Bokomo-brekfisbrief; 03/02/09: My klavier is nie kisplankies nie

  • 0

 

 

Klaviere span al vir so lank ek kan onthou musikale drade deur my lewe. Hierdie hoogs opgevoede kulturele "dames" wat selde ʼn pedaal verkeerd sal sit, trek my aan met die teenwoordigheid en identiteit so eie aan elkeen van hulle.

My fassinasie met klaviere het op vier jaar begin toe ons ʼn huis met ʼn klavier in gehuur het. Daar ontdek ek toe die wonder van op gehoor speel. Ons mag eintlik nie op die klavier gespeel het nie, want dit was "ander mense se goed". Eendag sê ek toe maar ek wíl daardie musiek speel wat hulle op die draadloos speel, en gooi so ʼn tantrum dat my ma uit radeloosheid maar die klavier oopsluit.

Erg opgewonde respondeer ek toe met ʼn onvoorbereide uitvoerinkie van "Never on a Sunday" vir die hoogs-verstomde gehoor van ma, pa en twee sussies. Die drie verkeerde note het ek sommer onmiddellik self gekorrigeer.

Dit was baie stil nadat ek klaar was en ewe kordaat die klavier toegemaak het. Ek het nie gedink dit was oulik of vreemd nie en het buite gaan speel. My ma het my later geroep en gevra hoe het ek geweet watter note om te speel? (Syself kon pragtig speel uit musiekboeke, maar glad nie op gehoor nie).

Ek het nie toe geweet wat om te antwoord nie en ek weet vandag steeds nie. Dis net asof die note in my kop kom lê terwyl ek die musiek hoor. As ek dan voor die klavier gaan sit, weet ek watter note ek moet speel. Van toe af het ek gereeld nuwe deuntjies op die huurklavier gespeel.

Na ons verhuising na ʼn ander blyplek het ek verskriklik na die klavier verlang. Ma het belowe ek sal nog eendag my eie klavier kry en ek het, maar eers omtrent agt jaar later.

In die laerskool in Windhoek was daar twee vereistes om musieklesse te neem: jy moes musikaal toets en ʼn oefenklavier hê. Ons kon nie toe ʼn klavier bekostig nie, maar die juffrou reël toe dat ek twee middae per week by ʼn mede-musiekleerling se huis gaan oefen. Reg van die begin af was die oefendae niks lekker nie. Ek moes vier blokke ver stap om weer op "ander mense se goed" te gaan klavier oefen. Daar was nie tyd vir enige gehoorspeel-musiek nie - dit was toonlere, bladlees, stukke oefen, niks meer nie.

In st 5 kom ek op ʼn dag van die skool af en daar staan hierdie pragtige swart klavier in die sitkamer. Óns s'n - myne! Niemand kon verstaan waarom ek nie dadelik wou hoor hoe sy klink nie, maar ek moes eers agter die huis gaan skuil tot my oë hulle weer kon gedra. St 5-seniors is nie veronderstel om oor ʼn klavier te huil nie. O, die vreugde van ʼn eie klavier wat ek tot dreunens toe kon speel dat selfs die onderwoners van die begraafplaas verder af in Leutweinstraat my seker kon hoor!

Toe volg ʼn ondenkbare ramp tydens die laai van ons trek Republiek toe aan die einde van my st 8-jaar. Die trekmense laat val die swaar klavier by die stoeptrappies af. Net so, ghoep, daar gaat sy. Sy breek oop soos ʼn granaat en laat trillend vals pynklanke diep uit haar binneste los. My pragtige klavier, grasieus en route vir pianissimo's en piano forte's in die Republiek van Suid-Afrika, word binne een voetglip gedemoveer tot kisplankies. Ek was ook stukkend en het nie verder musiek geneem in my nuwe Republiekskool nie. Baie jare sou verloop voordat ek weer ʼn klavier my eie kon noem.

Vir sewe-en-twintig jaar was ek klavierloos en sonder die notestukkie van my siel. Toe begin my jongste dogter die laerskool-musiekkringloop: die tweede vereiste is dat sy ʼn klavier moes hê ... Ons begin soek na ʼn geskikte klavier en sukkel om een te vind wat nie die bankbestuurder ʼn blues-aanval sal gee nie. Uiteindelik bel ons klavierstemmer-kontak - hy weet van 'n oefenklavier - "a very old lady, but still in fine practising form." Ek gaan kyk, bevoel haar, bespeel haar, raak verlief en koop haar summier teen ʼn verspot goedkoop prys omdat die eienaars van haar ontslae wil raak.

Sy's al die tyd toe g'n hierjyse klavier nie. Sy't wie weet waar al orals gereis. Sy's voor konings uitgestal en op gespeel. Haar koninklike pedigree verskyn in vier stempels op ʼn plaatjie aan die voorkant: (1) WELTAUSSTELLUNG 1875; (2) FRANZ JOSEPH 1 V OESTEREICH KONIC V GÖKMENECT APOST. KONIC V UNSARN; (3) WILLEM 111 KONIC DER NEDERLANDEN HOOCE BESCHERMHEER VAN DE TENTOONSTELLING; (4) UITVOERHANDEL TENTOONSTELLING AMSTERDAM 1883.

Die grand old lady is nou al tien jaar lank deel van ons familie. Ek is gek na haar, speel en streel haar, piep haar op, laat haar op die regte plek teen ʼn binnemuur staan en behandel haar elke dag met die respek wat ek dink sy verdien.

Daarom was ek so vies toe ʼn skrynwerker wat ʼn kwotasie vir ingeboude kaste kom gee, voor haar vassteek met hierdie gruwelike belediging: "My magtag, is dit julle wat destyds die ou stuk scrap gekoop het? Ons kinders het te gevorderd begin speel en ons het toe ʼn splinternuwe klavier gekoop. Sy's nikswerd, jong; klaviere se waarde verminder hoe ouer hulle word - dié een is dan al kisplankies!" Ek het niks gesê nie, maar meneer carpenter het toe nie die kaste gedoen nie.

Ek het eers later besef waarom die insident my so onthuts het. Die ou klavier parodieer ontstellend wat dikwels met mense ook gebeur wanneer hulle oud word. Hulle word beskou as uitgedien en word vervang, maak nie saak hoe kundig, berese, belese of goed opgevoed hulle is nie. As jy oor die muur is, is jy vermydensver oor die muur, oor en uit.

Ek wens net julle kon hoor hoe pragtig speel ou kisplankies nog.

Groete

Douwleen Bredenhann

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top