Die vrou staan oorkant SARS, by die robot. Die robot word groen vir voetgangers en sy stap so semi-uitlokkend en met lang treë op haar hoë boots, amper asof sy net vyf treë hoef te gee om oor die pad te kom. Lang, lang bene wat onder die eng gekrimpte minirok so uitrek. Nonchalant, met ʼn sigaret tussen die voorvingers en die lang slingertreë oor die pad. Die hare lank en duidelik wit gebleik, dié maak sulke slaanblertse in die stap op die rug.
Ek draai regs af parkeergronde toe. Die vrou is duidelik ʼn stuk geskiedenis wat ʼn verhaal het om te vertel. Ek wonder oor die gesig. Hoekom ken ek die gesig, die mens wat die winter so aanpak met haar lang bene, wat duidelik op ʼn afstand sulke wit en rooi winterkolle uitslaan?
Ek wonder hoekom sou mens in die koue so skraps wou aantrek?
SARS is ʼn baie onvriendelike plek in die middestad. Tussen die honderde taxi’s letterlik en die geveg om parkering en almal wat jou bakkie wil oppas, is parkering ʼn stryd. Pretoria-middestad het geen persoonlikheid meer nie. Dit is nie meer die plek wat seker die mooiste vroue op ʼn hoop in die hele wêreld bymekaar het soos in die vroeë tagtigerjare nie. SARS se mense voor by ontvangs is onvriendelik, groet nie eens terug nie, luister jou uit en opdrag jou met “sign here, take the lift and turn left”; dis al kommentaar voordat jy na die kantoor verwys word.
Nou ja, wie wil in elke geval die ewigheid hier spandeer?
Ek bang hysbakke se drukpunte. Almal se vingers vat oralste aan hulle neuse en lywe en aan ander en dan moet ek daaraan vat. Ek weet mos mense was nie hul hande nie, skud net die gompoue met so ʼn lang slap trompie-trilling af en vat aan als en almal. Ek trappe maar op … kamer 211.
Daar weer is niemand in die hokkies nie. Die mense wat daar sit lyk of hul al ʼn ewigheid daar sit.
Toe ek omdraai om ook sitplek te soek, sit die vrou van die pad daar. Daar is vier stoele en daar is een langs haar oop. Ek gaan sit in die ry en kyk net voor my, merk die wit en rooi koue-kolle op die been van die vrou op en ʼn groot snymerk op die knie. Ek ken mos dit? Vanwaar?
Ek kyk nie vir haar voordat sy my “môre meneer” nie.
“Hallo”, antwoord ek en kyk vir haar.
“Onthou jy my nie meer nie, meneer?” vra sy.
Ek is verskriklik ongemaklik met die vrou en wonder vanwaar … “Het ek vir haar skoolgehou? Het ek vir haar klasgegee? Waar ken ek die gesig vandaan?”
Ek probeer nie dom lyk nie, ek probeer iets skerps uitdink om die ys te breek, maar ek kan nie want daar is baie myle op die lyf. “Jammer, dame, jy lyk bekend, maar wat is jou naam? Vanwaar ken jy my?”
Die oë verdiep, lag so effe en word dan sommer so ʼn titsel hartseer, teleurgesteld, en dan amper hoopvol … en skielik ken ek die kind van haar se gelaatstrekke.
“Meneer …” en ek kan die teleurstelling sien dat ek haar nie onthou nie, asof sy nie belangrik is en of was nie. Ek moet erken, groot ontsteltenis het my beetgekry …
Ek het vir haar man ook skool gegee … Hy het polisieman geword, hul lewe enkele jare gelede omvergewerp deurdat hy as forensiese ondersoeker een of ander gekaapte lorrie ondersoek het, waar die kaper met die kaping van die gif “hazard” tekens ontslae geraak het. Een of ander gas is met die ondersoek vrygelaat wat sy senustelsel aangetas het. Sy verduidelik sy toestand: hy is permanent ongeskik en sit vasgeknel in ʼn stoel, sy verduidelik van sy “moodswings” en sy depressie … en sy verduidelik van die groeiende kinders.
Ek het vergeet om te vra wat sy by SARS maak.
Ek is jammer dat ek soms nie begrip het vir ander mense se pyn en dit wat die lewe hul toedeel om te oorleef nie. Ek is jammer dat ek sommige vroue se vermoëns om te oorleef onderskat en veroordeel het op welke maniere, die perke wat hulle gaan om hul gesin en kinders te versorg verneder het. Ek is jammer dat ek ooit op ʼn manier neergesien het op vroue wat hul lywe gebruik om hul kinders te laat oorleef. Ek is jammer oor die swak oordeel en onbegrip wat ek soms aan die dag lê vir ander se pyn.
Pierre van Niekerk


