Liewe Meltvoet,
Só kan ek my darem nie laat uitlok en voldoen aan die gewone verwagting dat ek liewer moet onthou dat 'n toe bek 'n heel bek is nie!
Melt - jy, my dier - is 'n bokkapater van 'n heel oorspronklike aard. En vir julle wat hier lees, lees stadig en versigtig: Bokkapaters ... is ... altyd ... deurdrenk ... met ... testosterone.
Laat ek nou mooi vir jou uitspel waarom gebalanseerde goedgeoliede outannies nie meer as een ooghaar op 'n keer vir die jonger oom-modelle het nie. Ons sien hulle beslis raak. Ons kyk kompleet soos 'n fynproewer vir 'n geurige stomende beeshasie in blaardeeg sou kyk. Ons sien en ons proe toe-oog en ons onthou. Soms BAIE ver terug. Daar sal selfs liggaamsvloeistofklierstimulasie plaasvind wat erge aangename sensasies mag veroorsaak - dis nou natuurlik die kliertjies in die mond en tong wat maak dat kos lekker smaak ... wat het julle gedink? Siesa. A nee a!
Maar dan, dit sal by kyk en saliveer bly. Want ons gevorderde tannies is hoeka toegerus met 'n skerp steekpynherinnering van die ongemak wat die dorinkies van die turksvyblaarslaaitjie veroorsaak wat saam met die einste beblaardeegde beeshasie opgedis word.
Jy vang nie 'n vintage outannie twee keer in dieselfde strik nie.
Ons WEET van die refleksbeweging van weersin wat 'n tannieplooi in die testosteroonklier van jong omies veroorsaak.
En dan - 'n ou omie KAN ook baie jonk (BAIE JONK) en tog nog o so te paraat wees - soos daar duisende tannies gevind kan word wat toe-oog sal getuig.
As julle weet van so een wat nie 'n ring in sy neus het nie, laat my weet asseblief. En onthou, hierdie ou bokooi vreet nie in ander vrouens se blaarslaaibedding nie.
Liefdegroete,
Willa


