Oom Daan, ek dink nie jy hoef jou enigsins te kwel oor jou kritiek aan Katrien nie. Hoe kon jy weet dat haar boek voete gekry het en dat sy haar geheue uit die internet probeer verfris het? Ek dink dat persoonlike integriteit iets is wat mens nie so ligtelik moet opgee nie. So slyp mens aan mekaar en leer jy dinge.
Ons het almal woorde waarvan ons nie hou nie. Ek hou nie van ‘plagiaat’ en ‘okkultisme’ nie. Seker daarom dat ek jou kritiek ook nie as onaangenaam ervaar het nie, juis omdat jy nie die woordjie plagiaat benut het nie. As mens sien wát alles as plagiaat beskou word, en hóé sommige skrywers soms tekere kan gaan oor hulle ou pennevruggies asof die ideetjies wat hulle daar neergepen het so verhewe is dat niemand anders ooit ook tot sulke gevolgtrekkings sou kon kom nie, dan kan mens net jou kop in verwondering skud. Dis dié dat ek vir veiligheid sommer alles siteer – of dit nou ’n simpel stukkie “intergalaktiese skindernuus” is (Kobus) of ernstige wetenskap of koerantartikels.
Plagiaat is die spreekwoordelike byenes. Ek kan my veral opwerk oor mense (lees: mindere wetenskaplikes wat dink hulle is groot geeste) wat kom en werklike groot geeste (lees: ouens soos Einstein & Co) beswadder met gifpyltjies dat hulle “plagiaat” gepleeg het. In die konteks word daar bv graag verwys dat Einstein nooit sy relatiwiteitsteorie sou kon ontwikkel het, as dit nie vir Kaluza was nie en dat hy Kaluza nie eers siteer het nie. Die stommiteit van die tipe argument is natuurlik dat alle fisici van daardie era ten volle bewus was van Kaluza se bydrae en dat dit vanselfsprekend was dat Einstein se relatiwiteitsteorie op Kaluza se ontdekkings gebou het. Einstein self het nooit voorgegee dat Kaluza se deurbraak syne was nie. Hy het bloot daarop voortgebou. Dis hierdie tipe kleinlikheid wat my frustreer.
Dis natuurlik iets anders by skrywers waar een skrywer ’n ander een se idees steel of sommer die teks afskryf en dan voorgee dat dit syne is. Dit gebeur gereeld en kan nogal ’n uitgewer in ’n moeilike posisie bring ten opsigte van ’n skending van kopiereg. Die internet se kennisontploffing leen homself natuurlik ook tot misbruik deur studente en menige student moes al ’n doktertitel weer van afstand doen weens ’n ‘cut en paste’-stelery.
Die ander woord wat ek baie krities teenoor staan is ‘okkultisme’. Dikwels word ’n blote gebrek aan kennis gebruik om oënskynlik onverklaarbare dinge te diskrediteer of af te skiet op grond van vooroordele. Die ateïste is net so skuldig daaraan as gelowiges. Die Westerse wetenskap is met rasse skrede besig om al hoe meer dinge empiries en rasioneel te verklaar wat so maklik vroeër as ‘bonatuurlik’ afgemaak is dan in die boksie ‘bygelowigheid’ geland het - of erger nog, as ‘okkultisme’ bestempel is. Ons vergeet maklik watter greep die kerk in die Middeleeue op die psige van die mens gehad het en hulle spiritualiteit met allerhande tabu’s manipuleer het. Veral die protestante het dinge daarna dikwels baie ver gevoer met allerhande taboo’s. So is die mens se spiritualiteit al hoe meer geredigeer deur ’n samelewing wie se norme al hoe meer op die empiriese wetenskap, handel en materialisme begin konsentreer het en die spirituele element al hoe meer verwaarloos het. Die ander uiterste is weer New Age aanhangers wat alles vir soetkoek opeet. Dis asof die mense in ’n spirituele woestyn geland het, en net nog wil fokus op ‘onsigbare kragte’.
Ek is heeltemal bewus dat ek soms op ’n dun draadjie balanseer tussen wat alreeds wetenskaplik bewys kon word, en dit wat moontlik eendag bewys kan word, maar wat ek fisies ervaar en kan beskryf. Dit het lank geneem voordat ek bereid was om van my ervarings te deel, juis weens die stigmatisering daarvan. Die belangrikste dryfveer is egter vir my om te wys dat sulke dinge nie “bo-natuurlik” of “okkultisties” is nie, maar meestal rasioneel verklaar kan word. Dikwels kan mens sulke ervarings verklaar op grond van gravitasie, magnetisme, elektro-magnetisme, hoe breingolwe werk, wat bewussyn is, die akash of zero-point field, ens. Dis miskien ook een van die redes waarom ek liewer self my paadjie loop en wegbly van sekere tipe kursusse. Dis vir my belangrik om met ’n oop gemoed en ’n skeptiese natuur na antwoorde soek.
Een ding wat egter al deeglik in my wedervaringe geleer het is dat die spreekwoord “reality is stranger than fiction” baie toepaslik is.
Pouveer

