Sedert my kinders na Nieu-Seeland verhuis het, het my lewe nogal ’n ander rigting ingeslaan. Ek het skielik meer tyd vir myself, en dan ook vir vriendinne wat ek in die verlede maar min gesien het. Nou is dit ’n weeklikse gekoek en tee, ’n fliek hier en daar en allerlei ander sosiale aktiwiteite wat my kalender volmaak. So kom een van my beste vriendinne met die voorstel dat ek saam met haar by die gimnasium moet aansluit. Sy is heelwat jonger as ek en vreeslik wêreldwys en avontuurlustig. Ek het in my lewe nog nooit die nut gesien om jouself fiks te probeer kry in ’n sweterige binnenshuise kompleks nie. Dit is vir my baie meer aangenaam om daagliks in die tuin te spit, of kilometers ver te stap. Ek is beslis nie onfiks nie.
My vriendin het toe aangehou karring en ek het toe maar een maand se gratis lidmaatskap bekom net om die waters te toets. Die eerste dag, moet ek saam met haar op die hardloopmasjien oefen. Alhoewel ek ’n kranige stapper is, kan ek nie verstaan hoekom enige mens op een plek wil rondtrippel nie. Dan meet hulle nog jou hartkloppings met so ou simpel masjientjie wat die hele tyd staan en piep. Die hele doel van stap is tog om die buitelug en omgewing te geniet! Toe probeer ek maar die roeimasjientjie uit, maar nadat ek amper die kabel gebreek het, besluit ons om toe maar eerder in die swembad te spring. Ek het eintlik my doodgegril vir al die mans en vrouens wat so in die water spuug.
Toe my vriendin besef dat ek nie die eerste dag geniet het nie, stel sy voor dat ons "Taaiboks" probeer. Ek dink toe dat dit dalk ’n goeie idee sal wees, aangesien ek beslis volgende keer die barbaar wat by ons huis probeer inbreek ’n taai klap wil gee. So Taaiboks klink toe na ’n vorm van selfverdediging wat so reg vir ons boeretantes ontwikkel is.
Tot my spyt, het ek heeltemal die konsep van Taaiboks verkeerd verstaan. Eerstens was ons instrukteur alles behalwe ’n stoere boere-oom wat taai klappe uitdeel. Hy was een van hierdie boheemse mannetjies met ’n ponytail en ’n bikini pakkie! Toe moet ons allerlei Oosterse bewegings maak, en mens boks en skop so in die lug rond. Die instrukteur, het my ook die hele tyd betas, terwyl hy my help, maar ek is seker dat hy nie die tipe is wat belangstel in ’n ou (of enige) dames nie.
Toe ek uiteindelik klaar is met die sessie, vind ek uit dat die Taaiboks toe al die Thai-boks vanaf Thailand is. Hoekom my vriendin geglo het ek sou die een of ander Oosterse gevegskuns wou aanleer, gaan my verstand te bowe!
Tog is daar ’n nuwe wêreld om te ontdek. Ons gaan hierdie week rou vis eet en sy is vas oortuig dat "Jouga" (wat dit ook al beteken), my stresvlakke gaan verlig.
Groete
Tant Alie


