Bokomo-brekfisbrief; 01/07/08: My rekenaar, my muisie en ek

  • 0

Ek was al in die vyftigs toe ek vir die eerste keer ʼn rekenaar leer ken het. Vroeg uitgetree weens gesondheid, het ek bedags by die huis gesit en tob oor my omstandighede: ʼn minder as wonderlike pensioen, my ma wat die huishouding doen en swak en seniel begin word, feitlik geen vooruitsigte om weer ʼn werk te kry nie. So het ek al dieper in my leunstoel se kussings weggesink soos ʼn regte stoelpatat wie se lyf al groter word, maar die geesteswêreld kwyn en verval dieper in depressie. My vriend het darem die kookfunksie oorgeneem. Hy kon op ʼn manier kook, al was sy kooksels toe nog nie so lekker soos my ma se boerekos nie. Algaande het hy darem verbeter. Ek het die wasgoed oorgeneem, wat my darem een keer ʼn week iets gegee het om te doen.

Ek het gehoor almal praat van rekenaars en die internet – dit was in die latere 1990’s – en my lot bekla dat ek agterbly, ek kan nie een koop nie en sal dit alles seker nooit aanleer nie. Toe kom kuier my broer van Mosselbaai en haal vir my ʼn geskenk uit sy kattebak. Dit was ʼn ou rekenaar, ʼn 386 DX of so-iets, waarmee sy kleinkinders gewoonlik gespeel het as hulle by hom kuier. Vir mense wat nie weet wat is ʼn 386 DX nie, kan ek net sê dit is een van die voorgangers van die Pentium I, nog voor die 486 DX. Sy hardeskyf en verwerker se kapasiteit was maar bitter klein in vergelyking met die moderne masjiene. Die presiese syfers onthou ek nie, maar ek meen sy hardeskyf was so 50 Megagreep en sy verwerker se vermoë omtrent 66 Megahertz. Maar ek het dit gekry, volledig met muis en sleutelbord en kon op hom leer deur alles deur te kyk met klikke en dubbelklikke van die muis. Hy het Windows 95 en Office 95 op gehad. Daar was nog nie ʼn internetkonneksie nie, maar ek het taamlik deeglik geleer om met Word 95 te werk. Ek het selfs ʼn ou handboek oor Word 97 gekoop by ʼn opleidinginstituut en daarmee kon ek lekker leer werk met Word 95 – dit het geklop. Selfs geleer om ʼn “koerantblad” op te stel met kolomme en opskrifte in kleur en ekstra blokkies teks tussen die kolomme.

By die blote gebruik van die rekenaar het dit nie gebly nie. Soos my geaardheid maar is, het ek hom oopgemaak en sy binnegoed bekyk. So ook met latere rekenaars wat ek tweedehands aangekoop het. Soms tot my verdriet as iets ingegee het met my gepeuter. Maar vandag is ek nogal gekonfyt en kan ek kaarte (soos ʼn grafika kaart) uithaal en installeer en hardeskywe insit. My huidige rekenaar het ek ook tweedehands gekoop, ʼn moderne een met ʼn AMD-verwerker. Toe blaas die moederbord egter kort na ek hom gekry het – sonder enige hulp van my. Nou is hy feitlik splinternuut, want ek het ʼn nuwe moederbord en 2.8 Gigahertz verwerker laat installeer. Boonop het ek ʼn nuwe 80 Gigagreep hardeskyf en ʼn DVD-skrywer by die bestaande CD-skrywer laat voeg. Die gogga het my so erg gebyt dat ek byna roekeloos skuld maak of my bietjie spaargeld gebruik om my rekenaarobsessie te voer.

Na my moeder in 2001 op die ouderdom van 90 jaar oorlede is, het ek ʼn tweedehandse “dot matrix” drukker gekoop. Toe kon ek geesdriftig probeer literêre faam verwerf met kortverhale en selfs ʼn kort roman. Egter met bitter weinig sukses, en van die geld wat ek daarmee wou maak het niks gekom nie. Die ou drukker het my jare lank goed gedien en ek het dit eers omtrent twee maande gelede weggegee aan ʼn liefdadigheidswinkel (dierewelsyn). Veral toe ek ʼn internetkonneksie kry was die gort gaar. Met vreugdevolle entoesiasme het ek briefies afgestuur na ʼn ieder en ʼn elk. Maar ongelukkig min antwoorde gekry, want die ander mense werk en het nie soveel tyd om privaat briewe te skryf as ek nie. Die ontdekking van Sênet het darem weer vir ʼn ruk bevrediging gebring – my briewe is geplaas en ek het selfs soms reaksie daarop gekry, al was dit nie altyd in vleiende taal nie.

Hoewel ek teen hierdie tyd, meer as tien jaar later, nie meer so rekenaarverskrik is nie, help dit darem om op lomerige eensame dae die tyd om te kry. Al is dit net met die ingeboude speletjies soos Freecell en Solitaire. Ek kan nou rustig met my ma se ou naaimasjien op die lessenaar sit en ʼn hemp lap terwyl ek tegelyk vir virusse skandeer. Die muis en draad woel ek agter om die naaimasjien sodat die muis by my regterhand lê.

Groete,

Tiens Pretorius

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top