Bokomo-brekfisbrief; 03/07/09: 'n Pool in Donker Afrika

  • 0

Ek het die afgelope twee weke die voorreg gehad om 'n kollega van Pole deur die land te vergesel. Elke keer wanneer 'n kollega my besoek, hanteer ek maar die reisreëlings. Ek het al vantevore my kop gestamp toe iemand by 'n hotel net buite Hillbrow bespreek het. Dan kan veral die Britte nogal hardkoppig wees, en ek kry gereeld die horries as hulle besluit om "gesuit" en "getie" met hulle skootrekenaar oor die skouer die middestad van Johannesburg te gaan verken.

So land die Poolse dame in haar vroeë dertigs met haar spierwit vel en blonde hare in Johannesburg. Ek reël dat die hotel haar by die lughawe oplaai. Die vorige dag het sy effens histeries geklink oor die vooruitsig om deur hierdie "barbaarse" land te toer. Allerlei vrae word aan my gestel:

- Is daar OTM's?
- Is die kraanwater drinkbaar?
- Is daar hospitale?
- Watter tropiese siektes doen die ronde?
- Hoeveel mense word jaarliks in Johannesburg deur olifante vergruis, ens?

Ek laat haar maar die jet lag afslaap en kry so ongeveer vier uur die middag 'n opgewonde oproep. Johannesburg is so mooi! Sy wil iets gaan eet. Ek het haar nou wel in 'n hotel by Monte Casino ingeboek, en die pad van die lughawe daarheen is nogal aanskoulik. Dit is net moderne kantore en flitsende advertensieborde waar jy kyk. Ek neem aan sy het regs gekyk toe hulle verby Alexandra gery het, maar ek voel nogal heel ingenome oor haar positiewe ervaring.

Ons gaan eet by 'n Italiaanse restaurant in Monte Casino. Sy vertel my dat Johannesburg glad nie is wat sy verwag het nie. Dit kan enige stad in Amerika of Europa wees, meen sy. Sy verorber 'n voorgereg, hoofgereg, nagereg en 'n bottel rooiwyn. Die kos is die beste wat sy in jare gehad het.

Die volgende oggend rits ons verby Dainfern op pad Pretoria toe. Sy pluk die kamera uit en neem vir die vale foto's. Sy kan nie glo watter rykdom in Afrika skuil nie. Hoewel ek gepoog het om haar regs te laat kyk toe ons die Diepsloot-plakkerskamp slaan, pak sy vinnig die kamera weg en haar mond hang oop. Ons bly stil. Tien minute later bieg sy dat sy geglo het die hele Johannesburg lyk soos Diepsloot. Ons begin gesels oor armoede in Afrika, asook ander lande insluitende die VSA en Europa. Sy toer gereeld deur Roemenië en Bulgarye en het al soortgelyke tonele teëgekom.

So vlieg ons twee dae later na Kaapstad. Die Pool is in haar element. Ek volg haar Facebook updates. Dit is net Kaapstad is pragtig. Hierdie land is pragtig, ens, ens. Sy plak tot 'n link na 'n plaaslike advertensie op haar wall.

Die naweek besoek ons Kaappunt, Kampsbaai en kyk pikkewyne by Boulders Beach. Suid-Afrika oortref al haar verwagtinge en sy sal beslis hier kom vakansie hou.

Na besoeke aan Oos-Londen en Durban vlieg ons terug na Johannesburg. Ek laai haar by die hotel af. Net voor die hotel stop ons by 'n verkeerslig. Ons is stil. Skielik pluk 'n swart man by die verkeerslig sy skaamdeel uit en begin doodluiters water af te slaan. Ek bloos rooi. Sy bloos rooi. Ek weet nie wat om vir haar te sê nie.

Na ons so rukkie later weer tot verhaal kom, sê sy heel kalm: "So, hulle is tog so welbedeeld as wat almal sê!"

Ek het amper die kar omgegooi van die lag!

Watter wonderlike, weird land het ons nie.

Groete

FB

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top