In my ander kombuis maak rothko-sonne inbraak deur die traliewerk,
uitgeëet aan woorde by jou okkerneuthouttafel kraak ek weg in jou stoel.
Skielik was jy nie meer nie Boes. Twee dae terug het jy nog verjaar. Uit die
vier gaste was ek en my babadogter die enigste du Toit-bloed daar.
“Laat die kind huil,” het jy vir ons groentjies gesê en harder gebid.
Op die koolstoof van my gedagtes prut nog jou laaste lensiesop in die groot
swart erdepot.
Die Scrabble wat ons jou geskenk gegee het, het ons later in die huis gekry,
nog toegedraai. Ons vier speel nou elke Sondag daarmee; my seun wat jy
nooit sou weet nie ook.
Die vakmanskap van jou grafsteen se marmerpotte het losgekom. Ek hou
die klipkelke tydelik veilig hier by my - ag heretjie tog, deesdae raak selfs
kiste weg uit die grond, tot die dood moet met vlekverf toegerus word.
Ek moes wegstaan van ons vyf akkers grond oupa en jou huis met vensters
van onversperde lig. Vandag is die hele buurt ’n varktiet. Jou visdam het
soos jy gesê het bly lek - ek het alles en nog probeer - en die neutbome is yl
van dae. ’n Rukwind het twee weke voor ons voetsek die ou peerboom
middeldeur geskeur.
Ons nuwe grond is morge meer en rooiryk; grawe kalksteen borrel wit uit
elke gat, dertig plus spesies gras by laaste tel, selfs die seldsame
bobbejaanuintjie is maar een van vele ander knolle. Ploegtande het nog nooit
hier gebyt nie. In ons grasse is korhaan, grasuil, flapstert en patrys. In vyf
jaar se bome rinkink nuwe boorlinge: langstertjie, wewer, bokmakierie en
staalblouvink. Ons janfiskaal, ek lieg dit nie, het wragtie saam verhuis.
Ek wil ook voëls aanhou, nes jy, ek plant bome pleks van hokke bou
want voëls soos woorde en jy my oupa is vir die wind: voëls hoort nie
toegespan, woorde hoort nie saamgebind, in die mond waar mense nestel
moet mense vlerke vind.
Adriaan


