Bokomo-brekfisbrief; 02/11/08: Hoe om rassisme die hoof te bied

  • 0

 

 

In die vorige bedeling het ek gereeld gespot dat die ergste woorde wat jy in die nuwe Suid-Afrika gaan hoor, is "Hello, I am your new neiba." Maart 2003 hoor ek dieselfde woorde.

Langs my trek ʼn Xhosa-dame en haar seun in. Hy het nie damesvriende nie, net mans. Hulle praat ook verskriklik beskaafd met mekaar en praat oor goeters wat my vrou haar ore laat spits. (Soos modes en kleurskamas ens. Ek dink hy maak gordyne of so iets.)

In elk geval, Paassondag gaan ek kerk toe. Ek kom na die kerk by die huis en word meegedeel dat ons na die 40ste verjaarsdaggeselligheid genooi is. (Ek bly in die Ooste. Ons hou nie "party" nie, net gesellighede.) Ek laat toe weet met my vrou, dankie, maar nee dankie, dis Sondag. Om 14h00 arriveer die DDM's en 4X4's. Maandag om 15H35 vertrek die laaste gaste. Buurvrou kom vra om verskoning oor die ongerief van die luide musiek en motors wat oral geparkeer het.

Drie jaar later is ek ʼn Saterdagoggend gou slaghuis en drankwinkel toe. Wil ʼn stukkie wors na die rugby op die kole gooi. Kom by die huis en word toe deur die bywoner se meisie meegedeel die buurvrou wil my spreek. Ek antwoord, nee, sy moet met my vrou praat en stoom by die voordeur uit waar ek deur buurvrou ontmoet word. "Hello. You must come to my son's party. He became a man today. Come ova and have a drink with us."

Min wetende het die seun die afgelope twee weke in die middel van die winter in die Wendy-huis op die erf gebly. Daar het hulle hom gevoer en moes hy ook buite bad ens. (Mag volgens tradisie nie in die huis gekom het nie.)

Later die middag sluip ek, bywoner en sy pêl, oor na die bure toe. Ons word aangekondig en toegesing. Summier word ons ʼn bier in die hand gestop. Ek en die twee seuns maak deel van ʼn groep mans van sewe. Die res is sowat 20 dames. Almal in designer pakkies. ʼn Swetterjoel kinders in sweetpakkies en almal lyk soos teletubbies. Buurvrou se broer, wat, klink dit vir my, ook ʼn struggler was, kom nader en stel homself voor. Broer en ek staan hand om die blaas en los die land se probleme op.

Ek roep naderhand my vrou, bywoner se meisie en dié se maatjie oor die muur nader. Hulle word ook aangekondig en besing. Hulle word geel whiskies in die hand gestop (Johnny Walker Black Label). In ʼn stadium gaan haal broer die braaier, steek die vuur aan en bring ʼn skottel vleis en plak dit voor my neer.

Broer het so ʼn lastige systap aan hom en praat naderhand verskriklik onsamehangend. Om buurvrou en haar gaste hang die Este Lauder-reuk swaar in die lug. Ek en die teletubbies speel so tussendeur die braaiery op die gras. My familie verdwyn. Ek het nooit ʼn leë bier in die hand nie. Ek vreet daardie aand die lekkerste lamstjoppies en hou naderhand toespraak in Afrikaans, Ingels, Zoeloe, Duits en liefdeswoorde in Italiaans en Frans vir die jong man. (Alles gehoor op die verskeidenheid plate en CD's wat ek by die huis het.)

Onder luide toejuiging groet ek en sluip blinkgesmeer soos ʼn straatkat terug huis toe.

Ek is nog nie weer genooi nie.

"If you can't beat them, join them." My vrou sê ek het later meer as die bure geraas.

Reusedwerg

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top