Boekresensie: The vagabond deur Frank Rautenbach

  • 0

Titel: The Vagabond
Skrywer: Frank Rautenbach
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796321589

“A memoir draws on selected anecdotes from your life to support a theme and make a point. For instance, if your point is how you came from some unlikely place to where you are now, you would choose scenes from your life to support that.” – Jerry Jenkins

In die voorwoord van sy boek omskryf Frank Rautenbach The vagabond as 'n “memoir” en motiveer waarom hy besluit het om hierdie roete en nie 'n outobiografiese roete te volg nie.

In die voorwoord berei die skrywer die leser kortliks voor op wat gaan volg en maak melding van 'n insident wat, soos “’n dief in die nag” sy opwagting gemaak het en sy lewe ingrypend verander het.

The vagabond kan in kort omskryf word as 'n reis wat met tye onverwagse kronkels en draaie loop, lig werp op die harde werklikheid van die vermaaklikheidsbedryf, die verhaal vertel van teleurstellings en onbeantwoorde verwagtings, en deurspek is van die skrywer se versugting na 'n dieper betekenis en God se hand in sy bestaan.

Die memoir skop af met 'n voorwoord wat konteks skep vir die skrywer se aanvanklike ontmoeting met die geloofsprediker, Angus Buchan. Hy verwys na 'n gesprek tussen hom en Buchan oor sy vertolking van Buchan se karakter in die Frans Cronje-film Faith like potatoes.  Hy deel met die leser dat Buchan hom gewaarsku het dat hy deur 'n vuurdoop sou gaan net soos die geval was met Buchan self, indien hy hierdie rol sou vertolk. Hierdie boodskap, vervat in die voorwoord, is 'n tema wat  deurlopend in die boek herhaal word en dit blyk dat Buchan se woorde in die skrywer se lewe waar geword het.

In die eerste hoofstuk vertel die skrywer van sy geboortedag en skets die agtergrond waarteen hy gebore is (Koue Oorlog-era, BJ Vorster aan die hoof van sake, ensomeer). Hy maak ook melding van sy geloofsperspektief en lewensbeskouing en noem dat sy geboortedag deur God vooruitbepaal is en dat elke individu 'n spesifieke lewensroeping en skeppingsdoel het vir ons tyd op aarde. Hy gaan egter 'n tree verder deur te noem dat elke mens by tye gekonfronteer word met gebrokenheid, onvervulde verwagtings en teleurstelling en dat dit menslik is om met  tye moedeloos te vra waar die Skepper se hand is en was in moeilike tye. Die skrywer noem ook dat hy self daar was en deur donker waters is, maar antwoord later in die teks dat swaar tye die menslike karakter versterk.

Iets wat opval, is dat die skrywer deurentyd die keuse maak om die positiewe raak te sien ten spyte van moeilike omstandighede, en erken dat hierdie gebeure hom as mens verryk het, nederig gemaak het en hom gebrei het tot wie hy vandag is. Hy vertel byvoorbeeld ook van 'n insident waar hy en twee vriende as tieners 'n naweek op 'n seiljag deurgebring het en onverwags in twee massiewe storms vasgevang was. Hy gee egter erkenning aan God se hand in hom en sy vriende se beskerming tydens hierdie insident.

Dit word later duidelik uit die teks dat die skrywer se verhouding met sy pa met tye problematies en stormagtig was, soveel so dat hy as jong tiener 'n vuishou van sy pa moes deurstaan wat tot geweldige skok en trauma gely het by die skrywer. Later in die teks vertel hy egter van sy pa se behendigheid as mediese dokter en die middelklasbestaan wat hulle gesin gevoer het, iets wat hy as 'n voorreg beskou. Rautenbach deel ook 'n versoeningsoomblik met sy pa voor sy afsterwe. 

Rautenbach het in Suid-Afrika naam gemaak in (onder andere) die plaaslike TV-reekse Sewende laan en Egoli. Hy het ná sy rol in Faith like potatoes 'n versoek ontvang van dieselfde vervaardiger om die rol van Hansie te vertolk in die film oor die legendariese krieketspeler. Hy vertel van sy toewyding aan die rol en die geweldige groei wat hy as akteur deurgemaak het. Ná 'n jaar se skiet aan die film het gebeure gevolg wat hom in 'n finansiële krisis gedompel het toe hy nie tydig betaal is ná 'n volle jaar se akteurswerk aan die film nie.

Sy planne om sy hand as akteur in die Amerikaanse filmbedryf te waag was teen dié tyd reeds gemaak en hy het geen keuse gehad as om dit deur te voer nie. Hierdie besluit het egter n beduidende impak op sy lewe gehad en die skrywer vertel hoe hy gedurende sy tyd in die VSA op die ouderdom van 40 een nag wakker geskrik het met 'n angsaanval (een van verskeie) en desperaat geroep het na God vir finansiële uitkoms en net nie meer geweet het watter kant toe nie.

Hy deel eerlik oor storms wat hy en sy eggenote Leigh in hierdie tyd moes deurstaan, dat hy in die VSA nagenoeg 10 000 km gereis het om oudisies af te lê sonder sukses en dat hy en Leigh in hierdie tyd deur geweldige geloofstoetse moes worstel, insluitende vier mislukte swangerskappe. Die skrywer bak ook geen mooi broodjies oor die vermaaklikheidsbedryf en filmbedryf in die VSA nie en daar word melding gemaak van die verraad en dislojaliteit wat gepaardgaan met 'n lewe in die kunste.

Ná maande se gespartel in die VSA en talle tweegesprekke met God en sy lewensmaat, is hy gedwing om sy “afgode” te bely en verantwoording te doen oor sy besluite rakende sy loopbaan en die feit dat hy nie weggestap het van situasies wat skadelik was nie, omdat hy glo hy vasgeklou het aan vals gode soos sy akteursloopbaan, die glans wat daarmee saamgaan en die volgende groot rol wat hy sou losslaan.

Tydens hierdie waterskeidingsmoment besef hy dat hy die monumente van glans in sy lewe moet agterlaat, moet pa-staan vir sy besluite en 'n vaste inkomste moet verdien om vir hom en sy eggenote te voorsien. Hy gaan soek werk en word aangestel as 'n taxibestuurder. Hy kry in dié tyd te doen met talle interessante karakters, maar hy kry ook tyd om nabetragting te doen. Hy besluit ná drie jaar om sy pos as taxibestuurder te verruil vir 'n faktotumpos by 'n kerk en hier word hy verder tot nederigheid gedwing wanneer hy met tye toilette moet skrop en vloere was. Hierna onstaan sy idee vir 'n boek oor sy wedervaringe en hy begin onder meer praatjies by kerke oor sy geloofsreis en oor God se werk in sy lewe lewer.

Dit is duidelik dat Frank Rautenbach 'n harde pad gestap het en nie skaam is om die lesse wat hy in donker tye geleer het vanuit 'n plek van nederigheid en weerloosheid met lesers te deel nie. Dit is verfrissend om 'n boek te lees waarin die skrywer op 'n eerlike wyse gesels oor die “superficiality” van die vermaaklikheidsbedryf en die vals sekuriteit wat op die oog af sukses meebring.

In 'n era waar selfverheerliking en selfdokumentering taamlik algemeen voorkom, is The vagabond 'n eerlike boek oor swaarkry, karakterbou en sommer net menswees. Dit verg moed om die waarheid te skryf ná 'n hou op die ken en bloed op die knieë. Om te deel oor afstof, opstaan en weer probeer met geen waarborg dat die volgende probeerslag suksesvol sal wees nie. Frank Rautenbach doen dit met 'n rou eerlikheid en kweek in die proses respek by die leser en laat 'n boodskap van hoop agter by die neersit van die boek.

*Die goeie nuus is dat Frank en Leigh teruggekeer het na Suid-Afrika en dat Frank op die ou end wél 'n rol in 'n top Amerikaanse TV-produksie getiteld Warrior wat eersdaags op die HBO Cinemax Channel te siene sal wees, losgeslaan het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top