Bokomo-brekfisbrief; 03/03/09: Audrey Blignault was nie 'n kerkbasaartannie nie

  • 0

 

 

Nie so lank gelede nie, was sy twee maal ouer as ek, maar ek is seker ons sou vriende kon wees. Sy was bietjie ouer as my ma wat ook nie ʼn basaartannie was nie. Verlede jaar, terwyl ek by Aardklop was, het ek gehoor sy is oorlede. Daar is juis ʼn vertoning aangebied oor haar lewe. Ek het vir my ʼn rooi rok gaan koop; so ʼn bonte, net om Emsie Schoeman te spite, want Emsie het geskryf dat mens nie as jy ouer word, bont mag dra nie! Audrey het haar vir seker nie aan konvensie gesteur nie, in elk geval net as dit absoluut nodig en in die openbaar was. Haar lewe was ʼn lewe vol kleur.

Ek het uiteindelik begin lees aan ʼn Blywende vreugde en dit voel of ek in ʼn sielsgenoot se geselskap is. As ek terugdink en probeer onthou wanneer ek haar essays begin lees het, wonder ek of dit op skool was, toe ek alles wat voorkom verslind het, of was dit toe ek, pasgetroud, in Botswana in die middel van die Kalahari, in ʼn park home na Afrikaans sit en verlang het? So stadig as ek kan, lees ek nou haar briewe, met groot genot wil ek elke woord koester asof sy aan my persoonlik skryf.

Ek gaan grawe in die boekrak, vind MER se briewe ʼn Kosbare Erfenis, saamgestel deur Alba Bouwer, Anna Rothman en Rykie van Reenen (1977). Op bladsy 80 is ʼn brief aan Mev Blignault, geskryf in 1944. Heel formeel. In 1951 is hulle al groot vriende en gee sy aan Audrey die volgende raad: "Pas nou op dat hierdie verlange" (om toegeneentheid te soek by mense) "jou nie laat sê wat bereken is om te bekoor nie, en wat jou gesonde verstand sonder jou begeerte om te streel miskien nie sou gesê het nie. Maw bly by die koue waarheid, en vra jouself, sê ek nou net so omdat dit so was of omdat ek graag wou hê dit moes so gewees het? Jou onmiddellike loon sal dan verminder wees, maar jy wen op die end, deur ʼn ootmoedige waarheidsdiens, groot rykdom ..." Vir my lyk dit asof Audrey die raad ter harte geneem het. Sy was doodeerlik, maar nie ongeskik of afbrekend nie.

Audrey skryf aan Elize Botha, oor haar eie werk: "Ek glo nie ek kan simbolies en veelvlakkig skryf nie. Ek ken ook nie mites nie. Ek kan wel oor seks skryf, maar ek bly selfs op hierdie late uur nog ʼn dissipel van die liefde, en seks sonder liefde verveel my vreeslik" (bl 148). Aan haar dogter Marie Heese (net so ʼn goeie skrywer) skryf sy: "Ek het so ʼn kak aan egosentriese skrywers en kunstenaars en ek het geen oordrewe dunk van my eie vermoëns nie. Trouens my selfvertroue het ʼn knou gekry en as Attie en julle my nie onderskraag nie, verloop my bietjie vermoë nou sommer" (bl 154).

Sy was ʼn formidabele vrou wat soos baie al geskryf het, mense aan die lees gehou het. Dit sal interessant wees om te hoor wat vandag se groot kanonne in die letterkunde van haar werk dink. Sal hulle dit letterkunde noem?

Ek trek by 1975, en wil verder gaan lees.

Vega

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top