'n Week gelede kom Afrikaan met 'n moerse spoed om die draai gejaag. Hy hang aan die swart dikwiel Raleigh en trap vir 'n vale terwyl sy hempspante agter hom wapper in die plattelandse oggendson.
Die lewe is mooi.
Hy vat die draai by die konsistorie en mis net-net die sypaadjie. In die verbygaan sing die wiele en braaf gil Afrikaan vir almal wat wil hoor: "Duitsland wys hóé met Holocaust se erflating!!!" voor hy al trappende buite hoorafstand is.
'n Rustende Blou Makou skrik eers vir die klank en los so 'n los grys blerts op die gras voor die eendedam. Die eggo's van Afrikaan se gil tril teen die tempel se toring vas en verdamp dan.
Soos die wiele straat-af knars, gil Afrikaan: "Die Afrikaner en swart Suid-Afrikaners is en sal altyd 'n spesiale band hê deur die herinnering aan Apartheid. Apartheid steek ons Afrikaners in die skande. Ek buig voor die slagoffers, ek buig voor die oorlewendes, en voor almal wat hulle gehelp het om te oorleef." Á la Merkel. Á la Holocaust.
Blou Makou se aanvanklike skok wyk voor logika. Is die argument dus "apartheid = holocaust?!" vervies hy hom.
Toe Afrikaan dus weer om die draai kom, pos Makou 'n blerts daar in Afrikaan se rigting. Laasgenoemde se neus is teen hierdie stadium styf teen die silwer handvatsels en die blerts tref hom vol in die gesig. "Jy praat mos nou wat jou gesig bedek!" krys 'n gewalgde Makou.
Afrikaan spoeg 'n slag in Makou se rigting en gil "pedofiel!" Laasgenoemde skud sy vere reg en waggel rustig terug na die dammetjie.
Meteens begin die voorwiel van die dikwiel wobble ... Die horings van die handvatsels tril en ruk soos 'n een-silinder-Lister-enjin wat in die winter ontwaak.
Regoor Madeira's Fish and Chips (Special: Coke 2l @ R11,99) trap Afrikaan die backpedal met geweld: "Jammer vir die misverstand, en as ek my so swak uitgedruk het, neem ek volle verantwoordelikheid.
Alhoewel ons nie 'n direkte parallel tussen die twee misdade kan trek nie, leer die Duitsers ons in hierdie geval as Afrikaners 'n waardevolle les in hoe om daarmee om te gaan."
Hoe verder die makoumis oor Afrikaan se gesig loop en die voorwiel buite beheer slinger, hoe meer besef hy dat hy 'n klomp stront gegil het. Reg voor die bleddie konsistorie en oorkant Madeira's, waar die helfte van die dorp 'n mens kan sien as jy windgat jaag. Oulik as jy op spoed is, vernederend as jy sukkel om op die dikwiel te bly ten aanskoue van die tannies wat op die dorpstoep staan met melkterte en roomkoeke en wag vir die tuisnywerheid om oop te maak.
Nou, by nabaat, blyk dit dat hy te vinnig gejaag het en nie mooi gedink het voor hy gegil het nie. Hy kry 'n sinkende gevoel van selfverneuk soos hy wanhopig en al hoe harder op die backpedal klim.
Die laers kras en die ketting kners, maar die stryd teen swaartekrag word nietemin verloor en Afrikaan en fiets verlaat mekaar: "Die (wit) Britse regering en die blankes in Zimbabwe moet ook gedeeltelik, in 'n mindere mate, skuld dra vir Mugabe se haat teenoor wittes in sy land en oor die algemeen."
Hy gly, rol, rol en gly. Die dikwiel slaan sidderend en klingelend teen die advertensiebord van "Hope Liquors" vas en Afrikaan kom in 'n deeglike stofwolk teen die randsteen tot stilstand. Hy kug met 'n stoffie in die keel en kyk skamper om hom heen om te sien wie ooggetuies tot die petalje was. Die brandpyn hier by sy patellas rond vertel die verhaal van snye en Dettol-water en rowe.
Jy lieg weer, Afrikaan (AfriGerber?). Jy het 'n direkte en absolute parallel tussen die twee "misdade" getrek. Jy het jouself nie bloot swak uitgedruk nie en kan nie met 'n skoorvoetende "Mea culpa" die aftog blaas en die dikwiel gaan wegsteek nie.
Het iemand gedink makoumis sal die waarheid so goed kan ontbloot?
Bart Nel


