Bokomo-brekfisbrief; 03/08/08: Einstein se avonture – aan alle kognitiewe realiste

  • 0

Albert Einstein het in Julie 1905, toe 26 jaar oud, sy relatiwiteitsbeginsel geformuleer terwyl hy maar net ‘n graad 3-klerk in Switserland was, en dit toe aan die bekende tydskrif Annalen der Physik in Berlyn, Duitsland gestuur. Drude, self ‘n wetenskaplike, was die redakteur en nadat hy die sowat 30 bladsye gelees het, het hy besluit om dit te publiseer, maar daar was nog twyfel oor die ruimte-tyd beginsel wat vier dimensies impliseer.

Een van die aspekte van die relatiwiteitsbeginsel is dat fotone, wat geen massa het, wel deur swaartekrag aangetrek kan word, wat ‘n geweldige anomalie is. In die stuk is die formule vir die atoombom E (energie) = m (massa) x C kwadraat, as ‘n laat aanhangsel, ook vir die eerste keer beskryf. C kom van die Italiaanse woord celeritas, gedefinieer as die snelheid van lig.

In 1906 word daar toe ‘n Fisika-kongres in Engeland gehou en Einstein is een van die gassprekers om sy nuwe ontdekking te verduidelik. Baie mites om bekende en beroemde mense ontstaan gewoonlik waar kontroversie heers, en die kongres was die ideale plek, maar ‘never let the facts interfere with a good story’.

Tydens vraetyd word Einstein gepeper met vrae en uitroepe van ongeloof. Die voorsitter stel dit aan hom dat daar ‘n 100 wetenskaplikes is wat nie met hom saamstem nie. Sy kalm antwoord was dat net een persoon se bewys dat hy verkeerd is, vir hom genoeg sal wees en hy dit sal aanvaar. Dit gaan nie vir hom oor getalle nie, maar fisiese bewyse. Intellek het vir hom nie oor wat die meerderheid te sê het, gegaan nie.

Die eerste geleentheid om sy beginsel van ligbuiging verder te toets was met ‘n volle sonsverduistering wat toe eers in Mei 1919 na die Eerste Wêreldoorlog kon plaasvind. Engeland het as mede-oorwinnaar na die oorlog ‘n skip beskikbaar gestel om die waarnemings aan die kus van Afrika by Senegal te maak. Die kameras was nog maar primitief – van die soort waar die plate van die kant af ingeskuif was en dan later ontwikkel moes word.

Einstein het intussen die massa van die son bereken en ook die hoek wat lig van ‘n ander ster dan nou om die son sou buig tydens die sonsverduistering.

Die aand toe die nuus bekend gemaak sou word, was Einstein saam met die opgewonde wêreldberoemde kwantumfisikus, Max Planck, en ook ‘n paar ander wetenskaplikes, bymekaar.

Toe die nuus teen tienuur nog nie bekend was nie, het die selfversekerde Einstein op sy horlosie gekyk en gaan slaap.

Die nuus het toe later die nag deur gekom en Einstein se voorspelling was korrek bewys tot die naaste 0,006%.

Toe hy die volgende oggend wakker word, was hy onmiddellik wêreldberoemd en almal wens hom geluk. Toe hoor hy dat die ander glad nie die nag gaan slaap het nie. Hy was toe baie verontwaardig en hy verwyt Max Planck toe dat as hy werklik relatiwiteit verstaan het, dan sou hy ook gaan slaap het soos Einstein.

Later die oggend het die persmanne tou gestaan om onderhoude met Einstein te voer en talle het hul koerante se spertye gemis. Een jong Engelse persman vra hom later: “Mnr Einstein, sê nou, sê nou net die eksperiment het nie gewerk nie, hoe sou u gevoel het?”

Einstein antwoord hom: “Then I would have felt sorry for God, because it had to work.”

Die beginsel van Einstein se ligbuiging om ‘n groot ruimtemassa het die pad voorberei vir Edwin Hubble wat die Oerknal ontdek het in 1929, en vir swart gate (black holes) waarvan die eerste een se werklike effek 6 000 ligjaar van die aarde, in 1972 ontdek is.

My volgende skrywe sal oor die tetrapode gaan.

Excelsior!

Jan Viljoen

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top