Bokomo-brekfisbrief; 02/07/2010: eerste liefde

  • 0

Ek dink daar’s seker nooit weer so ‘n emosionele storm wat in jou binne-verwante woed soos wanneer daai eerste liefde jou inevitably verneuk met ‘n ander rokdraertjie nie. Ek onthou nog myne. Ek was so 15 en in standerd 9 (ja-ja ... graad elf, ek sukkel nog bietjie met daai ene). Ons was op ‘n Voortrekkerkamp (ja-ja, ek weet … ek het al veeeer paaie geloop ;-)) iewers in die huidige Limpopo (sien, ek onthou al dis nie meer Noord-Transvaal nie). Sy naam was Johan (dit is gelukkig anoniem genoeg) en hy was lank en blond en ek was onmiddellik smoorverlief. O, daardie high as jy besef hy stel in jou ook belang! Een aand langs die kampvuur het hy my nader getrek en so lekker nat soen op my mond gedruk … baie lomp en ondeurdag, maar o, ek kon daai aand nie aan die slaap raak in die armytent in my armyslaapsak met my passionkiller sweetpak aan nie! 

Die volgende twee dae was heaven, want hy het elke kort-kort my hand kom vat en dan het ons woordloos koers gehou, brakwater uit armybottels en boeliebief op provitas met smaak gedeel. Pure bliss!

Die aand voor ons huiswaarts sou keer besluit ‘n medevoortrekker (nie [meer] ‘n vriendin nie!) dat sy by die kampvuurkonsert een of twee van haar selfgekomponeerde suikersoet en melodramatiese (die groen monster praat nou) liedjies wil sing, begelei deur haar eie kitaarspel. Die girl kon! Dit was pragtig. Net daar raak al die hormonale 16-jariges op haar verlief, my blonde held inkluis. Op die bus terug hou hy toe HAAR hand vas, en my hart is gebreek, in stukke, ek wil nie meer leef nie! Die pyn was at least ‘n week soos lood in my hart. Toe ontmoet ek vir Hendrie …   

Karin

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top