Jy weet wat ‘n loopdop is. Dis daai doppie wat jy vat wanneer jy agterkom dat jy totaal gekletter is en moet waai anders gaan daar probleme wees. Dis wanneer jouse liefie op ‘n sekere manier na jou kyk. Wanneer jou beste pêl nie meer vir jou grap lag nie. Wanneer, as jy die grap klaar vertel het, iemand die onderwerp verander. Dis wanneer jy en jouse liefie begin woorde kry en jy nie kans kry om joune te gebruik nie. Jy weet mos …
Hierdie storie het niks met ‘n loopdop te doene nie. Ek verduidelik maar net die titel.
Ons lewens is besig om te verander. Subtiel maar radikaal.
Lees ek ‘n boek. ‘n Baie ou boek. Die ding in my hand is omtrent 100 jaar oud. 1892 as ek die Romeinse reg lees. Die ding weeg ‘n ton. Lekker dik en effens verflenter. Verskriklik vervelig. Maar woes intellektueel.
Dis ook nie waaroor die storie gaan nie ek verduidelik maar nog net.
Tot onlangs toe het ek baie boeke gekoop. Boeke is duur en word al duurder. Die boeke wat ek koop pak ek in rakke of in bokse. Na ‘n ruk gee ek die wat ek nie so baie van hou nie aan die DBV. Hulle gee die wat niemand wil koop nie aan ouetehuise. Wat de hel die oumense met sommige van die goed gaan doen weet ek nie. Hulle gaan dit nie lees nie. Maar dit daar gelaat.
Die ding met boeke werk so:
Iemand skryf ‘n boek. Spandeer soms jare om die ding te skryf. Dis moeite.
Die boek word deur ‘n uitgewer gepubliseer. Hulle doen ook soms moeite. Redigeer en veg met die skrywer en maak syse spelling en taalgebruik reg. Druk dit, bemark en versprei dit. Die idee is dat mense dan die ding koop. Dit gebeur soms veral as die prentjie voorop die oog vang. Die uitgewers stuur dit aan resensente wat op almal se koppe kak. Hulle kan ‘n boek se verkope beduiwel of bevorder.
Die mens wat die boek koop leen dit aan ander en hulle lees dit ook. Soms koop ‘n biblioteek die boek. Of dit word voorgeskryf aan studente. Die uitgewer is dan baie verheug. Die studente lees dit soms. As daar ‘n fliek oor gemaak is, kyk hulle eerder daarna. Die boek vind dikwels ook sy pad na die ouetehuis. Mettertyd sterf die boek. Voos gelees of val uitmekaar of word verbrand. Dis dan weg. Dan koop iemand hopelik weer die boek.
Die verhouding tussen koper en lesers is ongeveer een tot vyf. Een koop dit en vyf lees dit. (Net ‘n raaiskoot.)
Nou steek ‘n ander ding sy kop uit. Die digitale boek.
‘n Digitale boek is net ‘n spul rekenaarkode. Dit kos niks. Enigiemand kan ene maak. Nou sit diegene wat ‘n geldjie wil maak uit boeke met ‘n probleem. Die goed hou lank. Vir altyd.
Omdat dit digitaal is, is dit maklik om te kopieer. Mens kan een kopie koop en baie kan dit lees sonder om te betaal. Die verhouding is nou sê maar een tot ‘n duisend plus. (Ek raai.)
Dit raak erger. Jy hoef dit nie meer regtig van die uitgewer te koop nie. Jy kan dit sommer direk van die skrywer koop. Daar is al ‘n hele paar ouens wat hulle se skrywes sommer direk digitaal aanbied. Dit gaan die norm word.
Dink net. Die uitgewer het nie meer moeite nie. Maar ook nie ‘n boek om te verkoop nie. Die versorgers het nie meer jops nie. Die drukkers kan nie meer druk nie. Die papiermense verkoop nie meer papier nie. Die DBV en die ouetehuise kry nie meer boeke nie. Die resensente is meestal rekenaardof en mense steur hulle nie meer aan hulle nie. My pel reken dis ‘n moerse boek, wil ek ‘n kopie hê, waar is jou stafie.
Mens moet nou nie die fout maak om te dink dat die uitgewers en diesoortige bedrywe heeltemal stokonnosel is nie. Hulle gebruik die FARTS-beginsel. (Forced ARTificial Scarcity - David Wong Oct 18, 2010)
Byvoorbeeld: Die uitgewer van die boek of die program skryf ‘n stukkie skelmkode wat kopiëring ontman of die boek veeg homselwers uit na ‘n maand of so. Dit neem ‘n koppige sestienjarige ongeveer ‘n week om die kode uit te torring. Daarna laai jy dit eenvoudig van die Net af en versprei na hartelus.
Dink net, die hele uitgewersbedryf wat miljarde bestee aan infrastruktuur gaan bedonner word deur ‘n digitale virtuele ding wat ongeveer R5000 kos. (Dit sluit die rekenaar in.) As jy reeds ‘n kopboks het, kos dit niks. En voor iemand op syse perdjie klim, wat is SêNet anders as ’n digitale boek? Tien jaar gelede sou jy ten minste R150 moes betaal om bv Oester of Williams se stories te kon lees.
Enigiemand kan alreeds ongeveer 133 000 hoëkwaliteit titels, van een uitgewer, gratis aflaai. Gratis. Verniet. Zip.
Ja, ek weet dat dit gatlekker is om ‘n boek in die hand te hou.
Ek bekyk my biblioteek van ‘n paar duisend titels en pik ‘n traan. My kjinners sal dit nie wil erf nie. Die wetter loop met ‘n elektroniese boek so groot soos ‘n A5-bladsy rond waarin hy meer kan bêre. En as hy ‘n boek nie meer wil hê nie druk hy “File- Delete” – die fokkofknoppie.
Ai tog.
HJ


