
"Ma", skree my vyftienjarige op die toppe van haar stem. Sy sien my in maande vir die eerste keer voor SABC / ETV Nuus. Ek breek amper my been om vinnig genoeg tot redding te kom.
Niemand anders as Carl Niehaus in persoon nie. In my TV-kamer. Opgewek uit die dode, opgestaan uit sy eie piramiede, segsman, vader, en laaste maar nie die minste nie, ‘victim' ... My maag trek sommer in ʼn bondel saam. Moet ʼn mens regtig na so iemand luister as segsman vir enige politieke party? My aand voel sommer minder lekker. Ek laat sak my moeë liggaam in my bad.
Toe besef ek dat ek deesdae nie so lekker Cope nie.
Ja, my ure lê vergete op die snelweg tussen Pretoria en Johannesburg. My motor lyk soos ʼn omskepte batchelor's flat. Ek eet, lees en werk my ure om op die snelweg. ʼn Vriend van my bied aan om my motor te was, en bietjie "reg" te pak. Ek is dankbaar vir hulp. "Los net asseblief my motivering-CD's sodat ek dit dadelik kan kry, en ook my botteljie Natura vir Shock, Anxiety and Grief." Hy bekyk my so, en toe lag hy. Ek loop sommer want wat sal ʼn man nou van sulke dinge verstaan?
So, vanoggend ry ek met nuwe moed. Tot Benztoy, ja, dit is die naam van die nommerplaat in sy silwer Mercedes Sport met afslaankap en Gucci-sonbrille kort-kort voor my injaag. Ek flikker my ligte om net te sê, asseblief, gedra jou en ry ordentlik! Dié boodskap word toe totaal verkeerd verstaan. Hy flikker vir my sy flikkers tot in Sandton. Ek laat sak my Naughty Girl-sonbrille, want hy ry so naby my, netnou sien hy dit sê "naughty" op die sykant.
Ek wonder toe of hy ANC-bevoorreg is, en/of hy dalk met die nuwe Cope is?
Toe weet ek ek is sommer lekker suur.
Eerstens vir al die bome wat daar in Pretoria se Universiteitsweg uitgekap word. Dit lyk verskriklik. Ek wou nog ʼn foto neem om eendag vir my kleinkinders te wys. Ek hoor my eie stem in die toekoms. "Ja, dit was die jaar 2008. 'n Pragtige laning van hierdie bome. Albei kante van die pad." Ek hoor stemmetjies wat vra hoekom en waarom, Ouma.
Vir blou-lig-motors wat die duiwel agter jou soek.
Vir gate so groot soos berge en gebreekte konstruksievoertuie.
Vir miskien-strepe op 'n teerpad van lank gelede.
Vir ongeskikte mense.
Vir Metropolisielede wat in afritte wegkruip.
Vir mense wat nie afsprake kan onthou nie.
Vir Kowus en Karel. Liewer net een sin hier.
Vir e-posse wat vra dat jy dit na tien of twintig mense moet aanstuur anders sal God jou vir ewig straf.
Vir games. Ek bel jou weer. Nooit weer nie.
Vir Alzheimers-vriende.
Ou mans met depressie wat sê daar is nie hulp nie! Bid nou saam met sulkes. Koop tog net hulle depressieboekie.
Vir Rooi Rose en hulle storie wat vir 13 jaar ʼn liegstorie was. Die Lisa-verhaal. Glo my, dink hierdie tydskrif wragtig vroue verdien so-iets?
Vrees-mense.
Nou lê 2008 ook amper vergete, maar ja, dalk bring die nuwe jaar ook vir my ʼn nuwe toy. In watter vorm? Maak dit regtig saak?
Miskien, net miskien, as ek vir Vader Krismis kan vra: 'n Benztoy met baie "spot lights", asseblief.
Helena Botha

