Bokomo-brekfisbrief; 02/09/08: Winkelsentrums en winkels, Yuri

  • 0

Winkelsentrums is goed en reg. Hulle dien ’n doel en skep werk en laat ons vergeet van ons begrotings en hou die kinders se verbeeldings aan die gang en laat die bankbestuurder sweet want die kredietkaart is hel oor sy limiet. Parkering is maklik al moet jy doer en gone stap en soek op watter vlak die kar gelos is. Verloor jy die kaartjie moet jy maar opdok, en gewillig doen ons dit maar. Tog, die hele gesinnetjie stap uit en almal loop met groot opwinding, want pa het ’n nuwe tool, ma het ’n nuwe sepie, en klogoed het al half begin oopmaak aan plastiekgewere en Barbie-poppe wat iewers in die tuin gaan rondlê. Almal kan nie wag om by die huis te kom en uit te pak en oop te maak nie.

Die vloere blink, die reuk van ICU hang in die lug en ek sien al hoe die kieme en kokkerotte die wyk neem. Nou wonder ek:

Ken hulle die reuk van pittekoffie? Ken hulle die reuk van ’n lampolie vrieskas? Bruinsuiker wat die neus so laat brand - die soort met die swart klonte in? Ou, muwwerige klerasie wat vyf somers terug in die mode was? Strassberger-skoene met tire sole? Vloere wat vars met jeyes fluid gewas is en waar die geplakte teëls al deurgetrap is? Of so met ’n brandewynbottel met gate in die prop gesprinkel is sodat die vloer nie te veel moet stof nie? Koerante van ses somers terug? Ou almanakke teen die agterdeur en ’n copy van die Arbeidswet (al is dit ook nou ’n jaar of tien gelede se weergawe)? Weet hulle nog hoe lyk ’n kardoes vol lekkers?

Weet hulle dat eens op ’n tyd alles in bruin papiersakke gekoop is? Jy weet, die soort wat jy so met ’n armruk moet oopmaak? Ken hulle nog van pretvet (of Mosselbos se welbekende beesvet) en hoe dit die koerant waarin dit toegedraai moes word so deurskynend laat raak het? Die rakke vol Lennons se doepas? Kerse elkeen toegedraai in sy eie bladsy van Die Burger? Ou Joko-advertensies iewers in blik teen ’n muur wat jare gelede al ’n paintjob moes gehad het?

Nee. Daardie dae is verby. Die dae van koffie brand en vet en broodknie en kerse en Versterkdruppels en Wit (of bruin of geel) Dulcies is vir ewig verby. En tog, terwyl ons nou vinnige koffie en designer brode en Eskom-krag en duur dokters en low fat kookolies het, wonder ek of ons nie dalk net TE geraak het nie? Het ons nie dalk net die kuns verloor hoe om regtig mens te wees nie, want vir als het ons een of ander groot en belangrike verduideliking en oplossing. Alles raak makliker. Vinniger. Beter.

Dok T, een van my helde in hierdie lewe praat gedurig oor hoe pieperig mense raak. As die kind hoes is dit apteek of dokter toe. Vroeër was dit borsdruppels met heuning gemeng, en terloops, dit is nog steeds die beste medisyne vir grieperigheid, al seg die slim geleerdes dit werk nie meer nie.

Waar het dinge so vinnig so drasties verander?

Ons het te grend geraak. Ons wil nie meer saam met "dronk Meraai" voor ’n toonbank staan en ons beurt afwag nie (al moet ons dit voor die express till in die hyper doen). Ons wil alles blink en vinnig hê. Ons weet nie meer wie ons kliënt is nie. Ons deel nie meer lief en leed en skinderstories en hartseer en lag nie. Ons raak nou modern, en so in ons moderngeit verloor ons die basiese: Ons medemens. Want Meraai is nou net ’n kaartdraende nommer wat ons jaarstate beter laat lyk vir gesiglose aandeelhouers. Haar menswees is met die swipe van ’n kaart weggeneem. Haar lief en leed is nou net nog ’n terloopse noem op ’n sypaadjie.

Die nuwe manier is sekerlik goed en reg, maar ek ril by die gedagte dat net die belangrike mense geag word deesdae. Want daar is nog soveel ongelooflike mense wat net name en datums op ’n goedkoop kruis in ’n toegegroeide graveyard is.

Ons raak so Grend dat Grendgeit ook later nie meer goed genoeg is nie en so soek ons maar.

So met ons moderngeit saam het ons die magic weggegooi, en iets wat weggegooi of verloor is soek jy vir ewig na. Pleks mense leef net. Dit is immers nie so moeilik nie.

Groete uit Oesterland

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top