Liewe Stem,
Van dood en geeste gepraat. Jy vra wanneer gaan iemand dood. En ek voel om na aanleiding van jou brief te sê: "Ubuntu', Stem. Ubuntu - ʼn Mens is ʼn mens tussen ander mense.
Jy kan nie alleen lewe nie, want dan onthou niemand jou nie en is daar geen rimpel-effek as jy dood is nie. Jou boeties sal dalk eers saam met jou werklik sterwe.
Ek dink dis ʼn bietjie soos om een van daardie wonderlike goedjies binne in ʼn nawel-lemoen te wees. Ek kan nou nie op die woord kom nie, maar ek onthou hoe ek as kind nie kon wag dat my pa vir ons ʼn sakkie nawels van die dorp af bring en in die gang agter die voordeur neersit vir die wat wil eet nie. Almal wat in daardie deel van die Ou Transvaal grootgeword het - die suidwestelike puntjie, ook genoem die ‘Mieliedriehoek" - sal weet waarvan ek praat. ʼn Mens het net somervrugte daar gekry. Alhoewel daar eenmaal, lank gelede, aan die noordekant van die Gatsrand ʼn wonderlik optimistiese ou boer was wat sy plek die naam "Lemoenplaas" gegee het (waar daar nie ʼn enkele lemoenboom te sien was nie!), het ons net somervrugte geken.
Daarom dat ek die eerste lemoen van elke winter agter die huis in die sonnetjie gaan sit en afskil om met verwondering in my hart te sien hoe lê die korreltjies teen mekaar ingepak as ek die vliesie van ʼn skyfie netjies afgetrek kon kry. Elkeen van hulle met so ʼn stertjie wat na onder wys. My pa het geweet hoe om lemoene te koop. Sulke groot geuriges, met dik skille en stroopsoet daarby. Mens kon dit net met toe oë eet.
Dis wat ek dink, Stem. ʼn Mens lewe saam met die mense om jou in dieselfde ‘lemoen'. As jy soet is, sal diegene om jou ook soet wees. As hulle sou afsterwe, is jy nog altyd daar met hulle geur (smaak) binne jou. En jy dra dit aan almal oor - selfs aan iemand wat jou opeet!
Om ʼn ‘gees' te wees, bly éérs vir ewig daar. Want daar is nie ʼn taai velletjie of ʼn dik skil tussen geeste nie.
As ʼn klein korreltjie uit ʼn lemoen so soet en geurig (of suur en bitter!) kan wees, hoekom nie ook ʼn gees nie?
Liefdegroete,
Willa


