Met die lees van oester en Pouveer se briewe oor hul onderskeie onderwerpe wil ek ook graag my straaltjie in die stroompie maak. Hoe ouer 'n mens word, hoe helderder kom jou herinneringe terug. Snaaks, maar 'n mens is geneig om die lekker, eerder as die swaar of minder lekker tye, te wil onthou.
G'n wonder ek wou al die dop in die wêreld opsuip voorlat die kinners dit kry nie. Nou onlangs eers agter gekom dop het nie vervaldatum nie. Ek het saam met die Zoeloes grootgeword. Ingels was nie tweede taal nie, maar vreemde taal. Elke kind wat op daardie plaas gebore is, moes my oppas. Ek en die oemfaans het kaal in die suipkrippe geswem en voëls met ketties geskiet.
Ek onthou nog hoe ek en my broer eendag amper 'n loesing gekry omdat my niggie 'n swaeltjie met die windbuks geskiet het. My oorle' pa het geglo jy skiet net as jy honger is, maar 'n swaeltjie skiet jy glad nie. Ek het ook die simpel gewoonte gehad om klippe na alles (blikke, pale, klippe, ens) te gooi of te skiet.
Eendag kry ek die bevlieging en skiet een van my ma se Leghorns met die kettie en daar slaat die bleddie ding toe morsdood neer. Ek kon my nie uit daardie loesing praat nie. Ek het baie dae, as ek nie saam met my pa rondgery het nie, saam met die oemfaans die veld in gevaar en teen laat eers by die huis gekom. Ek het saam met hulle geëet, en was daar nie vervaldatums op daardie kos nie: dikmelk en mieliebrood, pap en vleis. Ek het magau ('n mieliemeeldrankie) gedrink, met geen bekommernis oor cholesterol, bloeddruk of allergieë nie.
Jy het alles gevreet want jy was honger. Jy het geloop, gehardloop en fiets gery om iewers te kom. Warm melk uit die koei se uier was ook nie te versmaai nie. Party wintersoggende in die warm beesmis gestaan, want ek en skoene was nie groot pelle nie. Al probleme wat ek gehad het, was om uit die moeilikheid te bly en skoon te gaan slaap.
Ek het die aand voor my mangels uitgehaal is, 'n moerse pak met die nat waslap gekry. My ma het kom inspeksie hou of ek skoon genoeg is. My pote was pers van die moerbeie wat op die grond gelê het waar ek die dag geloop het. Wat sou die dokter gesê het? Toe ek haar nog sê dat my mangels in my keel sit en nie onder my voete nie, is ek eers gemoer. Met my ma was jy nie parmantig nie.
Ek het dit darem tot so ver gemaak. Het gelukkig net goeie en lekker herinneringe. Die siekste wat ek al was, was nadat ek 'n "meatpie" geëet het. Die storie loop mos, die verskil tussen 'n "meatpie" en 'n kondoom is, daar is meer vleis in 'n kondoom.
Reusedwerg


