandaal en die latere King-kommissie nie; nee, dit gaan oor Hansie die mens. En as sodanig was ek geprikkel om dit te gaan kyk.
Ten eerste behoort daar 'n geskrewe reël te wees wat naaste familielede verbied om flieks te maak oor hulle naasbestaandes. Noel Coward het dit so goed gestel: Mrs Worthington, don't put your daughter on the stage. Daar is net nie die nodige afstand tussen die filmmaker, die skrywer van die draaiboek en die onderwerp van die film nie.
Die fliek is, myns insiens, epies, met groot vistas en skares by tye en opswepende musiek. Dink aan 'n Suid-Afrikaanse David Lean-tipe fliek. Hansie se lewensverhaal word in die breë geskets vanaf sy laerskooldae tot en met sy dood. Vir die krieketfanatici is daar grepe uit sommige van die hoogtepunte in sy loopbaan en selfs 'n paar stadige-aksie-houe.
Verder word die fliek later 'n stewige morele les vir die kyker en het ek by tye gevoel soos 'n kind wat visuele lepels kasterolie ingegee word. Ons, die kykers, moet uit die bioskoopsaal uitstap met die gevoel dat ons 'n les geleer het.
My groot probleem met die film is dat dit nie werklik die wortel van Hansie se val, sy selferkende liefde vir geld, aanspreek nie. Hansie word geskets as 'n baie morele man wat 'n verkeerde besluit of twee geneem het en wat later berou getoon het daaroor. Dalk het ek net meer van die fliek verwag of dalk moes hulle net nie die fliek gemaak het nie. Hansie word deurentyd beskryf as 'n opperste held vir al wat 'n skoolseun is en hy word geprys vir sy leierskap en sy Christenskap en sy tweede bekering word deeglik aangeraak. Hoekom voel ek dan steeds so onvergenoegd na die film?
Die ander probleem, en vir my is dit 'n groter probleem as die eerste, is dat die film in Engels gemaak is. Verstaan my goed, ek is nie 'n taalpuris of 'n stoere taalstryder nie, maar vet weet, dis darem net te dik vir 'n daalder dié. Die verhaal gaan oor Hansie die mens. En hier praat die hele Cronjé-gesin, ag, almal in die fliek praat regdeur Engels. Dit maak net nie sin nie. Ek is seker Frans Cronjé en Regardt van den Bergh sal sê dat dit die internasionale verspreiding van die fliek vergemaklik, maar dink weer, broers. Myns insiens kan die fliek met onderskrifte wegkom. Hoe groot is die internasionale mark vir die film in elk geval?
Laastens het ek verplig gevoel om my deel te doen om die fliek te sien, aangesien die vervaardigers skynbaar finansieel noustrop trek en daar berigte is dat van die byspelers en ander tegnici steeds nog nie betaal is nie. En dit vir 'n film met hierdie reuse morele les oor geldgierigheid onder andere ... Iets is nie reg nie.
Ag, ek kan nog aangaan en verder kla oor byvoorbeeld die Amerikaanse aktrise wat Bertha speel, se gebrek aan 'n Afrikaanse aksent, maar ek volstaan hierby. Ek is tien teen een in die minderheid met my siening, maar ek het gevoel dat ek graag sou wou hoor wat ander Sênetters sê. Hansie is after all, soos die fliek ook uitwys, in 'n meningsopname aangetoon as die elfde mees belangrike Suid-Afrikaner van alle tye. Wat sê dit van ons as nasie?
Wat sê die ander SêNetters?
Ludolf Parker


