Bokomo-brekfisbrief; 03/04/2011: Donkiekarre doer in Kaokoveld

  • 0

As daar nou een ryding in Afrika is wat 'n standbeeld verdien, dan is dit die donkiekar.   Mense wat gerieflik lewe het nie 'n idee hóé belangrik so 'n donkiekar is vir 'n man en sy familie wat ver weg in die veld op 'n stuk grond bly en hulle moet ook maar in die dorp kom om te gaan kos koop en kinders by die skole kry nie.   As 'n man dan ook so arm is, is die donkie baiekeer nie die groot probleem nie, want mamma- en pappadonkie maak darem vir jou uiteindelik trekdiere, maar daai kar is 'n ander storie.   'n Groot belangrikheid is die as en wiele vir die kar.   Die's gewoonlik van die een of ander kar se agteras.   Nou weet julle sommer ook hoekom 'n verongelukte kar se karkas nie lank volledig bly so in ons wêreld nie, daai onderdele is van groot waarde.   As 'n man dan nou ook gelukkig is, dan kry hy sommer lekker bladvere saam met die as [dis hoekom die bakkie agteraste so gewild is] en stamp 'n man se gat darem minder as die donkiekar eers in bedryf is.   Maar as 'n man nie die vere het nie en die nood om te ry is hoog, dan moet die vere ook maar wag tot die dag wat jy hulle het.   Intussen stamp-stamp julle dan maar voort.   Hóé die aste onder daai donkiekar vasgemaak word, hang grootliks af van watter soort van bout is beskikbaar en die bouer van die kar se vermoë om onewe dinge te laat werk.

So ry oom Willem met sy ou stamper-boormasjien weg van die een plaas af op pad na 'n ander waar daar 'n nuwe boorwerk vir hom staat en wag.   Die boor is agterop so 'n ou stompkop Ford-lorrie gemonteer en het ook al sy beste dae in die klippe van die Kaokoveld gesien.   Hierdie ryery op die pad met al sy ysters en goete gelaai was nie die ou lorrie se sterk punt nie.   Dit het maar starrag gegaan want die lorrie het aanmekaar gekook en as die lorrie 'n bult sien, dan word hy sommer ekstra gou warm uit protes uit vir dit wat wag.   Doer op die lang bult net anderkant die Ugabrivier daar dreun die ou lorrie sy protes uit teen dié mishandeling uit en so kom hulle op 'n ou man af wat met sy ou vrou en twee klein kinders by hulle donkiekar sit.   Die kar is gelaai met kos en goete.   Van hulle drie donkies lê twee.   In hierdie wêreld ry mens mos nie net sommer verby nie en die ou man vertel vir oom Willem dat sy donkies gaan lê het van die moeg trek aan sy ou donkiekar wat nie te waffers gelyk het nie.

Oom Willem dag, wat de hel, die lorrie kan nie nog meer sukkel nie en hulle haak die donkiekar daar agter die lorrie se haak vas.   Daar is nie plek vir 'n muis op die lorrie self nie, so mense moet maar so agter op die donkiekar ry.   Hulle is te dankbaar en los al hulle donkies sommer daar want 'n donkie loop mos maar altyd self terug na sy huis toe.   Toe vat daai lorrie met 'n gebrul daar weg teen die bult uit en eintlik maak dit vir oom Willem g'n verskil aan die lorrie se swaar trek nie.   Hy raak naderhand lus vir 'n snaps, en sluk lekker diep aan sy bottel hardehout en nie lank nie, toe ry die boormasjien heelwat beter.   Heelwat makliker haal hulle die bokant van die bult en toe hulle oor daai ronding gaan en die afdraande slaat, toe loop Ford vir jou vorentoe!   Vir 'n slag maak hy darem 'n behoorlike stoffie agter hom en die lewe is vir hom 'n lied.   Maar toe kook die lorrie weer en hy stop om water te gooi en toe hy uit die lorrie uitklim toe sien hy doer agter op die pad kom die ou man en sy vrou aangeloop  met sakke in die hand.   Hierdie kant toe lê 'n as met wiele, daardie kant op die pad lê die donkiekar se lyf en agter sy lorrie is nog net die disselboom van die donkiekar nog vas.   Soos die ou man aangestap kom, seg oom Willem, so kon hy aan die beduie van die man sien dat hy nie te gelukkig is om sommerso op die pad afgelaai te word nie!

Ag wat, lag hy later, toe laat ons maar die lorrie behoorlik afkoel en so gaan haal ons die stukke van die donkiekar en daar sit ons toe langs die pad en herbou daai donkiekar veel beter as wat hy ooit was want by so 'n boormasjien is daar mos gereedskap, boute en ysters en goete.   Die ou vrou maak vir hulle kos op 'n vuur daar langs die pad en die kindertjies speel met die boor se snaakse goete.   Te lekker.   Toe daai kar klaar is en hulle haak hom weer agter die boor, toe loop stap daai lorrie met die donkiekar tot voor die ou mense se plek en die lorrie het waaragtig nie weer een keer gekook ook nie.

Dis ons droë land se mense ...

Namib

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top