Bokomo-brekfisbrief; 02/10/09: Die nuwe Supreme Court in Londen vat oor by die Law Lords

  • 0

So stilletjies is merkwaardige veranderinge aan die plaasvind binne die Engelse reg. In 2005 het Tony Blair aangekondig dat Lord Foster die nuwe gebou vir die Supreme Court in Londen sal ontwerp. (Sien die fotogalery van die nuwe hofgebou.)

Vir Suid-Afrikaners wat nog altyd gewoond was dat daar laer howe is en hooggeregshowe met 'n Appèlafdeling waarna appelleer kon word, mag dit miskien bietjie verwarrend wees. Hoe nou? Het die Britte dan nie 'n Hooggeregshof nie?

Die Westminsterstelsel is 'n konstitusionele monargie gebaseer op klassestelsel. Dit weet ons almal. Soms dryf ons ook bietjie spot met die Britte se klassebewustheid. Wat min mense weet, is dat die howe en aanstelling van regters ook tot nou onlangs deur die verskillende klasse beheers is. So mag die monarg regters aanwys vir die King's Bench of die Queens' Bench ('n hoër hof) op advies van die eersteminister of die Lord Chancellor. Die House of Lords het weer hulle sny van die koek gekry met die Law Lords wat hulle mag aangewys het, terwyl die House of Commons via die Home Secretary (nou justisie minister) weer landdroste van die laerhowe mag aanstel. So word die regbank dus deur die verskillende klasse beheers, en het die Britte dit selfs as demokraties beskou - natuurlik volgens die persepsies van 'n klasse demokrasie.

Van 2001 af het dinge begin roei in hierdie land wat soveel klem lê op tradisie en so verbete vasgehou het aan uitgediende konsepte ter wille van tradisie. Die Parlement het begin om al die koninklike prerogatiewe (die reg om regters aan te wys, begenadiging, die aanstel van kommissies van ondersoek, ens) behoorlik onder die vergrootglas te neem, en lyk my die meeste daarvan gaan nou afgeskaf word.

Nou val die Law Lords wat tot dusver as 'n tipe Appèlhof fungeer het ook. ‘n Nuwe Supreme Court gaan oorvat by die Law Lords. Hoewel dit een van die grootste veranderinge is ten opsigte van die Engelse hofstelsel is wek dit eintlik verbasend min opspraak. (Lees meer hier.)

Wat nogal interessant is vanuit 'n Suid-Afrikaanse perspektief is die volgende: Onlangs het die Johannesburgse Serjeant at Bar vreeslik gewag gemaak daarvan dat die ANC al die foute herhaal wat die Natte in die 1950s gemaak het. Dis nou al so 'n tydjie terug, en intussen weet ons nog steeds nie wie die nuwe hoofregter gaan wees nie, maar ons weet dat regter Hlope definitief nie 'n regter van die Konstitusionele Hof gaan word nie omdat hy nie op die Regterlike Dienskommissie se kortlys van nuwe moontlike regters is nie.

Ek haal nogtans aan wat die doemprofeet toe voorspel het omdat ek eintlik 'n ander punt wil maak:

"Consider the following. In 1957 Chief Justice Centlivres retired. The senior judge whom convention dictated should have been appointed chief justice was Oliver Schreiner, the great liberal judge of the time. But he was unacceptable to the National Party and Henry Fagan was appointed for only two years. When Fagan retired, the Nats appointed their chosen person - LC Steyn. Last week President Jacob Zuma overlooked senior judge Deputy Chief Justice Dikgang Moseneke and appointed Judge Sandile Ngcobo, who has less than two years left before he must retire. In the wings is the judge president of the Western Cape, John Hlophe. Could history repeat itself? Moseneke, like Schreiner a half a century before, is a fine judge, hugely respected for his legal achievements and in Moseneke's case a steadfast commitment to substantive democracy, which resulted in his being imprisoned at the age of 15 for political opposition to racist rule."

Nou, geen mens sal vandag stry dat Oud-Hoofregter LC Steyn 'n vreeslike positivis was nie. Hy was egter nogtans nie so 'n slegte regsgeleerde vir sy tyd nie en dit is nou waarlik nie so dat Engelse regters nie net sulke opperste positiviste was nie. Die hele lot het altyd gesoek na die "wil van die wetgewer" as hulle wette moes uitlê. Die rede was nie soseer dat hulle politieke lakeie van die regering van die dag was nie. Dit was die stelsel wat dit van hulle verlang het: Westminster is gebaseer op parlementêre soewereiniteit en binne daardie stelsel is nie die rol van die regters om oor wette te moraliseer nie. Dis 'n swakpunt van die stelsel en dit is toe op die regters geprojekteer. Hulle is vreeslik bygekom daaroor dat hulle "onmorele wette" aangewend het in plaas daarvan dat mens die wetgewer voor stok gekry het!

Maar die mites lewe voort. Soos die aanhaling hierbo aantoon is liberale Engelssprekende regters volgens hierdie opvatting gewoonlik die goeie ouens en alle Afrikaanse regters die "baddies". Ons het dit nou onlangs weer gesien het toe regter Kriegler uitgekryt is as 'n "apartheid judge" net omdat hy 'n Afrikaner is. Eintlik weet ons almal dat hy net so moedig was as regter Goldstone en dat hierdie aftakelende kritiek glad nie toe tref nie.

Wat ook die geval was, is dat daar in die vyftigerjare 'n vreeslike wedywering was tussen die Engelse wat met alle mag en krag soveel moontlik Engelse gemenereg wou invoer in SA en Afrikaners wat gemeen het Romeins-Hollandse reg troef Engelse gemenereg in alle opsigte. Lg skool van denke is veral deur prof JC de Wet van Stellenbosch verteenwoordig en dis ook die skool van denke van ou regter Steyn gewees. Daar is nog iets wat mens moet weet: Romeins-Hollandse reg is eintlik 'n vroeë voorloper gewees van die moderne regstate wat later ontwikkel het en die bekende Afrikaanse regsgeleerdes van daardie tyd het feitlik almal na aanvanklike opleiding in SA in Holland verder gaan studeer. Hulle was dus glad sulke domkoppe as wat die Engelse so graag wil voorgee nie. Hulle was egter vasgevang binne hierdie stelsel van parlementêre soewereiniteit.

Toe kom die waanidee van apartheid. Die Natte het allerhande trieks gebruik om apartheid te kon deurdruk en een daarvan was aparte kiesers lyste. Schreiner met 'n volbank van die Appèlhof het hulle in die knie gedwing - die wet as nie versoenbaar met die grondwet omver gewerp. Toe kom die NP op die idee om 'n regbank te skep bestaande uit die parlement sodat hulle in die toekoms die Appèlhof se uitsprake kon omverwerp - dit was die sg. "High Court of Parliament". Dié wet het regter Schreiner en die volbank toe ook laat kantel. Tereg ook.

Wat egter interessant is, is dat dieselfde hof twee jaar tevore gesê het dat Britse prerogatiewe en staatsregtelike konvensies ook in Suid-Afrika geld. As hulle dus konsekwent was, kon hulle eintlik geen kapsie gemaak het dat die parlement 'n eie hooggeregshof geskep het met 'n hoër rang as die Appèlafdeling nie, want in Engeland kon die House of Lords dit ook doen. (Dis egter nooit as argument in die hof geopper nie.)

Nee sê hulle toe: Die "High Court of Parliament" is glad nie 'n hof nie. Dis sommer net "parliament in disguise"! Nou wonder ek so in my enigheid: Wat se reg het hulle nou eintlik aangewend - Romeins-Hollandse reg?

Op die keper gesien kan mens dus vra: Was regter Schreiner werklik so 'n groot regter as dit om kennis van die Britse gemenereg wat hulle ingevoer het gehandel het? Hy was sekerlik 'n goeie regter, maar indien hulle Britse konvensies in bg saak aangewend het, sou hulle nie kon teëkap teen die "High Court of Parliament" nie. Is hy dan nog steeds 'n "great liberal judge" soos die serjeant na hom verwys as hy Engelse reg oorboord gegooi het en liewer logiese Romeins-Hollandse reg aangewend het?

Ja, en nou kom die Law Lords amper sestig jaar later ook aan die einde van hulle bestaan.

Siener in die Suburbs

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top