Bokomo-brekfisbrief; 03/09/08: Boesmans - Mien en Krokodil

  • 0

 

 

Krokodil, in jou skrywe is baie diepgewortelde aktualiteit versteek. Mien skryf van die metafisiese transendensie wat Totius, Keet en Kestell bewerkstellig het met hul Afrikaanse Bybelvertaling. Wanneer jy haar ware woorde lees dring dié besef tot jou deur: oppervlakkige mense se metafisiese belangstelling het geen inhoudswaarde nie. Hulle kan slegs gesprek voer oor kultureel-relevante metafore wat in die Bybel gevind word maar ignoreer geriefshalwe die beeldende metafore van baie ouer kulture en hul opmerklike religieuse sereniteit.

Die interpretasie van die geskiedenis as 'n proses van dialektiese ontwikkeling is een van die belangrikste begrippe in die Christelike filosofie. In die konteks van "historiese dialektiek" het 'n verwronge beeld van die boodskap, soos deur die vroeë Bybel skrywers aangeteken, na ons oorgespoel en is verdoemend swaar op die gemoed en psige van ons "moderne" nakomelinge. Totius, Keet en Kestell se werke moet egter ook gesien word teen die intellektuele agtergrond van die vormende jong Afrikaanssprekende afhanklikes, waarvan die ideologies-filosofiese diskoerse grootliks gevorm en omvorm is deur intellektuele wat deel gevorm het van 'n losse filosofiese groepering, die sogenaamde Calvinistiese of Protestante bewegings met hul teelaarde gesetel in Europa. Ons moet onthou dat die Europese diskoers in ʼn "verligte eeu" sy beleidsvorming beleef het en dat die "nuwe" Afrikaansegemeenskap nie deel daaraan was nie.

Dirigisme (strewe na staatsbemoeiing) vanaf 1910 het ook 'n verdere invloed op die nasionalisasie van Christenisme (kan dit 'n -isme verklaar word?) gehad en is dit aangewend as 'n strategiese hulpbron in die vorming van 'n geslote Afrikanergemeenskap.

Met bg as agtergrond is die onverdraagsaamheid binne 'n Christelike konteks meer verklaarbaar, alhoewel nie aanvaarbaar nie. Lank gelede het iemand vir my die volgende in 'n brief geskryf: "Man's belief in an immortal soul has led to immorality in mankind." Ek weet nie of ek al meer wyse woorde as dit gelees het nie. In ons Christelike opvoeding maak ons duidelike onderskeid tussen heiden en gelowige. Alle ongelowiges word in geloof verdoem tot 'n gejagte, en indien die metafisiese transendensie van geloof nie beperk word tot redelikheid nie, tot uitwissing van die "ongelowiges".

In Christiaan Botha se //Kabbo op die ysterspoor word die sprei tussen waarheid en verdigsel, feit en fiksie op allerlei wyses geïllustreer. Die vorming van 'n Boesman, //Kabbo, tot gelowige en op die einde waar hy terugkeer na sy God, Heitsi Eibib, waar hy 'n metafisiese transendensie vind in sy (Heitsi Eibib) se oeroue Goddelikheid. Wat ook opval is die titel vir die boek, die woord !gwe is deur die Boesmans gebruik om beide boeke en briewe te beskryf, die woord ||kabbo verduidelik ʼn innerlike klop in hulle liggame wanneer hulle aanvoel dat iets gaan gebeur of dat 'n wese in aantog is. Losweg kan dit geïnterpreteer word as ʼn Boesmansbrief, waar die klop in die liggaam die brief is van wat gelees moet word. Probeer dan 'n korrelasie tref tussen ons sesde sintuiglike beskrywing en die Boesmansbrief, dit is hoe ver ons onderskeie Gode van mekaar verwyder is.

Hieroor skryf Weideman (1993) in 'n artikel wat in Tydskrif vir Letterkunde verskyn het met die titel "Van halfmense en volmense", soos volg:

Dis eenvoudig dit: dat alles wat ons se en skryf en doen op die ou end met ons plek - ons bestaansruimte - binne die groter geheel te make het. Daardie groter geheel is leefomgewing - dis ruimte vir die Self en ruimte vir die Ander. Om te skryf, is om om te gee ... 'n Breër, volledig-mensliker visie is nodig, en ons is dit verskuldig aan hulle wat nog kom dat daardie visie die simbiotiese verwantskap tussen aarde en aardbewoner en aardbewoners onderling minstens as 'n soort matrys - juis, volgens die Grieks: baarmoeder - voorstel.

Is dit genoeg om te sê dat ons nodig het om eerbied en respek te toon aan dié wat lank, lank voor ons die aarde bewandel het, en om ons respek te toon moet ons dit wat vir hulle heilig was so erken en bewaar.

Swerwer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top