Bokomo-brekfisbrief; 01/12/09: Hemel en hel: 'n ware storie

  • 0

Eendag, nie so lank gelede nie, was daar 'n moeder wat haar doopgelofte baie toegewyd nagekom het. Sy het haar kinders Bybelname gegee en hulle in die vrese van die Here opgevoed. Elke oggend en aand is daar met Skriflesing en gebed huisgodsdiens gehou; darem nie gesing ook nie. Met elke maaltyd, dus drie keer per dag, is aan die begin 'n seëngebed en aan die einde 'n dankgebed gedoen.

Sondag was 'n spesiale dag. Kort na 7-uur in die oggend moes die kinders op hulle stoele by die kombuistafel sit en oor die radio na "die diens in die ateljee" luister. Van 10-uur af moes hulle in die kerk wees vir die erediens en van 11-uur af vir die Sondagskool. Op Sondag mag daar nie sekulêre koerante, tydskrifte of boeke gelees word nie; net stigtelike literatuur. Selfs skoolwerk mag nie op 'n Sondag gedoen word nie. Die meeste speletjies (bv met 'n bal) was insgelyks verbode. Ook die bywoning van Sondagaand se erediens was verpligtend. Wanneer die kinders in uitsonderlike gevalle op Sondag nie een of albei die eredienste in die kerk bygewoon het nie, moes hulle na die uitsending van 'n kerkdiens oor die radio luister.

Hierdie moeder het met oorgawe geglo aan die voorskrifte van die NG-kerk en het baie en ernstig vir haar kinders gebid. Die aardse lewe was vir haar hoofsaaklik 'n voorbereiding op die ewige lewe in die hemel. Daar sou sy na haar dood vreugdevol met al haar oorlede dierbares verkeer. Sy wou nie he dat enige van haar kinders versuim om in die hemel op te daag nie.

In die geval van een van haar seuns, Petrus, het die religieuse saad wat sy gesaai het in vrugbare grond geval. Die saad het ontkiem en 'n goeie opbrengs gelewer. Na skool is hy Kweekskool toe om in die teologie te studeer. Hy het 'n predikant geword wat kinders doop, heteroseksuele paartjies in die die heilige staat van die huwelik bevestig en die stoflike oorskot van mense begrawe nadat hulle siele hemel toe is. Hy sien die onsienlike en verstaan die onverstaanbare. As 'n herder en leraar geniet hy sosiaal groot aanvaarding. Hy pas in by die gemeenskap. Daar word gesê dat hy die smal weg na die hemel bewandel.

In die geval van die ander seun, Johannes, het die religieuse saad in ondeurdringbare aarde geval. Dit kon nie ontkiem en vrug dra nie. Hy het 'n groeiende vermoede gehad dat godsdiens bog is. Na skool het hy in die filosofie studeer om tot groter helderheid oor sy lewens- en wêreldbeskouing te kom. Daar is gefluister dat hy 'n ateïs is. Van sy vriende het soos mis voor die son verdwyn. Sy soort Afrikanerskap was nie vir die Broederbond aanvaarbaar nie. Hy kan selfs nie 'n lid van die ATKV word nie. Sosiaal is hy 'n volslae mislukking. Hy pas nie in by die gemeenskap nie. Daar word gese dat hy die bree weg na die hel bewandel. (Sommige gelowiges haat hom in so 'n mate dat hulle hom na groter verderf 'n ent anderkant die hel wil neem.)

Watter seun het die beste gekies? Dalk Petrus. Maar watter seun het die waarheid beet? Dalk Johannes.

Johannes Comestor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top