Beste Kobus,
Ek bedank jou vir die opregte navraag aanrakende my skildklier.
Kyk, op my ouderdom is ʼn ooraktiewe skildklier eintlik maar ʼn vulletjie vergeleke met die ander pyne en ellendes waarmee mens opgeskeep moet sit. Ek is na dese van mening dat ooraktiewe skildklier blameer word vir alles waarvoor die medici nie ʼn antwoord het nie.
So tien jaar gelede het ek eendag spontaan begin bewe en in die verskriklikste sweet uitgebars. Ons was nogal bekommerd dat ek Parkinson se siekte onder lede het, maar na verskeie toetse wat derduisende rande gekos het is die skildklier blameer. Toe ek later jare begin sukkel met my blaas, moes ek allerlei aaklige dinge deurmaak. Jy weet mos hoe gemolesteer ʼn man voel as ʼn ander man met jou privaat dele vroetel. Daar is pypies gedruk in plekke waarvan ek nie eers voorheen bewus was nie. Na die marteling en homoseksuele molestasie is ek meegedeel dat ek moontlik die bed natmaak vanweë my ooraktiewe skildklier.
Wat my die meeste van die hele proses begin pla het is die derduisende pilletjies wat hulle my begin inprop het. My simptome het vererger. Ek was pal flou in die dag, en kon saans weer nie aan die slaap raak nie. Die bewerigheid het vererger en ek het soos ʼn seisoenale mynwerker begin sweet. Ek sal nie verbaas wees as ek effe seniel begin raak het daarby nie. Spierspasmas, diarree, angsaanvalle en naarheid was ʼn daaglikse werklikheid. Elke keer wanneer ek die arts besoek het, het hy die skildklier blameer en ander pilletjies probeer. Tot ek op ʼn dag besluit het, dat ek vandag al hierdie pilletjies in die asblik smyt, en as dit dan nou my tyd is om die tydelike met die ewige te verwissel, kan ek ten minste daarmee vrede maak. Ek het nogal gewonder hoekom mense hulle lyding so wil uitstel. Ek het begin aanvaar dat die menslike liggaam nie gebou is om so lank uit te hou nie, en het geglo dat mense van my generasie, liefs moet plek maak vir nuwe asempies.
ʼn Week nadat ek egter die pille gelos het, het die vreemdste ding gebeur. Ek het die oggend wakker geword en skeetloos in die tuin begin rondhuppel. Geen sweet, geen tamheid en geen angsaanvalle nie. Selfs vandag nog is ek baie beter af as die paar jaar wat ek op medikasie was, alhoewel ek steeds elke tien minute moet piepie.
Ongelukkig sukkel ek nou met ʼn heup en sal die gedoente moontlik moet vervang. Die pyn is nogal ondraaglik, maar ten minste is dit een spesifieke pyn wat nie al hierdie vreemde onverklaarbare simptome van vroeër insluit nie. Ek drink maar so af en toe ʼn disprin om die pyn te verlig, en alhoewel vroulief die stuipe kry, weier ek om weer ʼn pilvraat te raak.
Ek probeer om elke oomblik van my lewe te geniet, en as ek dalk môre nie meer hier is nie, kan ek ten minste sê dat my laaste paar jaar met ʼn sober, onbedwelmde brein gevier is!
Groete
Johan Wiese


