Bokomo-brekfisbrief; 02/10/2010: Suksesvol deur die dal van doodskaduwee

  • 0

Ons het suksesvol deur die dal van doodskaduwee beweeg en bevind ons tans in Khartoum in Soedan.

Ons verblyf in Aswan in Egipte het redelik lank uitgerek omdat die veerboot tussen Aswan en Wadi Halfa in Soedan vir onbekende redes vir twee weke lank nie gevaar het nie. Dit het ons kans gegee om die tempels by Abu Simbel, sowat 250 km suid van Aswan, te besoek. Met die verhoging van die Aswan damwal sou ’n baie prominente tempelkompleks in die slag bly en het die owerhede besluit om die tempels en standbeelde na ’n nuwe terrein te verskuif sowat 65 m hoër en 200 m vêrder as die oorspronklike posisie wat onder die water se nuwe hoër vlak sou verdwyn. Die tempels is werklik indrukwekkend maar wat dit nog meer fassinerend maak is dat dit stuk vir stuk, klip vir klip afgetakel is en by die nuwe terrein opgerig is. Die tempels is aanvanklik deur Ramses II opgerig maar die naam van die kompleks is nou Abu Simbel. Abu Simbel was die naam van die seuntjie wat die tempels, wat deur sand bedek was, aan die argeoloë uitgewys het.

Die groot dag het uiteindelik aangebreek en die veerbote was gereed om ons voertuie en ons selwers na Wadi Halfa in Soedan te vervoer. Die aand voor die tyd het ons wonderbaarlik, deur middel van een van ons toerlede se kontakte, plek in die eersteklas-kajuite gekry en was ons dus minder avers tot die vooruitsig van ’n rit op die veerboot van hel. Die oggend vroeg het ons begin met die proses om die voertuie weer te deregistreer in Egipte en die nommerplate af te haal en terug te besorg by die owerhede. Daarna was dit doeane toe om die voertuie deur die uitvoerproses te kry. By verskeie geleenthede moes ons natuurlik baksheesh (die Egiptiese woord vir monitêre vergoeding in ruil vir die nie-deursoek van voertuie en die spoediger hantering van papierwerk!) uithaal om die proses aan die loop te hou. Sewe ure nadat ons begin het, is ons uiteindelik toegelaat om ons voertuie op die vlot te laai.

Saam met ons 4 voertuie was daar nog 6 ander voertuie en ’n stuk of 10 motorfietse van Europese Trans-Afrika reisigers wat, as gevolg van die lang tyd wat die veerbote nie geloop het nie, in Aswan opgehoop het. Al die voertuie en motorfietse kon nie op een vlot pas nie en 'n tweede vlot moes ingespan word. Ongeveer 15:00 die middag het ons redelik uitgeput die veerboot van hel met die pragtige naam Sinai bestyg.

As deel van die min uitverkorenes is ons na die eersteklaskajuite begelei. Die kajuite het twee stapelbeddens in met geen venster nie maar is wel lugversorg – die probleem is net dat die lugversorging net één verstelling het van omtrent 15 grade Celsius! In hierdie donker koue hokkies het die mees onsmaaklike reuk (ons het dadelik besef dis hoe dit in die doderyk moet ruik!) gehang wat ons nie met mildelike spuite deodorant en groot hoeveelhede naskeermiddel kon verdryf nie.

Die ablusiegeriewe was ewe afgryslik en is dit slegs in absolute noodgevalle gebruik.

Op die onderste vlak was daar sitplek maar die omstandighede het ons baie aan die ou geleiskepe van weleer herinner.

Na ’n besoek aan die ander Trans-Afrika reisigers wat tweedeklas reis en hulle maar op die dek moes tuismaak, het ons besef dat tweedeklas en eersteklas maar baie relatiewe begrippe was.

Die volgende oggend 11 uur was ons in Wadi Halfa en is ons deur Machied (ons kontak in Wadi Halfa) ontmoet en na sy gastehuis geneem met ’n Land Rover wat na 40 jaar steeds op sy pos is.

Die gastehuis het bestaan uit Machied se eie slaapkamer met twee beddens in (wat hy goedgunstiglik ontruim het) en ’n verdere 10 beddens wat oral waar ’n skadukol is staangemaak is. Die badkamer het uit ’n Arabiese mik-en-druk toilet (soortgelyk aan die Sinai se toilet) bestaan en twee 150 liter dromme met water in wat jy met behulp van leë plastiese houers oor jou gooi om te was. Dit was egter so warm dat die natgooi met die koelerige water ’n absolute wonderlike ervaring was.

Daar was teenstrydige inligting oor wanneer die voertuie sou aankom aangesien die vlotte deur ’n sleepboot gesleep word wat geen navigasietoerusting het nie en dus nie in die nag kan ry nie. Ons het ons reggemaak vir ’n lang warm wag. Die Stieg Larsson-trilogie, wat uiterste genotvolle leesstof is, het hier wonderlik te pas gekom en die wonderlike Machied en sy familie het ons op tipiese Soedannese gasvryheid onthaal en versorg. Kort na 11 uur die volgende dag het Machied ons triomfantelik meegedeel dat danksy die volmaan, kon die vlot met die voertuie deur die nag vaar en kon ons die moeisame doeaneproses gaan begin. Ons is terstond af hawe toe om ons voertuie van die vlotte te gaan afhaal. Elke voertuig wat aan land gebring is, is deur ’n luide gejuig van die omstanders begroet. Met Machied se invloed en die nodige baksheesh het ons uiteindelik die voertuie deur die doeane gekry sonder om iets oop te maak of af te pak.

Alkohol is natuurlik heeltemal verbode in Soedan en daarom het die flessie Bells wat ek by Jordanië se belastingvrye winkel gekoop het soveel beter afgegaan toe ons saam met die 5 Europeërs, wat saam met ons by Machied tuis gegaan het, ons hereniging met ons voertuie gevier het.

Voordat ons die volgende oggend vetrek het het ons eers 'n groepfoto van ons sewe saam met die 3 Iere, 1 Duitser en 1 Hollander en natuurlik Machied geneem om ons genoeglike verblyf en samesyn te verewig.

Na die uitruil van adresse en uitnodigings om by ons oor te bly wanneer hulle in Suid-Afrika kom het ons die 1200 km lange rit na Khartoum aangepak. Dis ’n rit deur die onherbergsame Saharawoestyn en oral langs die pad is waterkruike met koue water vir die moeë en dorstige reisiger. Dit is skynbaar ’n projek van die Soedanese Regering.

Die aand het ons heerlik in ons daktente in die stilte van die Saharawoestyn deurgebring.

Die volgende dag is ons via Meroe Royal City, met sy bykans 200 piramides, na Khartoum wat by die samekoms van die Blou en Wit Nyl geleë is.

In Khartoum moet ons eers visums vir Ethiopië kry en so gou ons ons paspoorte weer in ons hande het reis ons na Addis Abeba in Ethiopië waar ons hopelik weer verder sal berig.

Groetnis,

Thomas

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top